ADVERTISEMENT:

 

'n Werker van die bokmelkfabriek van Limpopo Melkery, me. Lufuno Thavhanyedza, by 'n klompie van die spog Switserse Saanenbokke wat die melk gelewer het vir die fetakaas en joghurt waarmee die melkery as nasionale kampioen bekroon is.

Plaaslike melkery spog met unieke driekuns

 

Limpopo Melkery behaal ‘n driekuns  deur  vir die derde agtereenvolgende jaar aangewys te word as die Suid-Afrikaanse  kampioen  wat die produksie van bokmelk gewone fetakaas betref.

Dan het hulle ook verras deur vir die eerste keer die nasionale kampioen te wees met hulle bokmelk somervrugte joghurt.

Agri Expo se Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe  het  dié toekennings gemaak tydens ‘n glansaand op 23 April in Kaapstad.  Limpopo Melkery se span kon nie vanjaar die geleentheid bywoon nie en hul toekennings is onlangs afgelewer.  Die bekende melkery net buite Makhado (Louis Trichardt)  produseer hul twee wenprodukte, asook hul bokmelk cheddar en goudakase,  feitlik uitsluitlik vir  die Woolworths kettingwinkelgroep.

Limpopo Melkery se eerste ‘kroning’ as kampioen van bokmelk gewone feta het in 2012 plaasgevind, skaars ses maande nadat hulle dit begin produseer het.

“Ek gee al die eer aan die Here wat ons seën met genade en toekennings soos hierdie. Die suiwelbedryf is ‘n harde industrie en die foutmarginaal is baie klein. Ek gee graag erkenning aan my span en is baie trots op hulle!” het die melkery se direkteur, mnr. Tobias Fourie, gesê.

Mnr. Wonder Kapeta, die bokmelkfabriek se produksiebestuurder en kaasmaker,  het gesê dat jare se ondervinding in kaasmaak en ‘n toegewyde span die deurslag gegee het vir die driekuns. Wat die joghurt betref, het hy verwys na die besondere poging wat die span ingesit het. Kapeta het gesê dat daar baie interne opleiding vir die span verskaf word, asook eksterne opleiding waar kundiges van buite na hulle kom om opleiding te gee. “Ons opleiding strek selfs sover as karakterbou,” het mnr. Len O’Linsky, bestuurder van beide die bokmelk- en koeimelkfabriek, gesê.

Nog ‘n faktor wat by die passie van die mense op die span gevoeg word om ‘n wenresep daar te stel, is die goeie tegnologie van die melkery. “Ons direkteure, eienaars en bestuur ondersteun ons met die beste toerusting in die fabriek. Wat ons benodig, word vir ons gekry,” het O’Linsky gesê.

Woolworths se streng vereistes vir die bokmelkprodukte het ook ter sprake gekom. “Die tegnologie wat Limpopo Melkery gebruik verseker die kwaliteit wat Woolworths vereis. Die bokmelkfabriek word sonder waarskuwing deur eksterne ouditeure geoudit en sal gesluit word as daar nie aan die vereistes voldoen word nie,” het O’Linsky gesê. Die bokke word glad nie met hormone behandel om meer melk te gee nie. “Die  bokmelkprodukte is dus 100 % natuurlik. As die bokke opdroog vir die lamseisoen, dan is daar nie bokmelkprodukte beskikbaar nie. Desember is ons hoogtepunt van produksie en die bokke gaan in Junie in die lamseisoen in,” het O’Linsky verduidelik.  Een bok lewer melk vir ongeveer 300 dae in die jaar. Die sowat 500 Switserse Saanen bokke by die melkery lewer 40 000 liter melk per maand in die piek tyd en 12 000 liter in die stil tyd. Die grootste hoeveelheid van die melk word gebruik vir die produksie van vars bokmelk en ‘n kleiner gedeelte vir die vervaardiging van die kase en joghurt.

Vir die nasionale kompetisie word monsters van die fetakaas, joghurt, cheddar- en goudakaas bloot van die koelkamer se rakke geneem en ingestuur, sodat die beoordelaars dit kan proe. Daar is ongeveer 20 mededingers in die bokmelkprodukte, terwyl 68 produsente landswyd  met 821 produkte in totaal aan die suiwelkampioenskappe deelgeneem het. “Ons werk aan nuwe tegnologie, want ons wil ook hê dat ons bokmelk cheddar en gouda uiteindelik as wenners gekroon word,” het O’Linsky gesê.

News - Date: 27 June 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
Die bestuurders en bokmelkfabriekwerkers van Limpopo Melkery vorm ’n toegewyde span wat vanjaar twee toekennings by die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe opgeraap het. Voor, van links na regs, is me. Lufuno Thavhanyedza en me. Thelmah Netshituni. Agter is mnr. Len O’Linsky (fabrieksbestuurder), mnr. Wonder Kapeta (produksiebestuurder/kaasmaker), mnr. Irwin Mhaule en me. Sannetjie Tshawalo. Mnr. Tshikosi Rambuda was afwesig tydens die neem van die foto.
 

ADVERTISEMENT

 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

Email:

ADVERTISEMENT: