

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 January 2012
Die Genl. Piet Joubert Voortrekkerkommando in Louis Trichardt gaan help om twee belangrike monumente op die dorp in ere te herstel.
Die twee monumente, wat etlike jare gelede van hul oorspronklike brons gedenkplate beroof is, kry Saterdagoggend, 28 Januarie, elk ‘n nuwe gedenkplaat waarop die oorspronklike bewoording aangebring is. Die vermiste plate lei al ‘n geruime tyd tot groot frustrasie van toeriste, wat tydens hul besoeke nie in staat is om die nodige inligting oor die prominente gedenkwaardighede te bekom nie. Die gevandaliseerde gedenktekens is ook ‘n voortgesette bron van ernstige verleentheid vir die dorp se inwoners.
Die herstelpoging deur die plaaslike Voortrekkerkommando kom in antwoord op ‘n inisiatief van die nasionale bestuur van die Voortrekkers om landswyd Afrikanermonumente en gedenkplekke te herontdek en op te knap waar nodig. Die aanbring van die plate word beskou as ‘n tydelike maatreël, totdat die betrokke verantwoordelike owerhede permanente bronsplate kan verskaf.
Saterdag se plegtigheid is oop vir alle lede van die publiek en begin om 11:00 by die Louis Trichardt gedenkteken op Voortrekkerplein, tussen die Geloftekerk (NG Moedergemeente) en die burgersentrum (munisipale kantore). Die jong Voortrekkers sal ‘n kort seremonie uitvoer en die heronthulling sal deur ‘n oud-burgemeester van Louis Trichardt, mnr. Daan Nel, behartig word.
Na afloop van die onthullingsplegtigheid by die Louis Trichardt monument word daar teen die bult voor die kerk afbeweeg na Fort Hendrina, waar mev. Petria Marais, dogter van die bekende plaaslike historikus en kunstenaar mnr. Pieter de Vaal, die nuwe plaat sal onthul en ‘n insiggewende praatjie sal lewer. Die jeuglede van die plaaslike Voortrekkerkommando sal by die geleentheid ook ‘n kort seremonie uitvoer.
Vir verdere besonderhede oor die geleentheid kan belangstellendes vir mnr. Ferdi Vorster by 082 081 9413 skakel.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
