ADVERTISEMENT:

 

Justin en Stefan Pieterse van Makhado (Louis Trichardt) wat die afgelope naweek 'n plaasaanval oorleef het, nadat Justin koel kop gebly en 'n plan bedink het om die rowers om die bos te lei. Foto verskaf.

Rowers dwing seun om pa te groet

 

Vasgebind, wreed aangerand en daarvan oortuig dat sy pa deur ‘n spul sadistiese rowers doodgeskiet gaan word, het 'n 12-jarige seun onwrikbaar by sy pa gestaan.

“Pappa, ek’s lief vir jou ... jy’s my hero,” was Justin Pieterse se afskeidswoorde aan sy pa, Stefan, ‘n bekende sakeman en evangelis van Makhado (Louis Trichardt).

“Ek sal dit nooit vergeet nie,” het ‘n steeds merkbaar emosionele Stefan Maandag aan die Zoutpansberger gesê. Hy en Justin is Saterdag op hulle plaas Our Place, nie ver uit op die Braambospad nie, oorval deur vier gewapende mans. Kort tevore het hulle nog sorgeloos om ‘n braaivleisvuurtjie saam met vriende gekuier. Niemand, het Stefan gesê, het in daardie stadium notisie geneem van Justin se Jack Russel, Pippie, wat die heeltyd na die bosse se kant toe geblaf het nie.

Nadat die vriende huis toe is, wou Justin nog vir oulaas 'n wyle saam met sy pa kuier om die vuur, wat net buite die heiningdraad van die huis gemaak is. Pa en seun se rustige oomblik was egter van korte duur. Skielik het daar ‘n gewapende man uit die bos gekom en ‘n 9mm-pistool teen Justin se kop gedruk.

Dadelik was daar nog twee mans, ook gewapen met pistole, wat vir Stefan vasgehou en begin skop en slaan het. Hulle was ongemaskerd en het vinnig Stefan en Justin se arms agter hul rûe vasgebind met kabelbande. Stefan se regterbeen is erg verswak ná hy al talle operasies ondergaan het daaraan, en een van die rowers het vir Stefan gesê hy weet van dié been.

Wat volgende met Justin gebeur het, het Stefan se ouerhart laat bloei en die trane het opnuut weer gevloei terwyl hy die traumatiese gebeure herleef het. “... en toe, toe vat hulle hom in die huis ... en ek is daar buite ... en ek weet nie wat hulle gaan doen met hom nie; almal het gewere,” het Stefan die woorde uitgewroeg.

Hy moes hulpeloos luister hoe Justin deur die rowers gedreig word om die kluis vir hulle oop te sluit. “Ek het vir Justin geskreeu om net alles vir hulle te gee, en alles te doen wat hulle van hom vra,” sê Stefan.

Die rowers het ‘n groot bedrag kontant uit die kluis gevat wat Stefan van ‘n kliënt ontvang het nadat die banke reeds vir die naweek gesluit het. Dit het nie die rowers tevrede gestel nie. Hulle het volgens Stefan bly vra waar die groot kluis met die guns was. Al wapens wat daar nog in die huis was, was die twee se lug- en gasgewere.

Eers in daardie stadium het die derde rower vir Stefan die huis ingevat, waar die mans hulle opnuut met die pistole en vuiste begin slaan het. Stefan is op sy maag en rug met ‘n stomp mes gesny. Tussendeur het Pippie verwoed vir Justin probeer intree en die mans probeer byt. “Pippie het die heeltyd by Justin gestaan,” vertel Stefan.

Na wat soos ‘n ewigheid gevoel het, het die rowers vir Justin en Stefan altwee op ‘n kamervloer op hul mae laat lê.  Weer oorval die emosie Stefan.

Een van die rowers het vir Justin in Engels gesê om sy pa te groet, voordat hy doodgeskiet gaan word. Hulle het toe die pistoolloop in Stefan se mond gedruk.

Hierop het Pippie opgespring en die man aan die hand gebyt. Stefan het by die man gepleit om nie vir hom of vir Pippie voor Justin te skiet nie, en die rower het hom na sy kantoor langsaan gevat.

“Toe ek nou in die kantoor is, toe sê hy vir my 'Okay staan op jou knieë' .... en toe skreeu Justin net vir my ‘Pappa ek’s lief vir jou, jy’s my hero'... toe skreeu ek vir hom 'Moenie worry nie, alles sal fine wees, Mamma sal mooi na jou kyk'.”

Hierop het die rower Stefan se kop op die grond vasgetrap, reg om hom te skiet en Stefan het vir oulaas vir Justin geskreeu dat hy vir hom lief is, voordat alles binne hom stil geword het. “Ek het net vrede in my hart gehad – ek het net vrede gehad – toe sê ek ‘Here ek’s nou by jou'.”

Die man het nie vir Stefan geskiet nie. Hy en die ander rowers het in ‘n ander taal gepraat, waarna Stefan gedwing is om sy minibus se sleutels aan hulle te gee. Intussen het ‘n vierde rower ook opgedaag. Dié man was gemaskerd, en hy het saam met die ander drie al die waardevolle elektroniese toestelle begin ontkoppel en in die bussie gelaai. “Hulle was professioneel; hulle het niks uitgeruk nie, en het tot doktershandskoene gedra,” sê Stefan.

Nadat die rowers ‘n lap in beide se monde gedruk het en dit toegeplak het, is hulle in ‘n kas toegemaak. Ook hul voete is vasgebind.

Justin het kopgehou en die lap halfpad uit sy mond losgewoel. Hy het ‘n slim plan gehad om die rowers die skrik op die lyf te jaag. Hy het vir die rowers geskreeu dat sy pa ‘n hartaanval het, en vir Stefan gevra om te maak of hy dood is as hulle kom kyk.

Die rowers het een kyk vir die “dooie” Stefan gegee, ‘n boekrak voor die kas geskuif en op die vlug geslaan.  In die donker het pa en seun gewag op enige geluid van die rowers, voordat Stefan die boekrak met sy skouers weggestamp het. Ongelukkig het die rowers die kantoordeur van buite gesluit, en Stefan moes die deur stukkend skop, met sy hande en voete nog vasgebind, om uit die huis te kom.

Hulle het die plaaswerkers gaan wakker maak en hulp ontbied.

Stefan se bussie is met behulp van die opsporingstelsel verlate naby Bela-Bela gevind. Die polisie was teen druktyd besig om al die leidrade op te volg, nadat hulle ook goeie vingerafdrukke in die bussie gekry het.

Vir Stefan en Justin lê daar egter nog ‘n lang pad voor vir die emosionele wonde om te genees. Beide het alreeds vir berading gegaan. “As mens nou daarna kyk, was die hand van die Here daarin ... Justin sê juis dit kan nou met ons net beter gaan.”

News - Date: 22 August 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: