ADVERTISEMENT:

 

Eugene O’Brien, CoAL se bestuurder van die Makhado-projek, tydens die watervergadering verlede Woensdag in Louis Trichardt.

"Ons soek julle nie hier nie!"

 

News  Date: 23 April 2012

 

Gemeenskapslede en –organisasies het tydens ‘n opedag hulleself sterk uitgespreek oor die beoogde nuwe myn van Coal of Africa (CoAL).

CoAL beplan om in twee fases vir hul Makhado-projek se waterlisensie aansoek te doen. Die mynmaatskappy het dié aankondiging gemaak tydens ‘n watervergadering in Louis Trichardt verlede Woensdag. Die Makhado-myn is noord van die Soutpansberg, sowat 65km suidwes van Musina, in ‘n sensitiewe biosfeer wat bekend is vir sy beperkte waterbronne. Dié projek is tans nog in sy prospekteringsfase, maar CoAL het reeds aansoek gedoen vir 'n mynregtelisensie.

Lede van die gemeenskapsorgansisasies Makhado Aksiegroep (MaKaG), Dzomo la Mupo en die Ndima-gemeenskap het die vergadering bygewoon. Gemoedere het by tye hoog geloop toe lede van Dzomo la Mupo prontuit vir CoAL se verteenwoordigers gesê het dat hulle onwelkom is in die streek.

“Ons soek julle nie hier nie, CoAL!,” het Mphatheleni Makaulule van Dzomo la Mupo gesê. “Ons sal nog baie meer dinge doen om julle te stop! Ons soek julle nie hier nie!”

CoAL se bestuurder van die Makhado-projek, mnr. Eugene O’Brien, het voor die tyd bevestig dat die betrokke vergadering addisioneel gereël is om geaffekteerde partye ekstra kans te gee om hul griewe te lug. Hierdie griewe is noukeurig aangeteken en sal in oorweging geneem word alvorens CoAL se waterlisensie toegestaan word.

“Ons hou hierdie deel van die land in ons hande; daarom moet ons verantwoordelik gehou word vir dit wat ons sê en doen,” het O’ Brien gesê.

Die Makhado-projek sal in die eerste lewensfase van die myn die ondergrondse waterbronne gebruik. Volgens O’Brien het die Departement van Waterwese reeds goedkeuring hiervoor gegee. Die water sal die myn tot ongeveer 2016 hou, waarna hulle vir ‘n grootmaatwaterlisensie sal moet aansoek doen om addisionele water te bekom.

CoAL het bevestig dat hulle na die Nzheleledam en –pyplyn kyk vir die ekstra water. Indien hulle nie goedkeuring kry om water uit die dam te gebruik nie, het hulle reeds na ander moontlikhede gekyk. Een so ‘n moontlikheid is om water uit die Limpoporivier na Makhado te pomp.

Mense en ander organisasies wat ook wil protes aanteken teen CoAL se waterlisensie het 60 dae om hul griewe in te handig by die departement of by CoAL.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines