ADVERTISEMENT:

 

Heidi-Lene werk saam met die arbeidsterapeut by Lynnmed Sub-Acute Hospital (La Vie Care) in Pretoria, waar sy behandeling ontvang.

Heidi-Lene stadig maar seker op pad van herstel

 

Heidi-Lene Jonck, die 23-jarige plaaslike inwoner wat op 11 Maart vanjaar breinskade opgedoen het in ‘n bootongeluk op die Albasinidam, is stadig maar seker op die pad na herstel.

Volgens Elze-Marie du Preez, Heidi-Lene se suster, is sy op 3 Junie opgeneem by die Lynnmed Sub-Akute Hospitaal (La Vie Care) in Pretoria vir behandeling. Dit was grootliks te danke aan Tafelronde 66 van Louis Trichardt wat fondse ingesamel het, sodat 60% van die maandelikse koste betaal kon word. Die maandelikse koste vir behandeling beloop R49 500. Die Tafelronde het onderneem om tot einde September vir behandeling by te dra. Heidi-Lene se familie hoop egter dat meer fondse sal inkom, sodat sy tot die einde van Desember daar kan bly soos wat haar dokters aanbeveel. As dit nie gebeur nie, sal sy huis toe moet kom en probeer om te herstel sonder die behandeling wat sy so nodig het.

Elze-Marie sê dat die een ding wat haar verskriklik bekommer het ná die ongeluk was toe sy gehoor het dat die korrekte behandeling in die eerste ses weke ná so ‘n traumatiese ongeluk kritiek is. Dit het nie gebeur nie omdat Heidi-Lene vir vier weke in ‘n koma gelê het. Sy het die eerste sewe weke deurgebring sonder spesialis-behandeling. Ná dit was sy ‘n maand by die huis omdat sy in daardie stadium nie met behandeling kon begin alvorens die longontsteking en ander probleme opgeklaar het nie.

Sedert twee weke gelede het Heidi-Lene begin om terugflitse van die ongeluk te ervaar, wat paniekaanvalle tot gevolg het. Die  dokters sê egter dat dit goed is dat haar brein weer begin werk, al is dit op die oog af traumaties. Sy begin nou eers om sekere dinge te onthou. Sy het onlangs vir die eerste keer opgestaan met die hulp van stutte, maar sy het nog geen gevoel in haar voete nie en kan glad nie loop nie.

Heidi-Lene se dokter sê dat haar simptome soos na ‘n erge beroerte is. Hulle het vir Elze-Marie verduidelik dat dit nog minstens twee jaar sal wees voor dat hulle sal weet hoeveel beter Heidi-Lene sal word. Na twee jaar verwag hulle nie baie verandering nie, so vordering in hierdie stadium is kritiek. Heidi-Lene begin nou om stelselmatig letters en syfers te herken, maar sy kan glad nie lees nie.

Sy onthou dat sy ‘n derdejaar onderwysstudent was en sy werk hard om van die begin af weer te leer. Sy word baie moeg, maar sy hou aan met die werk, al word sy baie gefrustreerd en moedeloos.

Heidi-Lene was van ‘n jong ouderdom sportief en baie aktief. Sy het goed presteer in sport tydens haar skooljare by Hoërskool Louis Trichardt. Sy is nie ‘n persoon wat sommer opgee nie. Elze-Marie is baie trots op haar suster, vir wie sy sorg sedert Heidi-Lene se ma oorlede is toe dié nog in die laerskool was. Sy glo dat, met die Here se hulp, hulle saam hierdie groot krisis sal oorkom.

“Elke dag is nuwe grond,” se Elze-Marie. “Niemand kan jou voorberei vir so iets nie. Ons leer saam en ons gaan saam vorentoe met wat nog voorlê. Dit was Heidi-Lene se droom om ‘n onderwyseres te wees. Niks is onmoontlik met geloof in God nie,” sê sy.

Sy het almal bedank vir hulle gebede en ondersteuning. Daar is nog operasies wat wag in die toekoms. Littekens in Heidi-Lene se keel maak asemhaling moeilik en sal verwyder moet word, maar dit is nie die dringendste behandeling wat sy nou nodig het nie. “Dat haar brein genees moet word, is die belangrikste ding vir nou,” sê Elze-Marie.

‘n Facebook-blad is vir Heide-Lene geskep met video-grepe en nuus oor haar vordering. Die naam van die blad is Heidi-Lene Jonck By Faith You Will Walk Again. Die Tafelronde Zoutpansberg 66 administreer al die donasies wat ontvang is vir Heidi-Lene. Die rekeningbesonderhede, met verwysing Heidi-Lene, is Round Table 66, Eerste Nasionale Bank, rekeningnommer 528 668 32 804 en takkode 260149.

 

News - Date: 10 September 2018

Recent Articles

Search for a story:

 

Heidi-Lene glimlag saam met Elize-Marie. Elize-Marie kuier elke drie weke by haar suster in Pretoria, maar praat elke dag met haar oor Whatsapp en Video Call.

 

ADVERTISEMENT

 

Jo Robinson

Jo joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2018 pursuing a career in journalism after many years of writing fiction and non-fiction for other sectors.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: