

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 May 2013
Die voortdurende toename in die getal renosters wat gedood word vir hul horings het ‘n bekende jagplaas van die omgewing genoop om gif in sy oorblywende renosters se horings in te spuit.
Eckland Safari’s het in April hierdie jaar een van 'n handjievol plase geword om hul renosters se horings met gif in te spuit. Die plaas self is een van die grootste wild- en jagplase in die Soutpansberg-streek en is geleë naby Masekwaspoort.
Die behandeling is die nuutste wapen wat boere gebruik teen renosterstropers. Volgens die jongste statistiek is 313 renosters landswyd reeds sedert die begin van die jaar vir hul horings doodgemaak.
Op 12 April het stropers drie van mnr. Wulf Schwerdtfeger, bestuurder van Eckland Safari’s, se eie renosters op sy plaas Miss Emily in die Bandelierkop-omgewing afgemaai vir hul horings. Net een van die drie renosters se horings is nie verwyder deur die stropers nie.
Dit was juis hierdie hartseer insident wat die eienaars van Eckland aangespoor het om pro-aktief op te tree en al hul renosters dié behandeling te laat ondergaan. Hulle het die Rhino Rescue Project genader om te help met die behandeling.
Volgens Susan Walley van die Rhino Rescue Project word ‘n ektoparasietdoder, bestaande uit ‘n mengsel van parasitiese gif en ‘n helderpienk kleurstof, in die renoster se horings gespuit. Hierdie mengsel is skadeloos vir renosters en ander diere, maar kan mense siek maak en in groter dosisse selfs dodelik wees vir mense.
Al word ‘n behandelde renosterhoring fyngemaal, sal die pienk kleurstof steeds duidelik sigbaar wees, wat mense sal waarsku om dit nie te gebruik nie. As daar wel mense is wat dié renosterhoring sluk, sal hulle verskriklik naar word en selfs opgooi. Die kleurstof sal ook glo deur sekuriteitskandeerders op lughawens opgetel word, maak nie saak hoe fyn die renosterhoring gemaal is nie.
Hierdie behandeling van die Rhino Rescue Project is tans die enigste wettige behandeling van sy soort in Suid-Afrika. Die ektoparasietdoder is ontwikkel deur Ed en Lorinda Hern van die Renoster- en Leeupark by Kromdraai aan die Wes-Rand, in samewerking met veearts dr. Charles van Niekerk.
Die projek, sê hulle, poog om pro-aktief op te tree teen renosterstropery sodat geen behandelde renosterhoring ooit sy weg tot op die swartmark sal vind nie. Op elke plaas waar die projek renosters behandel, word daar prominent op die heining bordjies gehang wat aankondig dat dié betrokke plaas se renosters behandel is.
Die Herns se renoster, Spencer, is tydens ‘n soortgelyke prosedure in Februarie verlede jaar dood. Schwerdtfeger is hiervan bewus, maar het verlede week bevestig dat die renosters op Eckland, wat reeds die behandeling ondergaan het, nog geen newe-effekte getoon het nie.
Buiten vir die kleurstof en gif wat in die renosterhorings gespuit word, word ‘n DNS-monster gevat van die horing en ‘n mikroskyfie word ingeplant. Die behandeling is effektief vir drie tot vier jaar, oftewel ‘n volledige uitgroeisiklus van ‘n renosterhoring, waarna die gif weer ingespuit moet word.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
