ADVERTISEMENT:

 

Oom Jakkie van der Colff by een van die dorp se oudtse en bekendste landmerke, die Geloftekerk. Hy het verlede Woensdag die dorp binnegetrap met sy fiets.

Ver trap om ander te help

 

As jy nie ‘n fortuin het nie, hoe gemaak as jy ‘n verskil wil maak? Jy offer die enigste ander bate wat jy het, naamlik tyd, op en klim op jou fiets en begin trap … al die pad van die Kaap af, óm suidelike Afrika.

Dit is presies wat die 72-jarige oom Jakkie van der Colff gedoen het. Hy het op 31 Mei vanjaar vanuit Kaapstad weggespring op sy bergfiets. Na presies 2 650 km en 47 dae het oom Jakkie verlede Woensdag hier in Makhado (Louis Trichardt) aangekom. Hy trap gemiddeld sowat 80km per dag.

Vanaf ‘n tuinbankie by die Geloftekerk vertel Jakkie dat hy eintlik ‘n pensionaris is wat van Pretoria af kom. Sy doelwit is om iets buitengewoon te doen om nie net fondse te in nie, maar ook bewustheid te kweek vir die Suid-Afrikaanse Instituut vir Blindes en Ribbons for Roses. Beide organisasies lê hom na aan die hart. Ribbons for Roses is ‘n organisasie sonder winsbejag wat kinders met kanker, outisme en ander gebreke bystaan.

Dié idee vir ‘n projek, wat nou Trap vir Vreugde heet, het by Jakkie posgevat nadat hy homself verlede jaar uitgedaag het om van Pretoria tot in die Kaap te ry in minder ure as wat hy jare oud was. Dit het hy dan ook gedoen en in die Kaap aangekom ná 62 ure en 46 minute se trap. 

Hierna het Jakkie so gesond gevoel dat hy besluit het om nog ‘n toer aan te pak. Hierdie keer het hy besluit om egter ook terug te ploeg in die gemeenskap. “’n Uitdaging soos wat ek in 2012 gedoen het, is persoonlik – jy doen dit net vir jouself. Ek wou egter iets doen om mense se lewenskwaliteit te verbeter. Ek het nie baie geld nie. Toe besluit ek om van my tyd te gee om geld bymekaar te maak,” vertel Jakkie.

Jakkie se toer het hom verby ongelooflike mooi dorpies gevat, waar hy net sulke ongelooflike gasvrye mense ontmoet het. Hy ry ook sy kookgereedskap en tent saam, vir ingeval.

Daar was ook tye wat dit so bietjie swaar gegaan het. Kort nadat hy uit die Kaap vertrek het, het Jakkie ‘n ernstige verkoue opgedoen, wat hom ‘n week uit aksie gehad het. Hy het van die tydjie gebruik gemaak om ‘n dokter te gaan sien en by familie te gaan kuier.

Tog het dit hom nie laat afsien van sy planne nie. Hy het weer die pad gevat en paar keer al in die reën en nagdonkerte getrap. In een so geval, op pad van Dongola na Piet Retief, het die donkerte vir Jakkie ingehaal terwyl hy besig was met ‘n 102km skof. Hy was doodmoeg, sy selfoon het nie opvangs gehad sodat hy sy familie kon bel nie en hy moes maar noodgedwonge net deurdruk. Wat hy nie geweet het nie, is dat die hele boerderygemeenskap van Piet Retief toe al na hom begin soek het. Jakkie se seun het begin rondbel toe hulle hom nie telefonies kon bereik nie. Die boere het wel vir Jakkie gekry by die Wimpy en hom dadelik met sy seun laat praat en sommer slaapplek vir die nag ook gegee.

“Ek is geseënd dat ek tot dusver geen teëspoed oorgekom het nie, en boonop nog soveel interessante mense kon ontmoet,” sê Jakkie.

Jakkie het twee dae oorgebly op Makhado (Louis Trichardt) voordat hy die Soutpansberg-pas na Musina aangepak het. ‘n Paar plaaslike fietsryers het hierdie gedeelte saam met hom gery, en Jakkie het Maandag in Musina aangekom. Hier het hy weggedraai na Lephalale waar hy na verwagting (en hopelik met die wind van agter) eerskomende Saterdag sal arriveer. Sy familie sal dan by hom aansluit.

Vir dié wat belangstel om Jakkie se toer te volg, kan sy Trap vir Vreugde/Pedal for Joy Facebook-blad gevolg word. Inligting oor hoe om Jakkie se projek te ondersteun is ook op die blad beskikbaar.

Sport - Date: 25 July 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: