

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 April 2012
Nuwe regulasies vir die merk van renosterhorings en trofeejag van renosters is voorverlede week na finale goedkeuring in die Staatskoerant gepubliseer. Dit volg nadat die regulasies sedert September verlede jaar vir publieke insae en bespreking oopgestel is.
Die minister van omgewingsake, Edna Molewa, het verlede Maandag in ‘n verklaring gesê dat verskeie voorstelle wat deur die publiek ingedien is, inaggeneem en geïmplementeer is.
* Voortaan moet alle renosters wat lewendig verkoop of vervoer word van mikroskyfies voorsien word. Hierdie skyfies moet aan die linkerskouer en aan die renosterhoring aangebring word.
* Alle renosterhorings, ongeag hoe dit verkry is, moet binne vyf dae van ‘n mikroskyfie voorsien word.
* Alle horings langer as 5cm moet met permanente ink gemerk word met ‘n reeksnommer, die jaar en gewig van die dier. Hierdie inligting moet gereeld opgedateer en aan die nasionale databasis deurgegee word.
* Die eienaar sal die koste van die mikroskyfie dra.
* Bloed- en horingmonsters van alle renoster wat verdoof word, moet na die DNS-databasis by Onderstepoort gestuur word. Hierdie monsters moet deur ‘n geregistreerde veearts of ‘n omgewingsinspekteur geneem word.
* Voornemende jagters wat om jagpermitte aansoek doen, moet kan bewys hulle is lede van ‘n jagtersvereniging. Die vereniging moet erken word deur die voornemende jagter se regering as hy/sy ‘n buitelander is.
* ‘n Curriculum vitae waarin die jagter se ervaring aangedui word, veral wat betref die jag van spesies in Afrika, moet die aansoek vergesel.
* ‘n Afskrif van die aansoeker se paspoort moet ook by die provinsiale owerheid ingehandig word. As die jagter ‘n jagpermit ontvang het, moet ‘n behoorlik-opgeleide amptenaar van die provinsiale owerheid hom op die jag vergesel.
* Ná die jagtog moet die horings en die karkas in die teenwoordigheid van die opgeleide amptenaar na die taksidermis gebring word.
* Die taksidermis moet die departement in kennis stel, sodra hy die horings ontvang het. Die mikroskyfies-, jag- en vervoerpermitnommers en gewig van die dier moet aan die departement verskaf word.
* Die publiek word ook gevra om enige inligting wat kan lei tot die arrestasie van renosterstropers aan te meld by 0800 205 005. (LiN Media / Noordelike Nuus)
Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles.

ADVERTISEMENT:
