ADVERTISEMENT:

 

Wyle tannie Matilda de Jager.

Tannie Tillie de Jager sterf

 

Heelwat inwoners van die Soutpansberg sal tannie Tillie de Jager onthou. Sy en haar man, oom Chris, het vir meer as veertig jaar in Louis Trichardt gewoon. Sy is egter op Dinsdag, 4 Junie, in die ouderdom van 92 jaar oorlede.

Oom Chris en tannie Matilda het die streek in 2014 verlaat, nie lank na ‘n brutale aanval op hulle by hul plaaswoning nie. Die De Jager-egpaar het op die plaas Cloud's End, net noord van die dorp, gewoon. Dit is juis op hulle plaas wat die verligte kruis opgerig is wat kilometers ver gesien kan word. Oom Chris het in 2002 grond beskikbaar gemaak waar die kruis opgerig kon word.

Tannie Matilda is op 23 November 1926 op Piet Retief gebore waar sy op ‘n plaas grootgeword het. Dit is ook hier waar sy haar man, oom Chris, ontmoet het toe hy ‘n onderwyspos daar aanvaar het. Van Piet Retief af is hulle na Hendrina en het toe vir baie jare op Vivo gewoon waar oom Chris later skoolhoof was. Hul vier seuns het ook hier grootgeword. Die egpaar het in 1970 na Louis Trichardt verhuis.

Na sy aftrede was oom Chris nog betrokke by die onderwys, maar sy passie was evangelisasiewerk. Hy het by die plaaslike tronk bedieningswerk onder die gevangenes gedoen. “Ek hou nou nog dienste vir my werkers hier op my plot, elke oggend voor hulle begin met die dag se werk,” het oom Chris destyds in ‘n onderhoud met die Zoutpansberger gesê.

Nie lank na die aanval op hulle in 2013 nie, het oom Chris en tannie Matilda besluit om nader na die stad te trek. Hulle het eers na ‘n ouetehuis in Parys gegaan, maar toe getrek na Huis Tianet, ‘n versorgingsoord in Sinoville, Pretoria. In Desember 2015 is Oom Chris in die rype ouderdom van 100 oorlede.

Tannie Matilda sal veral onthou word vir haar gasvryheid. Die De Jagers se huis was altyd oop vir gaste en die pragtige tuin was tannie Matilda se trots.

Sy word oorleef deur haar drie seuns, Hennie (eggenote Annatjie), Johann en Kobus (eggenote Zelda), asook 11 kleinkinders en tien agterkleinkinders. Een seun, Christo, is in 2014 kort nadat hulle Parys toe getrek het, oorlede.

‘n Roudiens vir wyle tannie Matilda is gehou op Woensdag, 12 Junie, in Doornpoort, Pretoria.

News - Date: 14 June 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

Email:

ADVERTISEMENT: