ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Kabels wel beskikbaar om Telkom-lyn te herstel

 

News  Date: 09 March 2012

 

Herstelwerk is aan die gang aan Telkom-kabels wat die Cloud's End-area buite Louis Trichardt bedien en die diens behoort voor die naweek (Vrydag) reeds weer beskikbaar te wees.

Die diens was vir bykans vier weke buite werking weens kabeldiefstal.

By navraag is vasgestel dat ‘n permanente opskorting van die diens aanvanklik oorweeg is, weens die omvang en intensiteit van kabeldiefstal in die area.

Vroeg vandeesweek is egter vasgestel dat Telkom besluit het om die kabels wel te vervang, dat die nodige materiaal vir die herstel reeds beskikbaar is en dat herstelwerk teen Vrydag, 9 Maart, hopelik agehandel sal wees.

Sommige plase in die Cloud's End area is geheel en al afhanklik van die Telkomdiens, aangesien daar op plekke ook geen selfoonsein beskikbaar is nie.(Die enigste ander alternatief is 'n duur satelietdiens.)

‘n Woordvoerder by die plaaslike Telkomwinkel in die Makhado Crossing inkoopsentrum in Louis Trichardt het by navraag die versekering gegee dat Telkom nie betaling verwag vir die tydperk wat die diens onderbreek is nie. Huurders wat vir etlike weke sonder die Telkom-diens moes klaarkom,  moet bloot hul rekening inbring, sodat huurkrediet aangebring kan word. Die huurkrediet kan ook aanlyn bekom word deur die hulpnommer 10210 te skakel.

Een van die huurders is bitter ongelukkig oor die wyse waarop die lynfout uit die staanspoor deur Telkom gehanteer is. Die bejaarde huurder sê met die eerste aanmelding van die onderbreekte diens is hy verseker dat die lyn getoets is, dat daar geen fout is nie en dat hy die koste sal moet dra as Telkom iemand uitstuur en daar geen fout gevind word  nie. Hy moes ook sy telefoonapparaat in die dorp laat toets om seker te maak dat die fout nie by sy toerusting lê nie.

“Na die tweede aanmelding van die fout  sê hulle Telkom stel ondersoek in, maar steeds gebeur niks nie. Ná nog ‘n week het ons dit weer gerapporteer. Toe sê hulle die kabels is gesteel en ons moet wag.”

Oproepe wat tydens die onderbreking na die geaffekteerde nommers gemaak is, is deur ‘n outomaat beantwoord, wat bloot sê dat die betrokke huurder nie beskikbaar is nie, maar dat ‘n uitvoerige boodskap gelaat moet word.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines