ADVERTISEMENT:

 

‘n Groot gedeelte van Stubbstraat is verlede week Dinsdag omgedolwe en daar kon glad nie toegang per motor verkry word nie. Hierdie week kon die halfwydte van die pad gebruik word, mits toegang nie vanaf Kroghstraat verkry word nie.

Skielik is die straat weg

 

News  Date: 04 May 2012

 

Verlede week het inwoners in Louis Trichardt se Stubbsstraat en veral dié met ondernemings, aan die kortste end getrek. Met die skielike omdolwe van die pad, kon daar glad nie of beswaarlik by wonings en ondernemings in- of uitgekom word.

Vir me. Henriëtte Mostert van The Look Haarsalon, was die opgrawe van Stubbsstraat ‘n nagmerrie. Vroeg verlede Dinsdagoggend het sy uit Mount Fuji Heights gery en kort daarna teruggekom, net om ‘n vragmotor reg voor haar hek geparkeer te sien staan. Haar versoek dat die vragmotor weggetrek word, het op dowe ore geval. In daardie stadium was daar al diep uitgrawings in die stuk van Stubbsstraat vanaf Kroghstraat.

Dit het ‘n oproep na die kontrakteur, Fantique Trade, gekos voordat Mostert by die hek kon inkom.  Haar motor was egter skaars ingetrek of die volgende gedeelte van Stubbsstraat  se teer is omgedolwe. “Ek kon nêrens heen met my motor nie. Ek gaan haal dikwels my kliënte in die dorp en ek kon dit nie doen nie. Almal bel my en sê hulle kan nie by my uitkom nie. My kind was by die kleuterskool en ek was vas, “ sê Mostert.

Sakepersone in dieselfde omgewing het saamgestem dat die werkery aan die pad beslis ‘n invloed op hul inkomste het.

Me. Wynanda Pretorius van Pretorius en Mouton Supplementary Health en me. Karlien Visser van Vanilla Day Spa by Mount Fuji Heights was dankbaar dat hulle voertuie nie binne was toe die omdolwery begin het nie. Mnr. Jas Brummer was ook in die spervuur, omdat sy huis geleë is na aan Kroghstraat regoor die gedeelte wat diep uitgegrawe is. “Hulle het my kragkabel afgery en net daarna die waterpyp ook gebreek. Hulle het dit darem dieselfde dag kom regmaak,” sê Brummer, wat gelukkig ‘n 4x4 voertuig het en bo-oor die hope gruis kon ry.

Ander ondernemings se kragtoevoer was ook af. Teen Maandag hierdie week was daar spore van ‘n hele paar waterpyplekke wat nog water mors. Die een rybaan van Stubbsstraat was reeds platgerol.

Die haastige opgrawe van die pad het 'n paar vrae laat ontstaan.  Waarom het hulle nie met inwoners kom praat en hulle in kennis gestel van wat hulle van plan was om te doen nie? Waarom nie net die een rybaan van die straat doen en dan die ander een nie? Waarom  word daar nie behoorlike waarskuwings aangebring dat ‘n ompad gebruik moet word nie?

Mnr. Pieter Meiring van die raadgewende ingenieurs Dombo en Du Plessis het Dinsdag gesê dat hy bewus is van die ongelukkigheid onder sommige van die sakemense en dat die kontrakteurs gevra is om die tydperk van ongemak vir die ondernemings so kort as moontlik te maak. Hy het gesê dit is nie reg dat die mense nie kennis gekry het nie en dat hy dit sal opvolg met die skakelbeamptes.

Die plan was om eers een rybaan van die pad te bou en dan die ander.

“Die kontrakteur het, om tyd te spaar, begin om al die materiaal uit te haal om nuwe groefmateriaal in te sit. Ons het gesê dat dit nie nodig was nie en vir die res van die straat is net die bestaande seëllaag afgehaal. Die lae word in halfwydtes gebou om so min as moontlik ongemak aan die besighede en inwoners te besorg,” het Meiring gesê.  Die oprig van tekens in ‘n radius rondom die padwerke, wat waarsku dat ‘n ompad gebruik moet word, het nie deel van die begroting gevorm nie. 

Mnr. Morris Sehlahla, projekbestuurder van Fantique Trade wat vir Anderson, Munnik en Stubbsstrate verantwoordelik is, het Maandag gesê dat hulle al die strate gelyk doen omdat hulle nou gelukkig was om bitumen in die hande te kry. Hy was optimisties dat die laaste gedeelte van Munnikstraat en Andersonstraat klaar geseël kan wees teen die einde van die naweek.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines