ADVERTISEMENT:

 

Wyle John Struwig (74). Foto verskaf.

Pastoor John se dood gaan groot leemte laat

 

Die dood van die welbekende pastoor John Struwig van Louis Trichardt laat ‘n groot leemte in die gemeenskap.

“Dit is verseker nie lekker nie … Ek het dit glad nie verwag nie en dit was ‘n groot skok,” het John se vrou, Marietjie, Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

John is vroeg Saterdagoggend, 13 April, by sy huis aan ‘n hartaanval oorlede. Hy was 74 jaar oud.

Marietjie het vertel dat John vroeg die oggend opgestaan het en uitgestap het na die swembad-area om na die water situasie te gaan kyk. “Jy weet mos, water is maar altyd ‘n probleem in die dorp,” het Marietjie gesê.

Ná ‘n ruk het Marietjie hul klein hondjie histeries hoor blaf en sy het begin bekommerd raak waarom John nie terugkom nie. “Ek het uitgestap en hom inmekaar gesak gekry het. Ek het dadelik vir Oswald Eveleigh, wat by ons huur, geskakel. Hy het kom help dat ons hom in die huis in dra. Ek het besef dit is baie ernstig,” het Marietjie gesê.

John is per ambulans na die Zoutpansberg Privaathospitaal gejaag waar hy gesterf het te midde van dr. Anton Stroebel se pogings om hom te red.

Vir Marietjie is John se dood nog ‘n onwerklikheid. “Kan jy dit glo, hy het sy aftreepreek in die AGS-gemeente in Levubu op 31 Maart gelewer,” het Marietjie gesê. Tog glo sy vas dat haar man se saak reg was met die Here.

Marietjie vertel dat John sy geloof uitgelewe het op alle vlakke van die samelewing. Sommige inwoners sal hom onthou as die eienaar van Struwig Bouers en ander as pastoor John.

John het agt jaar gelede weggestap van die boubedryf en voltyds as pastoor by die AGS-gemeente op Levubu in die bediening getree. “Hy is egter al 15 jaar betrokke in die bediening en het 20 jaar gelede die Pathos Christi interkerklike mannekampe begin,” onthou Marietjie.

Dit was egter nie net in die kerk waar John sy geloof uitgeleef het nie. Plaaslik was hy voorsitter van die Leraarsforum, asook die Makhado Pastors Forum. Hy was ook behulpsaam met preekgeleenthede tydens saalopening by Hoërskool Louis Trichardt, asook openings en afsluitings by Laerskool Levubu. “Hy het ook elke Sondagaand ‘n diens by Ons Tuiste gehou,” het Marietjie met trane in die oë gesê. Sy het vertel hoe aandoenlik dit was toe die ouetehuis haar vroeër die week laat kom het sodat elkeen van die bejaardes wat John se dienste bygewoon het haar ‘n drukkie kon gee.

“Sy plek is leeg … Ek het vir hom die grootste bewondering gehad as besigheidsman en as Godsman. Hy was my beste vriend,” het Marietjie gesê. Sy en John sou vanjaar hulle 35ste huweliksherdenking gevier het. “Ons het mekaar aan die Rand ontmoet en is op 9 Oktober 1984 in die Haantjiekerk [NG Kerk Louis Trichardt] getroud,” het Marietjie met ‘n glimlag onthou.

Saam het die egpaar ses kinders grootgemaak. Een van hulle, Maryke, is drie jaar gelede aan kanker oorlede.

“Hy was ‘n ongelooflike pa vir sy kinders en kleinkinders. Hy was ‘n man na wie ons opgesien het,” het Marietjie gesê.

‘n Roudiens word eerskomende Saterdag, 20 April, om 11:00 vanuit die AGS Charisma in Munnikstraat, Louis Trichardt, vir wyle John gehou. Hy word oorleef deur sy vrou Marietjie, kinders Jacques en skoondogter Debrah, Etienne en skoondogter Elsabe, Santie en skoonseun Jorrie, Bianca en vriend André, Carlene en skoonseun Gerhard, kleinkinders en agterkleinkinders.

“Ons wil vir die Here dankie sê vir die wonderlike man, pa, oupa en grootoupa,” het Marietjie gesê. Sy het ook haar opregte dank uitgespreek teenoor Oswald, wat haar so vinnig bygestaan het, die ambulanspersoneel, sowel as dr. Anton Stroebel en die personeel van die Zoutpansberg Privaathospitaal. “Dankie ook aan sy broer Peet en vrou Patcy Struwig, asook my susters Magda en Hannie, vir julle wonderlike ondersteuning aan my,” het Marietjie gesê. Ter afsluiting het sy almal bedank vir hulle oproepe, gebede, bystand en woorde van vertroosting.

 

News - Date: 20 April 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: