"Dit is ´n troos dat ons hom kon groet"

Wyle Pieter Roux (72).

Date:

20 February 2012

Read:

150 0,0,0,0,2,0,0

Print

Die onverwagte dood van oom Pieter Roux (72) op die dag van sy huweliksherdenking het familie en vriende geskok.

Oom Pieter het die oggend sy kleinkinders, Dawie en Tertius, by die skool afgelaai en daarna nog lekker met die familie gesels, wat almal op dieselfde perseel in Louis Trichardt woon. Dit was 8 Februarie, die  huweliksherdenking van oom Pieter en tannie Drika, wat 48 jaar gelede op Standerton getroud is.

Oom Pieter het van rugpyn gekla.  Later die oggend het die dokter nierstene vemoed en hom Polokwane toe gestuur, vergesel deur sy eggenote en seun en skoondogter, Dawie en Chantel.

“Ons het die kinders by maats afgelaai en gedink ons is gou terug. Was ons skok groot toe ons in Polokwane uitvind dat my pa ‘n aneurisme in die aorta in die buikgedeelte het en dat daar geen vaskulêre spesialis in Limpopo is nie. Ons het begin om te reël vir ‘n ambulans na Pretoria,” vertel Dawie, wat sy ouers se enigste kind is.

Oom Pieter is egter om 17:15 oorlede.

“Vandat my pa gehoor het wat hom makeer totdat hy oorlede is, het twee ure verloop. Dit het ons getroos dat ons hom kon groet en dat hy gesê het dat sy saak met die Here reg is,” sê Dawie.

Pieter Roux is op 2 Julie 1939 in Vrede in die Vrystaat gebore. Interessant genoeg was hy vir ‘n rukkie op Vivo in die laerskool. Hy het by die Middelburg Tegniese Skool gematrikuleer. Op skool was hy ‘n uitstaande atleet, wie se 400m rekord nog tot in die tagtigerjare bly staan het. Van 1959 tot 1964 was hy in Vanderbijlpark in die polisie, waar hy die Sharpeville onluste belewe het. Hy het as fabrieksvoorman by Vaal Potteries gewerk tot en met sy aftrede in 2001. Daar op Meyerton was hy altyd betrokke by klubrugby en het op die bestuur gedien.

In 2002 het die egpaar na Louis Trichardt verhuis. Na slegs ‘n week op die dorp is oom Pieter in Gauteng in die hospitaal opgeneem en is sy linkerbeen geamputeer. So het almal hom op Louis Trichardt leer ken, altyd gereed met ‘n grappie oor sy een been en ‘n skerp sin vir humor.

“My pa was regtig ‘n taai ou. Ons het hom vier keer amper verloor: as polisieman was hy met ‘n mes gesteek en vir dood agtergelaat, hy het twee hartaanvalle oorleef en na sy been se amputasie, kon hulle hom eers glad nie bykry nie,” sê Dawie.

“Hy was streng, maar met ‘n sagte hart. Hy het baie liefde gehad en sou honger gaan slaap as hy jou kon help,” sê Chantel.

Pieter en Drika se huwelik van amper ‘n halfeeu was ‘n voorbeeld van mense wat mekaar regtig verstaan en mekaar se tekortkominge aanvul.

Wyle Pieter Roux  laat sy eggenote, seun, skoondogter, twee kleinseuns en tweelingsuster, Cozette, agter. Die dankdiens vir hom is op Dinsdag, 14 Februarie, deur dr. Phillip Venter in die NG Kerk Soutpansberg waargeneem. 

Die familie bedank graag hul Hemelse Vader, die Prognos dokters en personeel, die Netcare paramediese personeel, die NG Kerk Soutpansberg-gemeente vir hul omgee, Stephan Naudé van National Legal Aid Begrafnisondernemers, Louis en Thea Oosthuizen,  almal wat kos aangedra het, elkeen vir elke besoek, oproep, SMS en gebed, asook familie en vriende wat van ver gekom het.

to comment you need to login first - Login

Dit was nie moord nie.

08 October 2010 By Andries van Zyl
News: Mnr. Jan Badenhorst, die 75-jarige boer van Levubu wat verlede Vrydag dood gevind is op die plaas wat hy bestuur het, is aan natuurlike oorsake oorlede. Vroeër hierdie week is dit bevestig dat mnr. Badenhorst aan ‘n hartaanval dood is, slegs dae ná sy verjaarsdag.
560 0 Comments

Site Navigation

Written By

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

Recent Author Articles