ADVERTISEMENT:

 

23. Daisy word bederf en sien byna ‘n wit spook

 

Daisy het haarself begin jammer kry lank voor dit nodig was.

Niemand stry nie – om GlobalGAP sertifise­ring te kry is nou nie kinderspeletjies nie, maar dit verg ook nie die geweldige stres en nagte se deurwerk van die korporatiewe lewe nie. (Aan laasgenoemde het Daisy juis ‘n oormaat blootstelling gehad voordat sy op die plaas kom bly het.)
Maar Daisy kla steen en been by almal; veral by haar Baardman. En klaarblyklik het Daisy ‘n besondere talent saam met haar lang blonde hare ontvang – ‘n vermoë om Die Ridder in ‘n man wakker te maak.

Toe Daisy ‘n week voor die oudit weer vir Baartman vertel hoe hard sy werk en hoe moeg sy is, sien hy skielik net hoë kliptorings en prinsesse wat hulpeloos smeek om gered te word. Hy poets onwillekeurig sy borswering en verbaas homself toe hy sê: “Hei Daise, ek moet binnekort bietjie Kaap toe gaan vir besigheid. Wat dink jy daarvan as ons ‘n vakansie daarvan maak? Ons vlieg besigheidsklas en gaan bly in ‘n stunning hotel in Seepunt en jy kan uitrus terwyl ek jou voete masseer en sushi voer...”

Baardman bly geskok stil. Hy kan nie glo wat hy sopas kwytgeraak het nie; sy begroting is nader aan Holiday Inn en McDonalds.

Maar Daisy is betower. Uiteindelik is daar iemand wat agterkom hoe hard sy werk en hoe­veel sy ‘n bietjie bederf nodig het. Ag, en hoe romanties! Om laat te slaap, brekfis in die bed te kry, ‘n regte egte spabehandeling sonder om ‘n vinger te lig, shopping by die Waterfront ... Sy borduur op alles wat Baardman haar belowe het voort. Met rente.

Drie dae na ‘n uiters geslaagde GlobalGAP oudit het Daisy al haar verlore slaap ingehaal. Sy het in Pretoria vir haar die mooiste wit satyn nagklere en ‘n paar stoute swart nommertjies gekoop, gegeurde kerse, masseerolies en badskuim. By Baardman het sy geskimp vir regte Franse vonkel en ‘n krat vars oesters...

Daisy verkyk haar aan al die ruimte in besigheidsklas en die sedige gesigte. (Niemand anders kyk rond nie.) Toe sy teen die venster gaan sit is daar ‘n vriendelike waardin met pragtige rooi lippe by om ‘n glas (regte) Champagne in haar hand te druk. (Die ander passasiers in besigheidsklas waai die glasie soos ‘n lastige vlieg weg en pluk soos een man tablette uit.)

“Ag Baardman, die ou spul snobs is net suur omdat hulle moet werk en ons op vakansie is, nê?” sê sy teen Baardman se skouer toe die vliegtuig begin retireer. “Maar ons kan mos die pose hou? Al is ons eintlik gemakliker in die bos met net ‘n sarong en plakkies...”

Baardman glimlag binnetoe. Dis min genoeg dat hy vir Daisy so bietjie uit haar gemaksone sien. Gewoonlik skud sy net haar blonde hare agtertoe en druk haar neus in die lug en dan kan hoor en sien vergaan, niks ontstig haar nie.

Terwyl hy daaraan dink is dit presies wat met Daisy gebeur: met ‘n skud van haar hare en ‘n bietjie aarbeirooi lipstiffie verander Gëintimideerde Daisy in Wêreldreisiger Daisy. Effens sinies, baie been there, done that. Haar skouers is reguiter, haar bene ten beste tentoonstelling gevleg. Tot Baardman is beïndruk met die skielike sofistikasie.

By die gerestoureerde Winchester Arms Hotel stap Daisy dadelik na die hysbakke asof die normale inboekprosedure te middelklas is vir haar. Baardman het ‘n luukse suite bespreek met ‘n see-uitsig – iets wat die hotelpersoneel dadelik gelykstel aan groot fooitjies. Hulle val oor hulle voete om Daisy te vergesel en die bagasie te versorg. Dis eers toe sy en Baardman alleen in die slaapkamer is wat Daisy haarself word. Sy skop haar skoene uit, sit al die oorbodige ligte af en skink vir haarself en Baardman uit die yskoue bottel. Dan sien sy die hoop oesters raak.

“Baardman, hoe kan ek jou ooit bedank vir hierdie wonderlike, wonderlike verrassing? Geen vrou is nog ooit so bederf nie! Kom sit met jou rug gemaklik hier teen die kussings, dan voer ek jou oesters...”

En oesters het hulle geëet. En Franse vonkel gedrink. Later het Daisy van die badskuim en kerse onthou en dit het weer ‘n heel ander dimensie aan die oesters en wyn gegee.

Iewers in die donkerblou ure van die nag word Daisy wakker en sy weet dadelik daar is groot fout. Was dit die oesters? Was dit die vonkelwyn? Maar daar is nie baie tyd vir haar om te wonder nie – die gedruis in haar maag word oorverdowend.

“Daar is nie ‘n manier nie,” dink Daisy. “Sulke romantiese omstandighede strook eenvoudig nie met ‘n omgekrapte maag nie! Hoe verskriklik sal ek my nie skaam as Baardman te midde van hierdie ontploffing wakker word nie. Ek is ‘n objek van passie, nie ordinêr soos gewone mense wat liederlike dinge in toilette aanvang nie. Dink, Daisy, dink! Daar is nie baie tyd nie!”

Dis toe dat Daisy onthou van die konferensiefasiliteite wat sy gesien het by Ontvangs. Sy gryp haar lang wit japon wat by die wit synag­rok pas, raap die sleutels op en druk benoud die hysbak se knoppie. Op haar kaalvoete knyp sy eers een kant toe, dan anderkant toe.

Toe die hysbakklokkie oorverdowend pieng!! in Ontvangs, is daar twee verbysterde personeellede wat deur die mis geskrik tweekeer moet kyk vir die wit gedaante wat rats in die konferensiegedeelte verdwyn. Dis eers heelwat later wat Daisy geluidloos weer in die hysbak klim en uitgeput teen Baardman se warm rug aan die slaap raak.

Die volgende oggend skyn die son vir Daisy wakker net voor ‘n kelner met ontbyt aan die deur klop. Daisy hoor ‘n opgewonde gesprek met Baardman, maar sy kan nie die details hoor nie.

“Waaroor is die kelner so opgewerk, Baardman?” vra sy terwyl sy lemoensap inskink.

“Nee jong, jy ken mos die Kaapse klonge. Vreeslik bygelowig. Die hele hotel praat glo vanoggend daarvan hoe die nagstaf gisteraand ‘n spook sien wandel het daar in die gange by Ontvangs...”

Daisy - Date: 21 March 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: