ADVERTISEMENT:

 

Me. Maureen Biza by ‘n drie-fase kragmeter waarvan die hoë lesings die wenkbroue laat lig.’n Groot aantal inwoners het ‘n skok gekry met die hoë elektrisiteitslesings op hul munisipale rekening vir Januarie.Die Makhado Munisplaiteit sê dat die fout nie by hulle lê nie, maar by die diensverskaffers.

Hoë rekeninge ´n groot skok

 

News  Date: 20 February 2012

 

Wie kan nou ‘n bedrag van R77 000 – en dit net vir die elektrisiteitsgedeelte - aan die Makhado Munisipaliteit betaal?

Een senior burger, wat al 67 jaar in Louis Trichardt woon, het so ‘n buitensporige rekening in Januarie ontvang.

“Dit is onmoontlik dat die elektrisiteit R77 000 kan wees. Ek is ook R7 000 vir water aangeslaan en dit terwyl ek ‘n boorgat het. Hulle maak net wat hulle wil en daar is niemand om mee te praat nie,” sê die inwoner, wat anoniem wil bly.

Hy het sy “onmoontlike” rekening aan die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV), waarvan hy ‘n lid is, oorhandig. Die SBBV sê by monde van hulle bestuurder, me. Aretha Smith, dat hulle vele klagtes in hierdie verband ontvang het.

Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi het bevestig dat die munisipaliteit talle klagtes oor buitensporige hoë meterlesings ontvang het. Volgens hom lê die fout by die diensverskaffer wat die tender gekry het om die kraglesings te neem, nie by die munisipaliteit nie.

“Die diensverskaffer het die verkeerde informasie of lesings aan ons verskaf,” sê Bobodi.

Mnr. Corné Fourie, hoof uitvoerende beampte van ETL Geographical Information Services wat as Bires handel dryf, het gesê dat Telkom in ‘n groot mate te blameer is. Die plaaslike kantoor het verskuif van Burgerstraat 115 na Burgerstraat 145. “Telkom het ons belowe dat ons net een dag sonder telefoonlyne sou wees, maar dit het ‘n maand geneem. Ons gebruik ‘n gesofistikeerde, gerekenariseerde stelsel waar die inligting direk by die Pretoria kantoor ontvang word. Weens die gebrek aan telefoonlyne moes die gegewens met die hand in ‘n Excel-program opgeneem word en daar het die fout ingesluip,” sê Fourie.

Fourie het gesê dat sowat 2 600 rekenings geaffekteer is.

Me. Hester Schoeman is een van dié wat raadop is met die hoë meterlesings op die rekening wat sy aan die begin van Februarie ontvang het. Die rekening is gedateer 18 Januarie en die meterlesings is op 14 Desember geneem. Daarvolgens dui die drie-fase elektrisiteitsmeter aan dat sy en die huurders op haar perseel 3 885 eenhede krag gebruik het. Elke huurder, asook die hoofhuis, het ‘n eie elektrisiteitsmeter wat nie voorafbetaalde meters is nie.

Schoeman en haar werknemer, me. Maureen Biza, het vanaf 10 Februarie begin om daagliks lesings by al die meters te neem. Tot hulle ontsteltenis was die totaal van al die individuele meters se eenhede slegs tien persent van die eenhede wat die drie-fase meter wys.

“Waar gaan die ander 90% van die krag heen?” vra Schoeman. Die waterlesing op haar rekening het ook sommer uit die bloute verdubbel.

Bobodi het op die navraag oor Schoeman se meterlesings gereageer.

“Ons is besig om haar rekening reg te maak. Daar is geen stappe wat sy hoef te neem nie. Alles sal regkom,” het Bobodi gesê. Hy het ook gesê dat die munisipaliteit nie meters toets nie. Die vraag oor die waterlesings is teen druktyd steeds onbeantwoord gelaat.

Fourie het  op sy beurt aan die Zoutpansberger gesê dat hy Schoeman aanraai om mnr. Manny Netto by die Burgerstraatkantoor te gaan sien oor die elektrisiteitsmeters en die saak te laat ondersoek.

Beide Fourie en Bobodi het die versekering gegee dat die nodige stappe geneem word om die regstellings aan alle foutiewe kraglesings vir Desember te doen.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines