ADVERTISEMENT:

 

Generic image

Waardasierol hoog op SBBV se agenda

 

Die huidige waardasierol, of die gebrek aan ‘n “wettige” waardasierol, was een van die belangrikste besprekingspunte by die algemene jaarvergadering van die Soutpansberg Belastingbetalersvereninging (SBBV).

Me. Inga Gilfillan, voorsitter van die SBBV, het tydens die vergadering op 21 Augustus gesê dat, volgens die regsopinies wat hulle ingewin het, daar op die oomblik geen waardasierol is nie. Die advies wat hulle ontvang het, was om ‘n kriminele klag te lê.

Die SBBV het die Makhado munisipale bestuurder, mnr. Sakkie Mutshinyali, uitgenooi om hulle tydens die vergadering toe te spreek. Daar was ook geleentheid om vrae aan hom te stel, wat vrae oor die waardasierol ingesluit het. “Die onlangse hofuitspraak het gesê dat daar ‘n vervalste handtekening was, dat die munisipale waardeerder nie as ‘n professionele waardeerder geregistreer was nie en dat die tender deur bedrog verkry is. Ek wil nou eerstens vra wat die toekoms van die waardasierol sou wees,” het Gilfillan gesê. Die munisipaliteit is beveel om die hofkostes te dra, wat ook maar weer  uit die belastingbetalers se sak kom. Gilfillan het gevra wie die raadslede was wat die verkeerde besluit geneem het, sodat hulle daarvoor verantwoordelik gehou kan word.

Mutshinyali het gesê dat hulle ongelukkig nie geweet het dat die handtekening van die waardeerder vervals was nie. Hy het verduidelik dat daar drie komitees by die tenderproses en tendertoekenning betrokke is. Die spesifikasiekomitee skryf die spesifikasies vir die tender en bring dit vir die munisipale bestuurder. “Daarna gaan dit na die evalueringskomitee wat die beste tenderaars vir die tender moet aanbeveel, maar hulle rapporteer nie aan die munisipale bestuurder nie. Hulle maak hulle aanbeveling direk aan die beoordelingskomitee (adjudication committee). Hierdie laaste komitee adviseer die munisipale bestuurder wie om aan te stel. As jy teen hulle advies gaan, moet jy redes verskaf aan provinsiale tesourie, aan die ouditeur-generaal, aan die nasionale tesourie en aan die plaaslike regering,” het Mutshinyali gesê.

In hierdie geval van die waardasietender het die tweede komitee ‘n maatskappy aan die derde komitee aanbeveel, maar nadat die beoordelingskomitee ‘n analise van al die tenderdokumente gemaak het, het hulle ‘n ander maatskappy, Risuna, vir die munisipale bestuurder aanbeveel. “Ek het hulle aanbeveling aanvaar. Ek wil net noem dat raadslede glad nie meer, soos destyds, toegelaat word om op die beoordelingskomitee te dien nie,” het die munisipale bestuurder gesê. 

Wat die eiendomswaardasies betref, het Gilfillan gevra waarom Makhado (Louis Trichardt) so duur is wat waardasies en tariewe betref. Sy het gesê dat die dorp duurder as Polokwane, en selfs as Pretoria, is. Mutshinyali het saamgestem dat te hoë waardasies mense afskrik om in die dorp te belê. “Ek beoordeel tans die advies van verskillende kundiges om moontlik ‘n verslag aan die Raad voor te lê. Kundiges onder julle kan ook vir my verslae, dokumentasie  en aanbevelings aanstuur. Daar is geen bedoeling om enige een se lewe moeilik te maak nie. Ek bly ook hier en ek moet ook eiendomsbelastingbetaal,” het Muthsinyali gesê.

Die glyskaaltariewe van elektrisiteit  is ook bespreek en Gilfillan het gesê dat die ‘n glyskaal nie volgens die munisipale beleid is nie. “In Johannesburg  word die mense eers gepenaliseer met die hoogste tarief as hulle meer as 3 000 eenhede elektrisiteit gebruik, maar ons word vir meer as 600 eenhede gepenaliseer,” het Gilfillan gesê.

Ander sake wat deur die vergadering geopper is, is betaling vir dienste wat nie gelewer word nie, watermeters wat nie werk nie, riool, die groen gordel, oortydwerk, die ingange van die dorp, Steven Bothasingel wat nie geteer word nie, die bestuursplan om die strate te onderhou, die gebrek aan stoptekens in die nuwe uitbreiding, rekeningprobleme en duur voorafbetaalde kragmeters.

News - Date: 29 August 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

Email:

ADVERTISEMENT: