ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Betaal gaan jy betaal

 

Die Zoutpansberger het bietjie gaan kers opsteek by kenners oor die moontlike implikasies wat die Hooggeregshof se beslissing, dat die toekenning van die tender vir die opstel van ‘n nuwe waardasierol vir Makhado (Louis Trichardt) onwettig en onregmatig gedoen is, vir belastingbetalers is.

Dié beslissing deur die Gautengse Hooggeregshof op 25 Julie het steeds huiseienaars en waardeerders in die war. Dit het ook nie gehelp dat die Makhado Munisipaliteit geweier het om meer duidelikheid oor die weg vorentoe te gee nie, deur bloot aan te dui dat hulle die saak as sub judice beskou.

Van meet af aan was die waardasieproses bevlek met kontroversie. Intussen het die nuwe 2014 tot 2018 waardasierol in werking getree.

Een punt waarby belastingbetalers duidelik nie verby gaan kom nie, is dat wetgewing huiseienaars verplig om erfbelasting te betaal, selfs al sou daar ‘n probleem met ‘n waardasierol wees. Hulle kan altyd, wanneer die probleem reggestel word, ‘n terugbetaling eis (indien daar nie inbetaal moet word nie).

Die vraag bly egter steeds: Is die nuwe waardasierol ‘n wettig afdwingbare dokument gesien in die lig daarvan dat die Hooggeregshof die toekenning van die tender in die eerste plek ter syde gestel het? In kort het waarnemende Regter D Dosio se uitspraak daarop neergekom dat die Makhado Munisipaliteit hul besluit moet hersien ten opsigte van die toekenning van die tender. Dit by implikasie kan beteken dat die waardasieproses dalk oorgedoen moet word.

‘n Kenner op die gebied van waardasies met jare se ondervinding in die bedryf, mnr. André Zybrands, het die Hooggeregshof uitspraak onder oë gehad en genoem dat dit belangrik is om te onthou dat slegs die toekenning van die tender ter syde gestel is, en nie die waardasierol nie. “Die afleiding is dus dat die munisipaliteit kan voortgaan om op die nuwe lys belastings te hef,” het Zybrands gesê.

Daar is deur talle kenners geargumenteer dat die munisipaliteit, met betrekking tot die hofuitspraak, die LUR van Plaaslike Bestuur moet vra om die vorige waardasierol te verleng. “Ek verneem egter dat die ou lys al minstens vyf jaar oud is, wat die maksimum leeftyd van ‘n lys kan wees. Artikel 32(1)(b) van die Munisipale Eiendomsbelastingwet bepaal dat ‘n lys ‘n maksimum leeftyd van vier jaar het. Die LUR vir Plaaslike Bestuur in ‘n provinsie kan slegs eenmalig die geldigheid met ‘n tydperk van een jaar na ‘n maksimum van vyf jaar verleng,” het Zybrands gesê. Hy voeg by dat Artikel 80(2) van die wet die LUR wel toelaat om die nie-nakoming van verskeie aksies en tydperke te kondoneer, maar onder andere kan die LUR “nie die geldigheid van ‘n lys vir ‘n verdere tydperk na genoemde vyf jaar verleng nie.”

Zybrands het gesê dat die verdere probleem waarmee die Makhado Munisipaliteit tans sit, is dat hulle nie ‘n munisipale waardeerder het om verdere uitvoering aan die wet te gee nie. Dit sluit verdere prosesse in soos aanvullende waardasies vir onderverdelings, nuwe geboue, ensovoorts. “Maar nog belangriker, wie gaan die besware teen die lys oorweeg en uiteindelik die appèlle voor die Appèlraad hanteer? ‘n Ander waardeerder kan tog nie instaan nie. As die munisipale waardeerder sou bedank of aftree, sal die assistent munisipale waardeerder normaalweg die posisie van die munisipale waardeerder oorneem, omdat hy bekend is met verskille basisse wat in die waarderingsproses gebruik is …. die uitspraak toon ook dat daar ‘n ooreenkoms bereik is dat alle kontrakte tussen die munisipaliteit en die tenderaar beëindig en gekanselleer word,” het Zybrands gesê.

Zybrands het gesê dat aangesien die Makhado Munisipaliteit in terme van die hofuitspraak die tenders moet heroorweeg, beteken dit as ‘n ander tenderaar aangestel word om ‘n “nuwe" lys op te stel, is die aanvanklike uitgawe van die eerste tender wat ongeveer R9,5 miljoen beloop, vir tender A en B,  verspilde koste.” Voorts, het Zybrands gesê, moet die munisipaliteit sy eie koste, sowel as die van die aansoeker in die saak betaal, wat alles uit die belastingbetaler se sak moet kom.

News - Date: 15 August 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: