MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - ‘n Clivia wat plaaslik gekweek is, is gekies om na die bekende Oprah Winfrey vernoem te word.
Mnr. Bertie Guillaume se clivia, met die nie-amptelike naam Bella Donna, het uit honderde inskrywings gewen om na Oprah vernoem te word. Dié pragtige plant van oom Bertie sal nou geregistreer word as Bella Donna Oprah.
Die Bella Donna clivia is gekies deur ‘n paneel van beoordelaars bestaande uit die Oprah-tydskrifspan en die Cliviavereniging. Daar was asemrowende inskrywings, maar die paneel was eenstemmig in hulle besluit dat die Bella Donna gekies moet word. Die redakteur van O-tydskrif Suid-Afrika, Kgomotso Matsunyane, is baie tevrede met die gedagte om die pragtige blom Bella Donna Oprah te noem.
Registrasie word in Australië gedoen. Die registrasieproses word baie deeglik en in die fynste detail gedoen. Die persoon na wie die plant vernoem word moet ook in die lewe wees en moet toestemming verleen.
Die Cliviavereniging wil graag een van die wenplante aan Oprah Winfrey aanbied. Oom Bertie vermoed dat die Bella Donna Oprah tydens die 2006 Internasionale Clivia-kongres aan Oprah Winfrey oorhandig sal word. Die kongres vind oor twee jaar in September in Pretoria plaas.
Op die oomblik bestaan daar twee plante en twee suiers van die Bella Donna Oprah.
“As jy honderd persent seker wil wees die plant lyk soos die moederplant, dan haal jy die suiers van die moederplant af,” verduidelik oom Bertie. ‘n Suier neem ook maar twee tot drie jaar om te blom, maar hy is gewaarborg om presies dieselfde as die moederplant te wees. Oom Bertie se Brom-‘n-Nel kwekery, noordoos van Louis Trichardt, het ook heelwat saailinge van Bella Donna Oprah wat nog nie geblom het nie. Saailinge neem so drie tot vier jaar voor dit blom en as dit blom, kan jy sien hoe na dit aan die moederplant lyk.
“Dit is vir ons ‘n groot eer,” sê oom Bertie. “Ons kan nie wens vir beter nie. Ons kruisbestuif maar gedurig en eendag dan geluk dit jou. Met clivias is die moontlikhede eintlik onbeperk.”
Oom Bertie het 30 jaar gelede met clivias begin boer.
“Dit het so begin: die eerste Sondag wat ons Louis Trichardt aangekom het, het ons kerk toe gegaan, na die Gereformeerde Kerk. Daar loop ons ou vriende van Potgietersrus raak en besoek hulle na kerk. Ek bewonder toe die geel clivia wat in die bedding staan langs die plek waar my motor geparkeer was. My vriend trek die geel clivia daar en dan uit en gee dit vir my present. Dis waar alles begin het,” vertel oom Bertie.
Ander clivias van oom Bertie wat al toekennings gekry het, is die Bertie’s Bronze wat tydens ‘n internasionale kongres in Pietermaritzburg bekroon is. Oom Bertie sê dat die Bertie’s Bronze moeilik saad maak. Tydens die 2004 se cliviaskou in Pretoria was dit interessant dat die moederplant tweede plek behaal het en die saailing eerste plek!
Die Bella Donna self het al tevore geskou in Pretoria by die Metroskou. “Die beoordelaars het agterna vir my gesê die Bella Donna sou aangewys gewees het as die beste plant, was dit nie dat die pot vuil was nie!”sê oom Bertie. Nou het die Bella Donna tog sy erkenning gekry en het geskiedenis gemaak deur voortaan bekend te kan staan as die Bella Donna Oprah.