ADVERTISEMENT:

 

generic image

"Sonder hulle, sou ons doodgaan van die honger"

 

News  Date: 21 March 2012

 

Sowat 40% van die hulpbehoewende pensioenarisse en verjaagde boere in Zimbabwe wat elke ses weke voedselhulp uit Suid-Afrika ontvang van die Botha-broers se  Zimbabwe Pensioners Support Fund (ZPSF), is Afrikaanssprekend.

Dit blyk uit die jongste verslag van dié geregistreerde welsynsorganisasie, wat reeds sedert 2002 deur die broers Hannes en Attie Botha van Tzaneen en Malelane bedryf word. Hulle beskou dit as hulle Christelike roeping.

Kosvoorrade wat in alle dele van die land bymekaar gemaak word, word in ‘n pakhuis op Malelane verpak in kartondose wat elke ses weke met twee swaar vragmotors en ‘n sleepwa deur Louis Trichardt en Musina oor die grens gaan om in Zimbabwe versprei te word.

Die gereelde togte strek elk oor sowat 6 500km, verbruik nagenoeg 2 500l diesel, kos gemiddeld R9 000 elk en lewer nood voedselvoorrade aan meer as 1 600 verwaarloosde bejaardes in alle dele van Zimbabwe. Dié reuse en lewensbelangrike taak word met die hulp van net drie voltydse personeellede bedryf en is volkome afhanklik van vrywillige welwillende bydraes. Die Bothas (wat self as vragmotorbestuurders diens doen) verwelkom ook vrywilligers wat wil saamry en help met die bestuur en/of  die verspreidingsaksie in Zimbabwe.

Pensioenarisse in Zimbabwe is in ‘n oorlewingstryd gedompel toe hul ruim oudag-voorsiening indertyd vernietig is deur amptelike monetêre manipulasies deur die Zimbabwiese regering. Etlike bejaarde boere wat van hul plase afgesit is deur die Zimbabwiese regering is in dieselfde posisie. Een afgetrede spoorwegamptenaar met 28 jaar diens ontvang ‘n pensioen van 40 Amerikaanse dollar per maand en woon in ‘n bediendekamer op ‘n perseel. Die Bothas se noodritte en besoeke is vir dié mense ‘n noodsaaklike reddingstou. Van die bejaardes getuig self: “Sonder hierdie hulp sou ons eenvoudig doodgaan van honger.”

Die Bothas se gereelde maandelikse verslae oor hul noodlenigingsritte bevat hartroerende getuienis van die bejaardes se durf en moed te midde van ‘n oënskynlik hopelose situasie. Die aflewerings gaan gepaard met bemoedigingsbesoeke wat met groot dankbaarheid deur die bejaardes begroet word.

“Toe een van ons besoeke verlede jaar vertraag is weens amptelike administratiewe rompslomp met die invoer van goedere in die land, het individuele bewoë bejaardes ons letterlik tegemoet gehardloop en dankbaar verwelkom omdat hulle kosvoorrade reeds vier dae tevore heeltemal uitgeput was,” berig die Bothas in hul oorsig oor 2011 se bedrywighede.

Hulle het groot lof en dankbaarheid vir die wye steun wat van die Suid-Afrikaanse publiek ontvang word, maar vra ook voorbidding vir voortgesette insette om die aksie te kan volhou.

Die ZPSF se bankbesonderhede is: Eerste Nasionale Bank, Malelane-tak, takkode 27 09 52 en rekeningnommer 622 390 429 06.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines