ADVERTISEMENT:

 

generic image

Vermoede nie rede om reg in eie hande te neem

 

News  Date: 23 April 2012

 

Al word ‘n misdaad vermoed, is dit steeds geen rede om die reg in eie hande te neem en mense aan te rand nie.

Dit was die uitspraak van die Louis Trichardt Streekhof, nadat ‘n sakeman en sy medebeskuldigdes skuldig gepleit het op klagte van ontvoering, aanranding en aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Martinus Jacobus Oosthuyse (47) en vier van sy werkers, Rodger Chikadzi, Gift Machipisa, David Mapiye en Gilbert Sikhokho Muthelo, het Maandag weer hier in die hof verskyn. Hulle het  in gevolge ‘n pleitooreenkoms met die Staat skuldig gepleit. Na verneem word het die Staat ingewillig tot die ooreenkoms weens ‘n gebrek aan bewyse.

Tydens hul arrestasie in September verlede jaar is al vyf mans ook aanvanklik aangekla van poging tot moord. Dié klag is ingevolge die pleitooreenkoms teruggetrek.

Die klagte hou verband met 'n voorval waar die mans die reg in eie hande geneem het en vir Calvin Moyo (29) aangerand het. Destyds was daar ook sprake dat die vyf beskuldigdes vir Moyo en nog twee ander mans agter 'n bakkie gesleep het en aan 'n boom vasgebind en met pype aangerand het.

Kort na hul arrestasie is Oosthuyse se seun, Tinus (25), ook in hegtenis geneem op dieselfde klagte. Alle aanklagte teen hom is egter later teruggetrek.

Volgens die mans se verklarings, wat voorgelees is in die hof, was hulle oortuig dat Moyo buitebande gesteel het by Oosthuyse se onderneming, Eagle Tyres. Hulle het Moyo met “die oop hand geklap” in die hoop dat hy sal bieg oor die bande wat hy kwansuis sou gesteel het.

Moyo het getuig dat die vyf hom aangerand het met ‘n waaierband en dat sy neus, sewe maande na die voorval, nog kronies aan die bloei gaan.

Chikadzi is gevonnis tot ‘n boete van R1 000 of een jaar gevangenisstraf.

Machipisa, Oosthuyse en  Mapiye is elk gevonnis tot drie maande gevangenisstraf wat vir ‘n jaar opgeskort is. Muthelo is gevonnis tot ses maande gevangenisstraf, opgeskort vir ‘n tydperk van een jaar.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines