ADVERTISEMENT:

 

Tannie Susan Fernandes wag nou al amper sewe maande vir haar rybewys wat sy by die Makhado Munisipaliteit gaan hernu het. Niemand kan vir haar sê wat die vertraging in die uitreik van die rybewys veroorsaak nie. Intussen moet sy nou al op eie koste vir ‘n tweede keer gaan aansoek doen vir ‘n tydelike rybewys. Saam met haar is haar man Joe.

Vertraging kos pensioenaris baie duur

 

Die 73-jarige me. Susan Fernandes van Louis Trichardt is radeloos gesukkel met die Makhado Munisipaliteit se lisensie-afdeling en wag nou al maande vir haar rybewys nadat sy gegaan het om dit te hernu.

Susan sê sy het opgemerk dat haar rybewys op 12 Junie vanjaar gaan verval en het reeds op 26 April gegaan om dit by die munisipale kantore te gaan hernu. Amper sewe maande later wag sy steeds vir haar rybewys.

Die Makhado Munisipaliteit se lisensie-afdeling is berug vir lang toue en vertragings, tot so ‘n mate dat heelwat inwoners deesdae verkies om eerder hul aansoeke vir leerlingrybewys en hernuwing van rybewyse in plekke soos Morebeng (Soekmekaar) en selfs so ver as Mogwadi (Dendron) te gaan doen om flinker diens te kry.

Maar wat het verkeerd gegaan in Susan se geval?

Volgens Susan het sy alles gedoen wat nodig was om haar in staat te stel om haar lisensie te hernu. Dit het ingesluit ‘n doktersverslag, oogtoets en foto’s – alles teen ekstra koste vir haar as pensioenaris. “Toe ek die dag gaan, het die persoon by die munisipaliteit vir my gesê daar is ‘n probleem met my vingerafdruk. Blykbaar tel die stelsel dit nie op die. Ek vermoed dit is maar weens my ouderdom dat my vingerafdruk feitlik heeltemal weg is,” het Susan gesê.

Susan is daarna na die munisipale inligtingstoonbank verwys, waar sy meegedeel is hulle sou haar aansoek om hernuwing verder hanteer. “Ek het nou al hoeveel keer geskakel en probeer uitvind waarom my aansoek so lank neem. Telkens word ek meegedeel ‘ons wag vir Polokwane’ waarnatoe hulle my vorms gestuur het,” het Susan vertel.

Om aan die regte kant van die gereg te bly, het Susan op 10 Junie gaan aansoek doen vir ‘n tydelike lisensie. “Hy verval nou Desember weer en steeds het ek nie my rybewys nie. Nou moet ek weer op my as pensioenaris se koste aansoek doen vir nog ‘n tydelike rybewys,” het Susan gesê. Haar man Joe sluit aan by haar: “Ek wonder hoeveel ander pensioenarisse sit met dieselfde probleem en moet herhaaldelik aansoek doen vir tydelike rybewyse?” Die twee het so ‘n vinnige sommetjie gemaak en uitgewerk dat elke tydelike rybewys hulle sowat R400 kos. Die doktersbesoek maak die grootste deel van die koste uit.  “Dit is meeste oumense wat afhanklik is van staatspensioen se kosgeld wat hierdeur opgeëet word. Baie pensioenarisse kan dit doodeenvoudig nie bekostig nie,” het Joe gesê.

Die koerant het Maandag aan die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, gevra of hy meer lig kan werp op wat presies die vertraging in Susan se aansoek om hernuwing veroorsaak. Hy het ontvangs van die navraag erken en gesê dit is na die relevante afdelings verwys. Teen Woensdagmiddag is nog geen terugvoer ontvang nie.

News - Date: 09 November 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: