ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Pasop vir hierdie oom se gladdebek praatjies

 

Dit is lankal nie meer net inbrake en diefstal waarteen inwoners van die streek moet waak nie – bedrieërs kom deesdae wyd voor.

Eers was daar die gladdebek bedrieërs wat niksvermoedende en goedhartige inwoners en besighede uit duisende rande se selfoonlugtyd geswendel het. Nou is daar ‘n middeljarige Afrikaanssprekende oompie wat ondernemings in Makhado (Louis Trichardt) teiken en telefonies met slimpraatjies besteel.

Een so 'n besigheid is Camp World in Rissikstraat, waarby die man hulle bedrieg het uit duisende rande se 4x4 toerusting. Die eienaars, Joubert en Carike Robbertze, het ander ondernemings gewaarsku om lig te loop vir die oom wat homself as Koos Bergman voordoen.

Hulle het op 4 Julie ‘n oproep ontvang van “middeljarige Afrikaanssprekende man … Ek skat hom so iewers in sy vyftigs,” sê Joubert.

Bergman was baie vriendelik en het gesê dat hy iemand wat hy ken vroeër in die winkel was om navraag te doen oor die toerusting en dat hy graag ‘n aankoop sal wil maak. Carike het bevestig dat daar net voor Bergman se oproep wel iemand in die winkel was wat Joubert se telefoonnommer gevra het.

Bergman het R50 000 se goedere bestel en gevra of Joubert dit in Pretoria vir hom sal kan aflewer as hy ‘n elektroniese betaling gemaak het. So gesê, so gedaan en Joubert het Bergman se “bestelling” by ‘n Caltex motorhawe in Pretoria gaan aflaai waar ‘n “werknemer” van Bergman dit namens hom in besit geneem het.

Kort hierna het Carike en Joubert agtergekom dat die transaksiegeld nie in hul bankrekening reflekteer nie, en by verdere ondersoek het hulle besef dat Bergman se bewys van betaling vervals was.

Dit was dit laaste wat Joubert en Carike van Koos Bergman gehoor het. Nie dat Bergman spoorloos verdwyn het nie, maar hy het opgehou om sy telefoon te antwoord. “Hy druk net die oproep dood,” het Joubert gesê, “en as mens die werker bel op sy selfoon, maak hy of hy nie weet wie Koos Bergman is nie.”

Na dié nare ondervinding het Joubert en Carike ‘n privaatspeurder gehuur om Bergman op te spoor. Dié speurder se ondersoek het egter die spreekwoordelike kan wurms oopgemaak. 

Bergman, het dit aan die lig gekom, is ‘n ou hand in die bedryf en mag dalk moontlik deel wees van ‘n landswye sindikaat wat mense besteel met skelmstreke. Hy gebruik ook partykeer die naam Gert, en dit wil voorkom of hy in elke dorp wat hy teiken, ‘n informant plaas. Dié informant sal, soos in Camp World se geval, verkenningswerk gaan doen by ‘n maatskappy en alle moontlike kontakbesonderhede bekom vir Bergman. 

By verdere ondersoek het dit ook aan die lig gekom dat Bergman al talle ondernemings in Middelburg bedrieg het, asook in Bronkhorstspruit, Tzaneen en nou Makhado (Louis Trichardt). Daar mag dalk ook meer slagoffers wees wat nie die saak by die polisie aangemeld het nie. Volgens Joubert het Bergman glo twee seuns, Ricardo en Brandon, en skakel van ‘n Pretoriase telefoonnommer (012 771 3656) af. Sy informant se selfoonnommer is 072 023 5070, en inwoners word gemaan om uiters versigtig te wees as enige van die bedrieërs hulle kontak.

Al hierdie besonderhede is ook aan die speurder deurgegee, en daar word gehoop dat die vangnet vinnig om Bergman styfgetrek sal word.

In die lig van die jongste bedrogspul, wys die Zoutpansberger lesers daarop dat hulle wel ‘n betalingsbewys waaroor hulle onseker is met ‘n bank kan verifieer. By Eerste Nasionale Bank kan die bewys se unieke naspoornommer (tracker) aanlyn op hulle webblad gedoen word. By ander banke kan die bank se inbelsentrum geskakel word.

News - Date: 18 July 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: