ADVERTISEMENT:

 

Wyle oom Hansie Uys (90).

Soutpansberg se legendariese oom Hansie Uys oorlede

 

‘n Hoofstuk is afgesluit in die geskiedenis van die Soutpansberg met die dood van die legendariese oom Hansie Uys (90).

Die alombekende oom Hansie is Maandagmiddag net na vyf oorlede. Sy gesondheid het die week voor sy dood dramaties agteruit gegaan. Hy is sowat ‘n maand gelede opgeneem in die siekeboeg by Ons Tuiste Ouetehuis, omdat hy hulp nodig gehad het na ‘n val en heupvervanging.

“Ons het gesien die einde kom nader ... Ek is nie hartseer nie, eerder verlig dat hy nie langer gely het nie,” het oom Hansie se eggenote van bykans ses dekades, die 79-jarige tannie Corrie, Woensdag gesê.

Tannie Corrie en oom Hansie sou hierdie week, op 18 Julie, hul 60ste huweliksherdenking vier. “Ons almal het gedink hy wag net daarvoor, maar ek dink hy kon net nie meer uithou nie,” het tannie Corrie gesê.

Vir tannie Corrie was daar net goeie tye saam. “Hy het altyd gesê hy het voor my geen nooi gehad nie. Ek was sy eerste en sy ma het dit beaam,” het tannie Corrie gesê. As geheim vir ‘n gelukkige huwelik het sy ook gesê dat sy nie kan onthou dat hulle ooit rusie of verskille gehad het nie. “Ons het ‘n Siamese brein gehad. Wat die een gedink het, het die ander een gesê ... Ons het nooit kwaad vir mekaar gaan slaap nie,” het tannie Corrie gesê.

Volgens tannie Corrie het hulle baie goeie tye saam deurgebring. “Hy het ‘n ryk lewe gehad en gedoen wat hy wil,” het tannie Corrie gesê. “Ek is seker my pa en ma en sy pa en ma is tevrede,” voeg sy by.

Oom Hansie het ‘n ryk nalatenskap gelos in die Soutpansberg en omstreke. Nie net was hy deel van Hoërskool Louis Trichardt se eerste matriekklas nie, maar op sy tyd was hy ook een van die vinnigste vleuels in die destydse Rhodesië. So het die 94-jarige oom Ted Uys sy swaer onthou. Hulle het saam in die vroeë 1950’s op ‘n tabakplaas in die buurland gaan werk.

Oom Hansie is in 1929 op Standerton gebore, maar het op Springs grootgeword. Toe die gesin in 1943 na die noorde van die Soutpansberg verhuis het, het die jong Hansie eers in Pretoria gebly en skoolgegaan by Afrikaans Hoër. Ietwat oorhaastig het hy besluit om skool na standerd agt te los. Hy het gou sy fout besef, maar toe besluit om sy matriekjaar eerder in Louis Trichardt te voltooi.

“Mnr. Marius Brönn, die hoof, het my toegelaat om in matriek te wees sonder standerd nege en met net drie kwartale in 1947 oor,” het oom Hansie altyd vertel. Die besluit was egter nie gewild onder al die personeellede nie en veral die vise-hoof van destyds het sy bes probeer om mnr. Brönn verkeerd te bewys. “Hy het my voor almal as die swakste en treurigste matrikulant in die destydse Britse Statebond genoem,” het oom Hansie in lewe onthou. Dit was egter oom Hansie wat die laaste hou ingekry het. Hy het al ses sy vakke in die matriekeindeksamen geslaag. Slegs 15 van die skool se 20 matrieks kon dit regkry.

Ná skool het oom Hansie voltyds en deeltyds studeer en verskeie vaardighede aangeleer. Hy het diplomas verwerf in meganiese en elektriese ingenieurswese. Hy het hom bekwaam as ‘n dieselwerktuigkundige en het geleer hoe om bedrading te doen. Hierdie vaardighede het hom latere jare goed te pas gekom as elektrisiën op Louis Trichardt. Hy het vir etlike dekades instandhouding gedoen by onder meer die Brenner meulens en Hunt, Leuchars en Hepburn se saagmeulens.

Baie inwoners ken die Uys-egpaar egter as ywerige versamelaars. Of dit nou ou motors of koekoekklokke was, oom Hansie en tannie Corrie sou nuuskierig naderstaan. Oom Hansie het in ‘n stadium met een van die land se grootse versamelings van modeltreine gespog. Hy het ook ‘n reeks ander “beroepe” aangedurf, waarvan een dié van streeksjoernalis was. Hy het vir baie jare diens gedoen as korrespondent vir die destydse Transvaler en Noord-Transvaler koerante, asook die Landbouweekblad. Hy was selfs die SAUK radiodiens se korrespondent hier uit die noorde. In lewe was oom Hansie ook ‘n kranige bouer van stoommodelle.

Teen druktyd was daar nog geen begrafnisreëlings bekend nie. Tannie Corrie het wel gesê dat oom Hansie veras gaan word en sy as in die gedenkmuur by die Haantjiekerk geplaas gaan woord. Hy word oorleef deur sy liefde van bykans 60 jaar, tannie Corrie, dogter Nonna, seun Johan, vier kleinkinders en drie agterkleinkinders.

Tannie Corrie het haar dank uitgespreek teenoor almal se boodskappe van vertroosting en ondersteuning. “Mense wie ek vir jare nie gesien het nie, het gebel,” het tannie Corrie gesê. Sy het ‘n spesiale woord van dank gerig aan Nonna en Brink en Dawn en Gideon vir hul bystand sedert oom Hansie se dood.

 

News - Date: 20 July 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: