ADVERTISEMENT:

 

Die munisipale werkersunie het plakkate wat kla oor dienslewering en wanbestuur rondgeswaai tydens die unie (Samwu) se wettige optog op 10 Februarie.

SAMWU gee burgemeester sewe dae

 

News  Date: 20 February 2012

 

Die munisipale werkersunie, SAMWU, het die burgemeester van Makhado sewe dae gegee om aan hul eise ten opsigte van beter munisipale bestuur te voldoen.

SAMWU het hul griewe gelug tydens ‘n wettige optog deur die strate van Louis Trichardt verlede Vrydag. ‘n Dag voor die optog het plaaslike SAMWU-voorsitter mnr. Elvis Tlou ook die Soutpansberg Belastingbetalers (SBBV) genader om deel te neem aan die optog. Die SBBV het ingestem, maar minute voor die beplande optog het SAMWU se provinsiale voorsitter, mnr. Timson Tshililo, ‘n stokkie voor die SBBV se deelname gesteek.

“Mnr. Tlou het aan ons verduidelik hoe die werkers sonder gereedskap moet probeer werk. As hulle ‘n pyp moet regmaak, is daar nie pype of klampe in die stoor beskikbaar nie. Dit neem hulle baie lank om gereedskap en middele te bekom. In die lig van daardie verduideliking was ons bereid om hulle te ondersteun. Ons is dit nie noodwendig eens met hulle totale optrede nie, maar in terme van dienslewering sou ons saamwerk,” het die SBBV-voorsitter, me. Inga Gilfillan, gesê.

Die optog na die munisipale terrein is gekenmerk deur onderonsies tussen SAMWU-leiers en die plaaslike polisie. Tshililo het aan die polisie gesê dat hulle nie die optog moet kaap deur voor hulle uit te stap nie.

By die munisipale gronde aangekom, het Tshililo verduidelik waarom hy nie die SBBV wou toelaat om aan die optog deel te neem nie. “Ons het nie ‘n verhouding met hulle nie, ons het ‘n verhouding met die ANC. Ons het nie ‘n verhouding met individue nie,” het Tshililo gesê.

Tshililo het in ‘n uurlange toespraak op die Samwu memorandum uitgebrei, waarna hy dit aan die burgemeester, rdl. Mavhungu Luruli, oorhandig het vir ondertekening. Luruli het in haar repliek gesê dat sy nie enige probleme voorsien om binne die sewe dae op te tree nie, aangesien dit "interne munisipale sake is wat maklik is om te prosesseer. Werkers het die reg om te sê hoe hulle die oplossing van probleme sien,” het sy gesê.

Die memorandum het ‘n sterkbewoorde uiteensetting bevat van die frustrasies van werkers. Hulle beskuldig Luruli daarvan dat haar kantoor  die nood van die werkers ignoreer, “terwyl korrupsie in die munisipaliteit hoogty vier”.

Die memorandum lui dat die booshede van korrupsie, nepotisme en swak werksomstandighede van die werkers uitgeroei moet word. “Alle raadslede en direkteure wat by hierdie wanbestuur betrokke is, moet voor die gereg gebring word en die gevolge dra van hulle vermorsing van openbare bronne vir hul eie selfsugtige voordele,” lees die memorandum ondermeer. Daar is te velde getrek teen die "skokkende wyse waarop tenders uitgedeel word aan familie en vriende."

Die volgende eise is gestel:

*Werkers wat afgedank is omdat hulle korrupsie openbaar gemaak het, moet onmiddellik heraangestel word.

*Beamptes met belange in die proses moet verwyder word van die komitee wat tenders evalueer.

*In-diepte ondersoeke moet geloods word na tenders toegeken aan die maatskappye Jodaushota Construction, Timo Constructiom, Makasana Construction, Paxair Projects, Muravha Building Construction, Thiko Consulting, Immoral Building Construction, Teddy Pigrims, Vhaluvhu Construction, Masase, Siebathavha, Muspat Trading12cc, Zwivhuya zwia todea Trading and Projects, Vhakoma Trading Enterprise en Dandimu Construction.

* Werkers moet voorsien word van die nodige gereedskap, asook beskermende klere wat op standaard is. ‘n Ondersoek moet geloods word na die dubbele aankoop van beskermende klere vir die elektrisiteitsafdeling, nadat hulle beskermende klere van 'n swak standaard ontvang het wat hulle lewens in gevaar stel .

*Basiese munisipale dienste moet nie aan privaat maatskappye toegeken word nie.

* Aanstellings moet in vakante poste gemaak word en beweerde gevalle van nepotisme moet  onmiddellik hersien word.

* Elke direkteur of bestuurder wat by vrugtelose uitgawes betrokke was, moet aangekla word en die geld moet van hulle verhaal word.

Samwu sê dat hulle hulle aksie sal verskerp indien daar nie aan hulle eise gehoor gegee word nie.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines