

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 May 2013
‘n Omgee-mens. So sal inwoners van die Soutpansberg vir mev. Ina van Tonder (64) onthou.
Ina is verlede Donderdag oorlede, pas nadat die dokter haar gediagnoseer het met hartversaking. Haar jongste seun, Douw, het haar nog die oggend voor haar dood op die dokter se aandrang geneem vir 'n ondersoek. Daarna het hy haar weer teruggeneem na die familieplaas, Downton, waar hulle gewag het vir die uitslae. Later sou Ina dalk ook moes gaan vir bloedtoetse.
Douw vertel dat hy besig was om sy ma in haar bed te help, toe sy oorlede is. “Sy was skielik net weg,” het Douw gesê. Hy het gesê dat ná sy broer en pa se dood, sy ma se gesondheid vinnig agteruit gegaan het. Sy broer Buks is op 40-jarige ouderdom in Mei 2011 in ‘n motorongeluk oorlede. Oom Vossie, tannie Ina se man en Douw se pa, is in Junie verlede jaar oorlede. “Hulle dood was vir haar baie swaar gewees ... sy het verlang en bykans elke dag gehuil,” het ‘n bedroefde Douw vertel.
Ina, wat op Naboomspruit en Potgietersrus skoolgegaan het, is op 13 November 1948 gebore. Sy is op 4 April 1970 met oom Vossie getroud. Kort na hulle huwelik het hulle na Louis Trichardt getrek om te kom boer in die Schoemansdal-area. Ina sal die beste onthou word vir haar jarelange verbintenis met eers Louis Trichardt Koelkamers, daarna die Sentraal Slaghuis (waar die huidige Absa bank nou is) en latere jare met Madikor Slaghuis. “Sy was maar altyd in die vleis- en slagtersbedryf,” het Douw gesê.
Douw het groot dank vir almal wat hom en die res van die familie in hierdie hartseer tyd ondersteun het. “Baie dankie vir almal se liefde en ondersteuning.”
Wyle Ina is verlede Saterdag vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente begrawe.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
