ADVERTISEMENT:

 

Ruan Scheepers, Louis Trichardt 1 se agsteman, steel die bal van Pietersburg Dorp 1 se manne tydens hulle Grenfell Rugbydag kragmeting op Musina die afgelope Saterdag.

Fees van rugby!

 

[Kliek hier vir die Grenfell Rugbydag se foto album]

Die bestuur van die MAC Messina Rugbyklub kan met trots sê dat hulle aanbieding van vanjaar se Grenfell Rugbydag ‘n reusesukses was.

Nie net het toeskouers Saterdag (22 Februarie) kans gehad om plaaslike rugby te ondersteun nie, maar al die plaaslike spanne het ook lekker litte losgemaak vir die komende rugbyseisoen. Die feit dat die Limpopo Blou Bulle op die laaste nippertjie onttrek het, het nie ‘n demper geplaas op die res van die dag se gebeure nie.

Te oordeel aan die mammas en pappas wat die dag ondersteun het, was die Bulletjierugby beslis ‘n hoogtepunt gewees.

Na die bulletjies het die O/15- en O/18-spanne van Hoërskool Eric Louw teen onderskeidelik Capricorn High en Musina High te staan gekom. Beide die spanne het met die louere weggestap. Die O/15-span gee hulle teenstanders ‘n harde loesing met ‘n wenteling van 27-0.

Eric Louw se Rooikatte, oftewel die O/18-span, het ‘n ietwat taaier wedstryd gehad teen Musina High, wie se span versterk is deur ander skole se spelers. Die Rooikatte het verwoed teruggeveg in die tweede helfte en klop Musina High 11-5.

Na afloop van hul openingswedstryde het beide spanne vir Doillie Gastehuis en Ravi's Discount World bedank vir hul borgskappe tydens die dag.

Ander spanne wat mekaar dié dag ook die stryd aangesê het, was die spanne van die Universiteit van Limpopo (UniLim), MAC Messina 1, Noordelikes 1, Pietersburg Dorp 1, Dendron en Louis Trichardt se eerstespan.

In die eerste wedstryd het die UniLim teen Noordelikes te staan gekom. Alhoewel UniLim spoed aan hulle kant gehad het, was hulle nie opgewasse teen die Noordelikes se formidabele voorspelers in die skrum nie.  UniLim buig die knie 17-5 teenoor Noordelikes.

Hierna het Louis Trichardt se eerstespan te staan gekom teen Pietersburg Dorp 1. Louis Trichardt se eerstes het bietjie klei getrap in die eerste helfte, maar steel die beker by Pietersburg in die tweede helfte met ‘n eindtelling van 36-26.

Weens die Limpopo Blou Bulle se onttrekking, was die hoofwedstryd van die dag MAC Messina 1 teen ‘n gekombineerde span van Dendron. Dendron se span is ook deel van die Louis Trichardt Rugbyklub en vorm tans die klub se derdespan. 

Van meet af was beide spanne op die verdediging. MAC Messina het die eerste drie gedruk, maar Dendron het dit vinnig opgevolg met ‘n drie van hulle eie. Dit was ‘n naelbytwedstryd en ‘n laaste skepskop, in die doodsnikke van die wedstryd, het MAC Messina amper gelykop laat eindig met Dendron. 

Dendron klop MAC 13-12.

Behalwe die puik rugby wat gespeel is, is die dag gekenmerk deur ‘n samehorigheidsgevoel onder die gemeenskap van Musina. Messina klubkaptein  Toit Uys het na afloop van die rugby nie net al die spanne bedank wat die dag deelgeneem het nie, maar ook plaaslike borge wat bygedra het tot die dag se sukses.  Die borge was Super Spar, Debo Motors, MAC Sports Bar, Talisman, Wessel Visser en GAMA Protection Services.

Sport - Date: 27 February 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
Dit lyk amper of Nollie Davel, spankaptein vir Louis Trichardt se eerste rugbyspan, bid voordat hy oor die doellyn gaan met die rugbybal. Louis Trichardt se eerstes draf Dorp se span 36-26 kaf.
Johan van Rooyen (links) van MAC 1 probeer 'n verdediger van Dendron se span uit die pad loop in Saterdag se Grenfell-wedstryd tussen die twee spanne, terwyl spanmaat Stefan Deysel naderstaan om hom te ondersteun. Dendron klop MAC 13-12.
Stefan Swanepoel, wat vir Louis Trichardt se eerste rugbyspan uitgedraf het, mik na die pale tydens hulle Grenfell-kragmeting teen Pietersburg Dorp se span die afgelope naweek. Louis Trichardt se manne draf Pietersburg Dorp kaf 36-26.
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: