ADVERTISEMENT:

 

TLU SA Noord se streekvoorsitter, mnr. Henk van der Graaf.

Bek-en-klouseer tans deur jintelmans-ooreenkoms beheer

 

Daar blyk geen of min beweging te wees vanaf regeringskant om die huidige uitbreking van bek-en-klouseer in die Limpopo Provinsie te bekamp.

“Ek dink die siekte gaan eerder versprei as gestop word,” het TLU SA Noord se streeksvoorsitter, mnr. Henk van de Graaf, Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê. Volgens hom moes daar al lankal padblokkades in plek gewees het om die vervoer van gekloofde-hoef diere te beperk. “Solank dit nie gebeur nie, gaan die siekte versprei. Ek sien gereeld bakkies op die paaie met diere rondry uit woongebiede,” het Van der Graaf gesê.

Veeartsenydienste is op 1 November in kennis gestel dat bek-en-klouseer positief in ‘n trop beeste in die Molemole distrik (Dendron area) geïdentifiseer is. Die uitbreking volg kort op die hakke van ‘n soortgelyke geval vroeër vanjaar toe die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye op 7 Januarie ‘n uitbreking van bek-en-klouseer in die Vhembe Distrik bevestig het. Dit het daartoe gelei dat die Wêreld Organisasie vir Dieregesondheid (OIE) Suid-Afrika se bek-en-klouseer-vrye-sone status opgeskort het.

Al dramatiese ingryping vanaf regeringskant wat betref die huidige uitbreking is dat die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling alle lewende-hawe veilings in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en Noordwes tot verdere kennisgewing opgeskort het, nadat die uitbreking aanvanklik teruggespeur is na ‘n veilingskraal in die provinsie. Die afgelope week het die departement gesê dat die siekte by 10 plekke in die provinsie geïdentifiseer is.

Dié aankondiging dat alle veilings opgeskort is in die vier provinsies het as uiters slegte nuus gekom vir boere wat reeds op hul knieë gedwing word deur ‘n landswye droogte. “Veilings was die vinnigste manier om baie van jou diere op die mark te sit. Die feit dat veilings gestop is, is vir boere is ‘n groot probleem. Jy moet onthou, met die knellende droogte was baie boere op die punt om hulle beeste te verkoop. Hulle het ook ten duurste gevoer en nou kan niemand sy beeste verkoop nie. Nou moet hy een-een of twee-twee verkoop ... dit gaan gebeur dat van die boere se beeste in die veld gaan vrek en dat hulle alles verloor. Hierdie is ‘n groot ding!” het Van der Graaf gesê.

Die rimpel-effek van die huidige uitbreking het ook ‘n katastrofiese uitwerking op die vleis uitvoermark, met kenners wat meen die huidige uitbreking en die een vroeër vanjaar het die land al miljarde rande in verliese gekos. Plaaslik het die TLU SA ook onlangs gewaarsku dat vleistekorte kan voorkom as gevolg van die uitbreking. Hy het genoem dat hulle reeds verneem het van vleistekorte in Gauteng.

Volgens Van der Graaf is die regering se gebrek aan aksie uiters frustrerend. “Nou word daar ‘n appèl gemaak op die boere: Julle moet ons asseblief help, julle moet nie julle goed vervoer nie, julle moet nie veilings hou nie … maar die Staat van sy kant doen niks nie,” het Van der Graaf gesê. Hy het verwys na die feit dat die Staat nog nie eens maatreëls gepromulgeer het ten opsigte van ‘n verbod op die vervoer en verkoop van vleis nie.  “Daar is nog niks gepromulgeer wat sê jy mag nie die vleis verkoop of vervoer nie. Dit is maak nog alles deel van ‘n ‘jintelmans ooreenkoms’ wat op die oomblik op die tafel is. Die minister het wel in ‘n mediaverklaring gesê hulle plaas ‘n moratorium op veilings, maar as die veilingshuise dit nie wil doen nie, solank dit nie gepromulgeer is nie, hoef hulle dit nie te doen nie. Ek dink dit is baie edel en baie goed van hulle [veilingshuise]  om te sê: ‘Goed, ons hou daarby, want dit is tot almal se voordeel dat die bek-en-klouseer in die bek geruk word’,” het Van der Graaf gesê.

Van der Graaf het daarop klem gelê dat alhoewel niks ‘n boer verhoed om sy bees te verkoop of te vervoer nie, meeste boere meer as gewillig is om saam te werk tot almal se voordeel. “Die maatreëls wat, kom ek sê onderhandel is, is nie onbillik nie. Maar ek meen ja, as jy moet beeste verkoop om te kan oorleef dan moet jy dit kan doen. Dan kan jy dit vervoer. Onthou, ‘n bek-en-klouseer bees is nog steeds geskik vir menslike gebruik. Al wat gebeur is jy moet hom dan net heeltemal ontbeen. Jy kan nie sy bene saamvat nie,” het Van der Graaf gesê. Hy het bygevoeg dat ‘n boer ook ‘n sertifikaat vanaf die Staatsveearts, ongelukkig teen ‘n koste, kan bekom wat aandui dat sy beeste vry is van bek-en-klouseer.

So, alhoewel die Departement versoek het dat alle veilings van lewende hawe opgeskort word en dat boere die vervoer van gekloofde-hoef diere moet beperk, kan boere steeds handel dryf met hul diere. Van der Graaf se oproep is egter dat dit met groot omsigtigheid moet plaasvind en met die nodige sertifikate en permitte. “Onthou, bek-en-klouseer vat nie net beeste nie, hy vat die skape, varke en die wild ook … enige gekloofde-hoef dier. So, dit is ‘n bok, ‘n njala, ‘n koedoe – dit is die hele lot van hulle. Kom ons werk dus as een groot span saam,” het Van der Graaf gesê.

Op ‘n vraag of dit dan wys sal wees, sou ernstige vleistekorte ondervind word oor die feestydperk, om vleis direk by boere aan te koop, het Van der Graaf gelag. “Daardie boer gaan in sy skik wees as dit gebeur, want die boer gaan vir die eerste keer in sy lewe ‘n beter prys kry vir sy produk, en die verbruiker gaan vir die eerste keer in sy lewe minder betaal as wat hy in die winkel gaan betaal. Dit sal ‘n wen-wen wees,” het Van der Graaf gesê.

* Sedert voorafgaande artikel in die Zoutpansberger op 6 Desember 2019 verskyn het, het dit aan die lig gekom dat die Minister van Landbou, me. Thoko Didiza, op 5 Desember 2019 ‘n landswye verbod op die hou van lewende hawe veilings in die Staatskoerant gepubliseer het in ‘n poging om die verspreiding van die siekte te probeer bekamp.

News - Date: 07 December 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: