ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

CoAL beïndruk met Maart-mylpale

 

News  Date: 07 May 2012

 

Coal of Africa Limited (CoAL) het aangekondig dat hulle belangrike mylpale op verskeie fronte behaal gedurende die Maart-kwartaal.

Hierdie mylpale is Maandag bekend gemaak in ‘n CoAL bedryfsverslag. Dit  sluit in die voltooiing en ingebruikneming van CoAL se Vele-steenkoolmyn en die voltooiing van die Rio-Tinto/Kwezi Chapudi-transaksie.

Verder is CoAL ook opgewonde oor die vordering wat daar gemaak word met die Save Mapungubwe Koalisie. Na verwagting sal die amptelike ooreenkoms tussen die koalisie en CoAL aan die einde van Mei onderteken word.

Produksie by Vele is in Desember verlede jaar hervat, nadat die mynreus se waterlisensie goedgekeur is en hulle nagenoeg R10 miljoen aan boetes betaal het. CoAL het ook 'n ooreenkoms met die koalisie en SANParke aangegaan om op 'n omgewingsvriendelike wyse te myn.

Die eerste vrag proefsteenkool van 1 500 ton is verlede week  vanaf Musina na die Matola droëmassaterminaal in Maputo vervoer. Volgens CoAL is daar ook planne om ‘n ompad rondom Musina te bou om skade aan die bestaande pad tot die minimum te beperk en die roete te verkort. CoAL is vol vertroue dat Vele ongeveer 2.7 miljoen ton steenkool teen die einde van Januarie 2013 sal produseer.

Wat CoAL se Chapudi-projek betref, sal dié transaksie na verwagting teen die einde van Mei gefinaliseer word. Die ondertekeningdatum van die kontrak is uitgestel tot die einde van Mei, omdat daar nog gewag word op die Departement van Minerale en Energiesake se goedkeuring.

CoAL het in 2010 aangekondig dat hulle in die proses is om die $75 miljoen Chapudi-projek en dié se verwante steenkoolbates van Rio Tinto en Kwezi-mynbou aan te koop. Volgens CoAL se verslag is hulle op dreef met die projek en behoort hulle binnekort die transaksie te finaliseer.

Intussen is CoAL se direkteure besig met die voorlopige hersiening van die Makhado-projek se volhoubaarheidverslag, met nog verdere hersiening wat vir Junie beplan word. Dié verslag moet glo hersien word, nadat voorlopige toetse by Makhado die potensiaal vir ondergrondse mynbou, asook  die ontginning en verwerking van ‘n medium- tot hoë-graad termiese steenkoolproduk, uitgelig het. CoAL het reeds gedurende 2010/11 ‘n 19 000 ton steenkoolmonster by Makhado uitgehaal om die kwaliteit daarvan te bepaal. Toe die verslag opgestel is, het CoAL nie die Chapudi-projek (wat aan Makhado grens) in berekening gebring nie. Geaffekteerde partye het intussen nog grasie om protes aan te teken teen CoAL se waterlisensie vir die Makhado-projek. CoAL het in April, tydens ‘n watervergadering, bevestig dat hulle na die Nzheledam en –pyplyn kyk vir water.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines