ADVERTISEMENT:

 

Buysdorp-gemeente kry 'n eie leraar

 
BUYSDORP – Vir die eerste keer in agt jaar kan gemeentelede van die Verenigende Gereformeerde Kerk Mara-gemeente op Buysdorp weer spog met 'n leraar van hul eie, na die bevestiging van ds. Jan van der Westhuizen as tentmaker-leraar.

Die term tentmaker is ontleen aan Handelinge 18:3 waar Paulus, buiten dat hy 'n leraar in Korinte was, ook 'n tentmaker van beroep was.

Die gemeente en kerkraad, onder leiding van ouderling Ishmael Mangera het Sondag eers die nuwe leraar, 'n dosent aan die Universiteit van Venda, ontmoet by die vyeboom waar Alexander McKidd, 'n Skotse sendeling die eerste erediens in die omgewing in 1862 gehou het.

Die bevestigingsrede is waargeneem deur ds. Louis Schnetler, leraar van VGK Kranspoort, wat vir ses jaar tot 2000 die konsulent van die gemeente was. Ds. Mabusela, ook 'n leraar van VGK Kranspoort, het as huidige konsulent die bevestigings- en verwelkomingsverrigtinge bygewoon tesame met ander leraars van die VGK, asook leraars van ander denominasies. Die geleentheid is opgehelder deur verskeie items, asook verwelkomingsboodskappe aan die nuwe leraar.

Nadat die eerste sendeling in 1865 aan malaria oorlede is, het die welbekende Stephanus Hofmeyr van Kranspoort Buysdorp bedien as deel van 'n wye bedieningsarea wat tot in Zimbabwe gestrek het. Isak en Joshua Buys was die eerste evangeliste wat deur Hofmeyr opgelei is om hom by te staan en die werk voort te sit na sy dood in 1915. Verskeie herlewings het tydens Hofmeyr se bedieningstyd plaasgevind.

"Vanaf 1948 het my vader, evangelis Daniël Buys, die gemeente bedien vir ongeveer 21 jaar," onthou mnr. Simeon Buys. Daarna het ds. Andries Lombaard die gemeente vir ongeveer 14 jaar bedien tot in 1981. Hy is opgevolg deur ds. Okkie Olivier en ds. André Lourens. Vir die laaste agt jaar was die leraarspos vakant en het konsulente die gemeente bedien. Die bevestiging en verwelkoming van ds. Van der Westhuizen is afgesluit met 'n gesellige ontvangs en heerlike ete in die President Kruger Gemeenskapsaal. President Paul Kruger het 22 000 hektaar in die vorm van drie plase aan die Buyse geskenk en die gemeenskapsaal is na hom vernoem.

News - Date: 19 April 2002

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

Email:

ADVERTISEMENT: