

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 November 2012
Die Sensus 2011-syfers wat ‘n paar weke gelede beskikbaar gestel is, sorg vir interessante leesstof. Dit wys egter ook probleme uit wat soms gerieflikheidshalwe geïgnoreer word, soos die armoede onder ‘n beduidende getal van die streek se wit inwoners.
Die meeste van die Soutpansbergstreek se wit inwoners woon in die Makhado en Musina Munisipaliteite. In Makhado het die wit bevolking die afgelope 10 jaar afgeneem, van 10 438 in 2001 tot 10 310 in 2011. Musina het ‘n effense toename getoon, met 3 270 wit inwoners in 2011 teenoor 2001 se 2 358. In totaliteit verteenwoordig die wit bevolking slegs 2,3% van die totale bevolking in die twee munisipaliteite (583 638 inwoners).
Die wit inwoners verteenwoordig tot ‘n groot mate ook die Afrikaanssprekende inwoners. Tydens die 2011 sensusopname het 13 005 van die streek se inwoners aangedui dat hul huistaal Afrikaans is (in 2001 was die syfer 12 560).
Waar die prentjie bietjie steurend begin word, is die inkomstevlakke en die verspreiding daarvan. Die algemene persepsie dat armoede slegs in die swart gemeenskappe aangetref word, is baie ver van die waarheid. Die sensusopname het getoon 1 427 van die streek se wit inwoners val in die laagste inkomstekategorie, naamlik diegene wat tussen R0 en R1 600 per maand verdien. Slegs 271 wit inwoners val in die top-kategorie, naamlik diegene wat meer as R614 400 per jaar verdien.
Dit kan wees dat baie van dié inwoners dalk jong mense is wat nie werk nie of ouer mense wat afgetree het en van ‘n skamele ouderdomspension leef. Volgens die sensusopname is daar 3 525 wit inwoners wat jonger as 19 jaar is en ‘n verdere 2 106 wat ouer is as 61. Wanneer die werkloosheidsyfers in ag geneem word, raak die prentjie egter weer donkerder. Die wit bevolking het ‘n relatiewe hoë persentasie van inwoners wat aandui hulle het ‘n werk, maar die 6 648 maak nog nie 50% uit van die totaal nie. Selfs al word al die jonges en oues ingesluit, is daar steeds 1 301 wit inwoners wat aangedui het dat hulle nie ‘n werk het nie. (Hierdie syfer behoort hoër te wees, aangesien daar heelwat inwoners ouer as 61 en jonger as 19 is wat ‘n vaste werk het.)
Volgens die statistieke wat beskikbaar gestel is, het die armoede-prentjie, veral wat die wit bevolking betref, nie dramaties verander die afgelope dekade nie. In teenstelling met die meeste ander bevolkingsgroepe was daar min indien enige groei, maar die armoede het ook konstant ‘n faktor gebly.
Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

ADVERTISEMENT:
