

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 April 2013
‘n Grusame muti-moord in die hartjie van Makhado (Louis Trichardt) het inwoners aan die gons, veral nadat ‘n egpaar van Eltivillas oor die naweek ook in hegtenis geneem is in verband met die saak.
Dié opspraakwekkende moord het egter Woensdagmiddag ‘n dramatiese wending geneem toe die Staat hul saak teen die egpaar teruggetrek het, nadat dit aan die lig gekom het dat die man wat hulle van medepligtigheid aan die moord beskuldig het, gelieg het.
Die gebeure volg op die ontdekking van ‘n vrou se erg verminkte en ontbinde liggaam Saterdag in die beboste veld tussen die Grasdak in Cellierstraat en die Soutpansberg Gholfklub. Dit nadat ‘n man, wat na sy hofverskyning Maandag as die 38-jarige Freddy Azwitamisi Tshikhudo geïdentifiseer is, die moordtoneel aan die polisie uitgewys het.
Tshikhudo is in hegtenis geneem na ‘n voorval Vrydagmiddag (5de) by Elti Café in Eltivillas wat behoort aan die 62-jarige Musha Isap Ali Patel en sy vrou Hasina Muska Patel (60). Hy sou volgens ooggetuies by die kafee ingestap het en die vermoorde vrou se voorarm begin rondswaai het in ‘n skynbare woordewisseling met die egpaar.
Volgens die polisie het Tshikhudo beweer dat hy het na die Patels se winkel gegaan om betaling van R70 000 en ‘n kar te eis vir die moord op die vrou. Die Patels sou hom glo gehuur het om die vrou dood te maak. Na aanleiding van sy bekentenis is die Patel egpaar ook gearresteer. Intussen het Tshikhudo die moordtoneel aan die polisie gaan uitwys.
Die gru-fonds van die vrou se liggaam is gedurende die vroeë ure van Saterdagoggend gemaak. Sy is glo reeds ‘n week te vore, op 27 Maart, vermoor. Haar voorarm en skaamlippe was afgesny en albei haar oë is uitgesteek vir muti-doeleindes, klaarblyklik terwyl sy nog gelewe het. Daar was geen aanduiding dat daar gepoog is om haar liggaam te versteek nie.
Die vrou se oorskot, wat meer as ‘n kilometer binne die digte bos gelos is, moes per helikopter uitgelig word. Polisielede het saam met patoloë en munisipale werkers meer as ‘n uur lank gesukkel om ‘n pad deur die bos oop te kap om haar liggaam te bereik. Daar moes ook ‘n opening gemaak word, sodat die helikopter die liggaam kon ophys.
Tshikhudo, asook die Patel-egpaar, het Maandag vlugtig in die Distrikshof hier verskyn op klagte van moord. Hul saak is uitgestel tot 15 April, wanneer die drie beskuldigdes toegelaat sou word om ‘n borgaansoek te bring. Intussen sou hulle in aanhouding bly.
Dinsdag het die polisie klaarblyklik op nuwe bewyse afgekom en Tshikhudo het ‘n tweede verklaring afgelê. Ingevolge hierdie verklaring het Tshikhudo erken dat hy gelieg het oor die Patel-egpaar se betrokkenheid by die moord en dat hy inderdaad die Patel-egpaar na bewering beroof het. Selfoonlugtyd en kontant , wat glo geroof is, is in sy besit gevind. Blykbaar was sy plan om die klante weg te jaag deur die arm rond te swaai en dan, in hulle afwesigheid, die winkel te beroof. Sy aksies het egter gou aandag getrek en die polisie het hom kom arresteer.
Hy het blykbaar ook erken dat dit sy eie Zimbabwiese meisie was wat hy vermoor het. Haar identiteit is steeds onbekend.
Na aanleiding van Tshikhudo se tweede verklaring het die Staat besluit om alle klagte teen die Patel-egpaar Woensdagmiddag terug te trek. Die egpaar het heel emosioneel uit die hofsaal gestap en die heeltyd net gesê: “Thank you, thank you!”
Intussen bly Tshikhudo in aanhouding tot sy volgende hofverskyning.
Die polisie doen steeds ‘n beroep op die publiek om na vore te kom met inligting om hulle te help om die vrou en haar naasbestaandes te identifiseer. Enigiemand met inligting kan vir kapt. Tshinyadzo Ndou by 082 807 2666 skakel of die polisie se noodnommer by 10111.
Polisie vind die oorskot van 'n onbekende vrou in 'n dig beboste are in Makhado (Louis Trichardt). Die liggaam moet per helikopter verwyder word.
Makhado polisie woordvoerder, Kapt Sadike, vertel van die gebeure op Vrydag, 5 April 2013.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
