ADVERTISEMENT:

 

Wyle Pieter Steyn (24).

Familie hoor van seun se dood 'n week na ongeluk

 

News  Date: 01 July 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Vir die tweede agtereenvolgende week het inwoners die verbysterende skoknuus gehoor dat nog een van die dorp se bekende ouerpare, Pierre en Johanna Steyn, ‘n jong seun aan die dood moes afstaan.

“Ek wens dit vir geen mens nie, veral nie ‘n ouer nie, die hel waardeur ons daardie week gegaan het op soek na ons seun Pieter,” vertel ma Johanna. Die hartseer is duidelik, maar onderliggend is daar ‘n onstuimigheid in haar gemoed. Met rede sekerlik, want die familie het eers omtrent ‘n week na sy noodlottig trompopbotsing nuus ontvang dat hul 24-jarige seun in ‘n lykshuis in Johannesburg lê.

Johanna sê sy het Vrydag, 17 Junie, reeds begin onraad vermoed. Sy het vroeër die dag vir Pieter, wat vir die laaste ses maande in Germiston werksaam was, geld oorbetaal.

“Hy laat altyd weet sodra ek geld vir hom oorbetaal.”

Maar daardie Vrydag het hy nie teruggeskakel nie. Johanna het hom herhaaldelik probeer skakel, maar daar was geen antwoord nie.

“Ek het geweet daar is iets fout – ‘n ma weet mos maar sulke dinge.”

Dit was die begin van ‘n baie lang naweek vir die Steyn-familie. Het iets met Pieter gebeur of het hy maar net besluit om die naweek saam met vriende êrens heen te gaan?

Pieter moes die naweek sy oom se huis in Pretoria opgepas het. Hyself het ook daar geloseer. Met sy oom se terugkeer vanaf die Kaap Maandag, 20 Junie, is daar laat weet dat daar geen teken van Pieter was nie. Daar is ook vasgestel dat hy sedert Vrydag nie weer opgedaag het vir werk nie.

“Dit was toe dat ons geweet het, iets het definitief met Pieter gebeur.”

Pieter is as vermis aangegee by die polisie. Alle hospitale en lykshuise in die Pretoria-omgewing is geskakel om uit te vind of iemand soos Pieter daar opgeneem is. Die soektog het egter niks opgelewer nie.

Daar is toe kontak gemaak met ‘n vriend van Pieter wat in Johannesburg bly. Die vriend se ma het bevestig dat Pieter Donderdagaand, 16 Junie, daar gekuier het, maar dat hy vroegaand huis toe gegaan het, aangesien hy die volgende dag moes werk. Met hierdie inligting het die polisie hul ondersoek met nuwe hoop voortgesit, maar nog voor die ondersoek verdere resultate kon oplewer, is nuus ontvang dat Pieter se liggaam al amper ‘n week in ‘n lykshuis by Johanneburg Sentraal lê.

“Ek kan dit nie verstaan nie ... daar is geen rede waarom die owerhede ons nie vroeër kon laat weet het van Pieter se dood nie. Hy het sy ID, rybewys, besigheidskaartjie en ‘n aktetas by hom gehad. Hoe gebeur dit?”

Ma Johanna sê die feit dat hulle eers omtrent ‘n week na Pieter se ongeluk van sy dood gehoor het, definitief ‘n verleentheid vir die owerhede veroorsaak het.

“Twee senior polisie offisiere het reeds geskakel om verskoning aan te bied.” In dieselfde asem sê Johanna is sy deur die polisie versoek om ouers attent daarop te maak dat hulle ten alle tye moet seker maak waar hul kinders is.

“Die wrede realiteit is dat, sou niemand ons van Pieter se dood laat weet het nie, hy doodeenvoudig later veras sou geword het. Dan het ons nie eers iets gehad om te begrawe nie. Gelukkig kon ons hom terugkry om vir ‘n laaste keer te versorg.”

Pieter het hier grootgeword en skoolgegaan. Voor sy vertrek na Germiston was hy werksaam by Autozone, asook Mount Fuji. Hy is Saterdag (25ste) vanuit die N.G. Kerk Soutpansberg-gemeente begrawe. Pieter se dood kom ‘n dag voor die noodlottige ongeluk waarin ‘n kollega van sy ma, Sonja Wolmarans, se seun, Coen (25), verongeluk het. Coen is ‘n dag voor Pieter vanuit die Gereformeerde Kerk hier begrawe.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines