ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Inwoners plaas hoop in waardasie appèlproses

 

Inwoners van Makhado (Louis Trichardt) is besig met ‘n appèlproses teen die munisipale waardasies van hulle eiendomme.

“Ek het dadelik my appèlvorm ingegee en ook ‘n brief waarin ek redes aanvra,” het me. Ansie van Jaarsveld gesê. Sy woon in ‘n hoekhuis in Vorsterstraat en het die skokkende munisipale waardasie van meer as R2 miljoen ontvang. Van Jaarsveld het gesê dat sy snags nie kon slaap nie, want dit is nie vir haar moontlik om die verhoogde belasting by te bring nie. Sy is ‘n enkelma met ‘n kind op universiteit en een nog op skool.

Van Jaarsveld het die huis laat waardeer. Die huis is op turfgrond gebou en het krake.  “Die bank het gevra dat ‘n strukturele ingenieur uitkom en na die krake kom kyk.  Daar is vir baie jare geen verbeterings op die perseel aangebring nie. Ek is besig om die huis oor te koop en die bank het slegs ‘n lening van R270 000 op die huis toegestaan. Die eiendom was tydens die vorige waardasie al heeltemal te hoog gewaardeer. Ek het sedert  2008 op R800 000 belasting betaal, maar toe het ‘n mens nie geweet wat om te doen nie. Ek slaap darem nou beter vandat AfriForum met ons kom praat het. ‘n Mens voel nie meer so alleen in jou stryd nie,” het Van Jaarsveld gesê.

Me. Irene Adendorff gaan ook die appèlproses deurloop. Die uitslag op haar oorspronklike beswaar was ‘n effense verlaging in die waardasie. “Ek voel dit is steeds te veel,” het sy gesê.

Mnr. Carel Minnie het eers op 1 Julie uitgevind dat die waardasie van sy eiendom verlaag is met R325 000. Minnie het hierdie week gesê dat hy eers weer met mnr. Morné Mostert, AfriForum Limpopo se koördineerder, wil gesels voor hy besluit of hy met die appèlproses wil voortgaan of nie.

AfriForum het die inwoners tydens 'n vergadering op 26 Junie aangeraai om seker  te maak dat hulle ‘n versoek aan die munisipale waardeerder rig om redes vir sy waardasie te verskaf. Mostert het op 7 Julie ‘n pro-forma brief aan al die teenwoordigers gestuur wat hulle kan gebruik om redes aan te vra. Daarbenewens moet ‘n voorlopige appèlvorm ingedien wees met ‘n brief aan die appèlraad wat sê dat die appèlvorm aangevul sal word sodra die munisipale waardeerder se redes ontvang is.

Wetlik moet die inwoners appèl aanteken binne 30 dae vanaf die datum van die brief van die munisipaliteit wat die uitslag van hulle eerste beswaar gee. Die probleem was egter dat die meeste van die munisipale briewe 10 Junie gedateer was en dat sommige inwoners tydens die vergadering nog steeds nie enige uitslag gekry het nie.

Die Makhado Munisipaliteit het besluit om hierdie probleem aan te spreek deur die 30 dae vanaf 1 Julie te neem en die inwoners tot 30 Julie kans te gee om die appèlvorm in te dien.

Wanneer ‘n huiseienaar die redes ontvang het, het hy of sy 21 dae om die eintlike appèl in te dien waarin geantwoord kan word op die redes wat die waardeerder verskaf het. Mostert het gesê dat daar nie vir die munisipale waardeerder ‘n vasgestelde tyd is waarbinne sy redes verskaf moet word nie. Die proses kan dus taamlik uitgerek word.

Die Makhado Munisipaliteit het daarop gewys dat volgens Artikel 50 (6) van die eiendomsbelastingwet, Wet 6 van 2004, die eienaar nie vrygestel word van betaling van die nuwe tarief terwyl die beswaar aan die gang is nie.  “Indien die appèlraad uiteindelik sou bevind dat die waardasie te hoog was en die eienaar gelyk gegee word, sal die geld wat die eienaar intussen te veel betaal het, terugbetaal word,” het AfriForum gesê.

News - Date: 18 July 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

Email:

ADVERTISEMENT: