ADVERTISEMENT:

 

Lede van die Makhado Polisie se forensiese span besig om vingerafdrukke te lig van die kluis by King´s Bakery. In die voorgrond is ´n hoekslyper (grinder) wat deur die rowers agtergelaat is.

Aanslag op sakelui duur voort

 

News  Date: 26 April 2012

 

Alhoewel die Makhado Polisie huiwerig is om te erken dat die dorp se sakelui vasgevang is in ‘n misdaadgreep, wil dit al hoe meer voorkom asof die talle inbrake die laaste tyd een bende se vuilwerk is.

Nog twee ondernemings in Louis Trichardt het sedert verlede Vrydag die slagoffers geword van 'n bende wat veral die industriële gebied teiken.

Een van die voorvalle is voorafgegaan deur ‘n gyselaarsdrama, nadat die bende twee sekuriteitswagte oorrompel en aangerand het. Dié wagte, wat werksaam is op die perseel van Soutpansberg Koelkamers in Joubertstraat, is deur die rowers vasgebind met toue en kleefband. Hierna het die rowers ongestoord by die aangrensende kafee, King’s Bakery in Burgerstraat, ingebreek.

Die bende het, volgens inligting, in ‘n boom geklim en na die dak van die kafee gespring. Van daar het die rowers ‘n gat in die dak gesny en eers die kafee se alarmstelsel gedeaktiveer. Die voorval het ongeveer teen middernag plaasgevind.

Die vermoede bestaan dat die rowers gevlug het toe hulle besef die polisie en dorpswag is ontbied. Terwyl hulle besig was om die kluis oop te kry, het een van die vasgebinde sekuriteitswagte ontsnap en hulp ontbied.

'n Hoekslyper (grinder), leë buise silikoon, mieliemeelsakke en 'n hamer het voor die kluis gelê toe polisie op die toneel arriveer. Die boewe het by die agterste deur van die winkel uitgevlug.

Die eienaar van die kafee, mnr. Fernando Vasconcelos, het Vrydag bevestig dat die rowers sonder sukses gepoog het om sy kluis oop te sny. Die bende het wel weggekom met sy winkel se sigaretvoorraad, wat in ‘n trommel langs die kluis toegesluit was. Sy beursie wat op die kantoortafel gelê het, is ook gesteel.

Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het by navraag gesê dat vyf mans die wagte aangehou het. ‘n Saak van gewapende roof word ondersoek nadat geld en selfone by die wagte gesteel is.

In die tweede voorval is daar onsuksesvol gepoog om by Time Fright in die industriële gebied in te breek. Die rowers se poging is gefnuik, ná die vinnige optrede van die Soutpansberg Dorpswag, wat op die alarm gereageer het.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines