ADVERTISEMENT:

 

Hartseer vaarwel aan André

 

Na 46 jaar se getroude lewe saam het haar man in haar arms gesterf.

“Pa rus nou...” het Petro van den Berg vir haar seun Morné gesê, nadat haar eggenoot, die welbekende André van den Berg (67), verlede Vrydag in die Zoutpansberg Privaathospitaal in Makhado (Louis Trichardt) sy stryd teen bloedkanker verloor het. Kort voor dit het André nog vir Petro 'n drukkie gegee.

Sedert Oktober verlede jaar het die Soutpansberg-gemeenskap saam met die Van den Berg-egpaar gebid en gehoop, nadat André met bloedkanker gediagnoseer is. In Januarie vanjaar moes hy sy haarsnypraktyk, Van den Berg Mans Haarkapper, na 45 jaar se diens sluit weens die intensiewe behandeling wat hy moes ontvang. As boorling van die Soutpansberg was hy die derde generasie haarkapper in sy familie.

Groot was inwoners se blydskap en verligting toe André einde Junie vanjaar aangekondig het dat hy gesond is en weer sy praktyk gaan open. Sowat twee weke gelede moes André en sy familie egter die slegte nuus ontvang – die kanker is terug.

André is verlede Vrydagoggend in die Zoutpansberg Privaathospitaal opgeneem, nadat hy begin kla het van erge pyn. Sy kinders en aangetroude familie was juis almal op pad na hom toe vir ‘n familie-ete op Sondag.

“Ons het elke jaar oor Kerstyd ‘n familie-ete. Verlede jaar kon ons nie saam kuier nie, weens my pa se siekte. Ons het dit toe goedgedink om almal nou Sondag weer lekker saam te kuier. Dit het baie, baie vinnig gebeur ... ons het gedink ons het nog tyd,” het dogter Linda Naudé Maandag gesê.

Die Van den Berg-egpaar was baie lief vir die Kruger Nasionale Wildtuin en het so gereeld moontlik vir ‘n paar dae daarheen weggebreek. Morné  vertel dat, as gevolg van sy siekte die laaste paar maande, sy pa-hulle nie meer wildtuin toe kon gaan nie. Hy vertel dat hy toe sowat twee weke gelede gereël het dat sy pa en ma einde van hierdie week saam met hulle weer bietjie wildtuin toe sou gaan. “Hy het vir my gesê hy dink nie hy sal kan gaan nie. Ek dink hy het geweet,” sê Morné.

Baie inwoners van die Soutpansberg sal onthou hoe André en Petro in Februarie 2006 die nuushooftrekke gehaal het, juis na afloop van ‘n besoek aan die wildtuin. Hulle voertuig het op ‘n stil naweek in ‘n afgeleë, oorspoelde modderdrif in die wildtuin vasgeval. Ná ure se wag het hulle besef niemand gaan kom om hulle te help nie, waarna André, ongewapen, 25 kilometer deur gevaarlike leeugebied geloop het om hulp te ontbied. Petro het intussen hulpeloos in die oorspoelde voertuig agtergebly. Die drama het oor ‘n periode van 24 uur afgespeel.

Die afgelope 45 jaar het André, uit die aard van sy werk, baie, baie vriende gemaak. Hy sal veral onthou word vir sy humor. “Tot kort voor sy dood het hy nog gelag en tyd gehad vir ‘n grappie vertel,” sê die familie. Eweneens is Petro welbekend as eienaar van Petro Van den Berg Eiendomme.

Petro het vertel dat mens letterlik ‘n boek sou kon skryf oor haar en André se huwelik. “Van dag een af was dit ‘n avontuur – dinge wat mooi was en dinge wat sleg was ... maar ons het altyd daardeur gekom. Dit was genade,” het Petro gesê.

Een van die slegste dinge waardeur die Van Den Berg-egpaar moes worstel, is die aand toe André skrams in die bors en Petro in die kop gewond is tydens ‘n gewapende roof by hul huis, ‘n paar maande na hul oorlewingstryd in die wildtuin in 2006. Wonderbaarlik het beide sy en André die aanval oorleef. Later sou dit aan die lig kom dat die man wat hulle geskiet het, Lesley Manganye, ook verantwoordelik was vir die moord op mnr. Ben Fisser en ‘n string ander geweldsmisdade. Hy is in Mei 2010 tot 256 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Vir Petro is die dood van haar sielsgenoot die afgelope 46 jaar bitter hartseer, maar sy het berusting, sê sy. Sy sê die afgelope paar maande was vir haar en André baie spesiaal en in ‘n groot mate het hulle tyd gehad om op ‘n mooi manier van mekaar afskeid te neem. “Ons het aande omgelê en gesels ... tot die dood ons skei ...” het Petro gesê.

‘n Roudiens vir wyle André is Woensdag vanuit die Volle Evangelie Kerk in Makhado (Louis Trichardt) gehou. Hy word oorleef deur sy vrou Petro, dogter Linda en skoonseun Gerhard, seun Morné en skoondogter Martie, en dogter Brenda en skoonseun Adaan Kotzé, asook agt kleinkinders and twee agterkleinkinders.

News - Date: 22 August 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: