ADVERTISEMENT:

 

Die swart mamba, een van die mees gevreesde slange plaaslik en wêreldwyd. Foto verskaf.

Hierdie slang het geen bekendstelling nodig nie

 

In hierdie week se rubriek oor slange van die Soutpansberg kyk ons na die swart mamba (Dendroaspis polylepis).

Die swart mamba is seker een van die mees gevreesde slange in die wêreld, met soveel stories en mites wat aan hom gekoppel word. “Hierdie stories en mites het die swart mamba ‘n baie slegte reputasie gegee, meeste waarvan daar geen waarheid aan is nie,” het plaaslike slangkenner en -vanger, Jan “Slang” van Rooyen, gesê.

Van Rooyen gee egter toe dat ‘n swart mamba ‘n gevaarlike slang is. “Swart mambas is die grootste giftige slang in suider Afrika en die tweede grootste giftige slang in die wêreld, met ‘n gemiddelde lengte van 2,5 tot 3 meter, maar hul kan tot en met ongeveer 4,5 meter lank word,” het Van Rooyen gesê. Daarbenewens, het Van Rooyen gesê, is die swart mamba ook die vinnigste giftige slang in die wêreld. “Maar hy kan nie ‘n perd of ‘n mens inhaal as jy weghardloop, soos baie stories beweer nie,” het Van Rooyen gesê.

Wat wel waar is, is dat ‘n swart mamba ‘n baie senuweeagtige slang is wat sy man sal staan as hy vasgekeer word. “Hy sal herhaaldelik pik as verdediging,” het Van Rooyen gesê. Hy het bygevoeg dat as ‘n swart mamba bedreig voel, hy ‘n smal bak sal maak met sy mond oop. “Dit sal die inkswart binnekant van sy mond wys, waar die slang sy naam vandaan kry – nie die kleur van sy lyf nie,” het Van Rooyen gesê.

Swart mambas kan uitgeken word aan hul doodskisvormige kop met ‘n loodgrys of olyfgrys kleur. Hierdie slange kan ewe goed tussen bome en struike beweeg as op die grond. Hul is ook territoriaal en sal dieselfde skuiling herhaaldelik gebruik as dit nie gesteur word nie. “Moet onder geen omstandige tussen die slang en sy wegkomkans staan nie; hy sal byt!  Wanneer jy dus hierdie slang teëkom, bly so stil as moontlik staan, totdat die slang wegbeweeg. Indien die slang dalk in ‘n huis is, maak deure en vensters toe en kontak iemand om die slang te verwyder,” het Van Rooyen gesê.

Volgens Van Rooyen sal ‘n swart mamba in die algemeen nie toelaat dat ‘n persoon nader as vier meter aan hom kom nie. “Maar ek vra weer, moenie die slang vaskeer nie! Dit gaan nie goed eindig nie,” het Van Rooyen gesê. In gevalle waar ‘n persoon gepik word, het Van Rooyen gewaarsku, is groot hoeveelhede teengif nodig. ‘n Persoon sal ook op ‘n ventilator geplaas moet word.

Vir verdere navrae het Van Rooyen inwoners uitgenooi om hom te skakel by tel. 081 217 9213. Hy, asook Frikkie Venter, kan gekontak word vir verwydering of bystand na ‘n byt. Frikkie kan geskakel word by tel. 082 058 7601.

 

News - Date: 09 November 2018

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: