ADVERTISEMENT:

 

Brandgevaarindeks.

Vure tans ‘n bedreiging

 

Te midde van die Soutpansberg-streek se brandverbodperiode bied die Zoutpansberger, in samewerking met die Makhado Fire Protection Association (MFPA), nou ook ‘n brandgevaarindeks aan lesers.

Tradisioneel tree daar altyd ‘n brandverbond in werking vanaf die begin van Augustus. Hierdie jaar het die streek egter al voor die tyd swaar gebuk gegaan onder tientalle verwoestende brande. Die eerste groot brand op 8 Julie het uitgebreek by die CheckOut winkel in Krugerstraat. Daarna is LTT Algemene Handelaars Waste Recyclers op 5 Julie ook deur 'n verwoestende brand in puin gelê. Volgens die bestuurder van die Makhado-brandweerstasie, mnr. Jack Ramalatso, is daar vir Julie al 36 brande aangemeld by die stasie. "Sedert die begin van die brandverbodtydperk het ons nog baie min klagtes ontvang," het hy Dinsdag gesê.

Ramalatso het weereens ‘n beroep gedoen op die publiek om nie gedurende Augustus, September of Oktober enige oop vure te maak nie. “Augustus is bekend vir sy droogte en kwaai winde – iets wat vure maklik buite beheer kan laat raak,” het hy gesê. Verder het Ramalatso boere, veral opkomende boere, gewaarsku om brandbane op hul plase te maak.

Ramalatso het ook aanbeveel dat boere by die Makhado Vuurassosiasie aansluit. Hier kan nuttige inligting soos brandrisiko-voorspellings bekom word. Die organisasie kan ook lede bystaan tydens ‘n brand.

Lesers kan nou ook, gedurende die brandverbod tydperk, in die Zoutpansberger asook op die koerant se webblad ‘n daaglikse brandgevaarindeks volg. Dié indeks word weekliks op ‘n Maandag opgedateer, met die vriendelike vergunning van die Makhado Vuurassosiasie.

Dié glyskaal neem faktore soos vogtigheid, windspoed en reënval in ag en kategoriseer dan ‘n brandgevaar in vyf kleure, naamlik blou, groen, geel, oranje en rooi.

Blou dui ‘n brandgevaar van tussen 0 en 20% aan, groen ‘n gevaar tussen 21 en 45%, geel tussen 45 en 60%, oranje tussen 61 en 75% en rooi tussen 76 en 100%. Onderskeidelik dui die kleure ‘n brandgevaar van veilig, gematig, gevaarlik, baie gevaarlik en uiters gevaarlik aan.

‘n Vuur waaroor daar beheer uitgeoefen word, kan nog toegelaat word om te brand in groen omstandighede. Geen oop vure word toegelaat as die indeks ‘n brandgevaar van 45%, d.w.s. geel, en hoër aandui nie. Die brandweer en vuurassosiasie is dan ook outomaties op ‘n gereedheidsgrondslag, sou daar dan ‘n brand uitbreek.

Vir die komende week word daar ‘n brandgevaar wat wissel tussen 50 en 60% vir die Soutpansberg voorspel.

Vir meer inligting kan die brandweerstasie geskakel word by 015 516 0554.

News - Date: 15 August 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: