ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Daar is geld om te maak in wildbedryf

 

News  Date: 30 April 2012

 

Die wildbedryf in Suid-Afrika is kerngesond - veral in Limpopo waar meer as 50% van Suid-Afrika se wildsplase geleë is en waar die bedryf al hoe meer beleggers lok.  Jacques Malan, president van Wildlife Ranching SA (WRSA), sê egter die bedryf het nog nie naastenby sy volle potensiaal bereik nie.

Hy het verlede week aan LiN Media gesê die potensiaal is daar vir grootskaalse werkverskaffing.

Wins op kapitaalbesteding op wildsplase in die Bosveldstreke van Limpopo is, volgens Malan, baie gunstig.

“Dit is veral in dele van Limpopo waar grond nie altyd geskik is om gewasse aan te plant nie en waar water skaars is wat die bedryf baie aanloklik raak. Veral as mens in ag neem dat die gemiddelde wins op aangewende kapitaal vir ‘n wildsplaas in die Bosveld omgewing op 5,7% bereken word. Dit kan vergelyk word met 1.9% vir beesboerdery in dieselfde omgewing.”

Volgens Malan word die bedryf effens gekniehalter weens die feit dat daar ‘n tekort aan teelwild is.

“Die feit dat wild op veilings rekordpryse behaal sê vir ons dat daar ‘n groot vraag na wild met goeie genetika is. Kyk byvoorbeeld na Senatla die buffel, wat verlede jaar September vir R18 miljoen op ‘n veiling verkoop is. Die vorige rekordprys vir ‘n buffel was R9 miljoen twee jaar vantevore. Sewe jaar gelede was die rekord R165 000 vir ‘n buffel.”

Volgens Malan is daar ook ander spesies wat rekordpryse behaal.

“‘n Swartwitpens bul is onlangs op ‘n veiling vir R3 miljoen verkoop. Vyf jaar gelede was die rekord R75 000.”

WRSA se statistieke toon dat die jaarlikse opbrengs van wild wat in 2010 by veilings verkoop is op R315 miljoen bereken word; dit is drie keer meer as die opbrengs in 2006. Die wildbedryf se kapitaalwinsgroei het die afgelope 15 jaar met ‘n gemiddeld van 20,3% per jaar gegroei.

Een van die groot redes waarom die bedryf so vooruitgaan is die toeloop van buitelandse jagters van veral Amerika, Duitsland en Spanje. Volgens statistieke wat deur die Suid-Afrikaanse regering bekend gemaak is, spandeer hierdie jagters sowat R2 miljard per jaar in Suid-Afrika. Volgens die WRSA spandeer jagters ten minste R300 miljoen aan taksidermie elke jaar. Plaaslike jagters spandeer tans omtrent R3 miljard per jaar aan jag.

Die uitvoer van wildsvleis is nog ‘n aspek van die wildbedryf wat nog nie sy volle potensiaal bereik het nie. Peter Oberem, ‘n veearts en wildboer, is aan die stuur van ‘n projek genaamd Waterberg Natural Produce. Volgens Oberem sal ‘n abattoir wat in die Mookgophong-omgewing gebou is binne die volgende paar maande gesertifiseer word om wildsvleis op groot skaal te verwerk.

Oberem sê hulle is baie opgewonde oor die projek omdat daar ‘n groot aanvraag vir wildsvleis veral in Europa is. “Nieu Seeland voer tans R2,5 miljard se wildsvleis uit na Europa elke jaar. Suid-Afrika se uitvoer na Europa is ongeveer ‘n veertigste daarvan.”

Volgens Oberem sal die abattoir daagliks die karkasse van 120 wildebeeste of 'n soortgelyke hoeveelheid vleis kan verwerk. “Hierdeur sal boere die voordeel van veredeling in hulle sakke kan steek. Ons doel is om eers aan die plaaslike mark te voorsien voordat ons ons toespits op uitvoere.”

Voedselsekuriteit is hoog op die regering se agenda en volgens Malan wil dit voorkom of die regering uiteindelik besef dat die wildbedryf in Suid-Afrika moontlik hierop ‘n antwoord kan gee. Oberem stem saam, “daar word bereken dat 1kg wildsvleis wat uitgevoer word, betaal vir 3kg rooi vleis wat ingevoer word.”

Dit is duidelik dat die wildbedryf in Suid-Afrika tans vooruit boer en dat die vooruitsigte baie goed lyk. (LiN Media / Noordelike Nuus)

 

Written by

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines