ADVERTISEMENT:

 

Die 29-jarige Danie Mienie, wat al vir etlike weke in kwarantyn in Italië is te midde van die COVID-19 pandemie. Italië was teen Woensdag steeds die land met die hoogste sterftesyfer in die wêreld weens die virus en Danie se boodskap aan Suid-Afrikaners was eenvoudig: Neem die virus ernstig op. Foto: Danie Mienie Facebook.

Virus nie ‘n grap nie!

 

“As ek vir die mense in Suid-Afrika ‘n boodskap kan stuur, sal dit wees om hierdie ding ernstig op te vat. Dit is nie ‘n grappie nie … Bly by die huis! Was jou hande en moenie met die virus mors nie. Hy sal jou doodmaak as jy met hom speel!”

Dit was die waarskuwings van die 29-jarige Danie Mienie wat hom tans in ‘n staat van totale inperking bevind in Italië te midde van die internasionale COVID-19 pandemie. Italië is tans die land met die meeste sterftes weens die virus, met die dodetal wat Woensdagoggend reeds op net meer as 12 400 gestaan het en met bykans 105 800 bevestigde gevalle van siekes. Die Zoutpansberger het Sondag via WhatsApp met Danie gesels.

Met ouers Nick en Rita Mienie wat steeds op Louis Trichardt woonagtig is, het Danie min bekendstelling in die Soutpansberg nodig. As oud-leerling van Hoërskool Merensky het hy sy professionele rugbyloopbaan as stut by die Sharks begin en daarna ook vir die Cheetahs en Lions uitgedraf in die Super Rugby reeks. Op internasionale vlak het hy vir Toulouse in Frankryk uitgedraf in die Top 14-liga en tans speel hy vir die Rovigo Delta-rugbyklub in Italië in die Top 12-liga. Hy bly tans in Rovigo.

“Ons het ook aan die begin gedink dit is iets wat maar gaan oorwaai, maar twee maande later sit ons met meer as 11 000 mense wat al dood is,” het Danie Sondag gesê. Intussen het die dodetal met bykans 1 000 mense gestyg tot en met Woensdagoggend.

Danie het gesê hy sien mense in Suid-Afrika dink nog die pandemie is ‘n grap. “Ek sien baie video’s van mense wat grappies maak … maar ek sal vir julle sê, dit is ‘n verskriklike ernstige ding hierdie,” het Danie gesê. Hy het vertel dat hulle so ‘n maand of twee gelede gehoor het van die eerste gevalle van mense van Milan in die noorde van Italië wat positief getoets het vir die gevreesde virus. “Dit was eers net 10 mense en toe ‘n dag daarna was dit 150 mense. ‘n Paar dae daarna was dit 500 mense. Italianers het ook net aangegaan met hulle lewens. Niemand het regtig geworry daaroor nie … In ‘n baie kort tydjie het hierdie ding verskriklik handuit geruk,” het Danie gesê met verwysing na hul jongste infeksie- en sterftesyfers.

Danie vertel dat soortgelyke stappe as wat tans in Suid-Afrika afgekondig is, reeds weke gelede deur die Italiaanse regering ingestel is. “Rugbygewys het hulle ons so ‘n maand gelede laat ophou oefen, ophou na die klub toe gaan en ophou kontak maak met mekaar. Omtrent ‘n week ná dit het hulle kwarantynmaatreëls begin instel hier in Italië, waar al die sportbyeenkomste gestop is. Al die kroeë, koffiewinkels het toegemaak – basies soos dit nou in Suid-Afrika is,” het Danie gesê.

Danie sê tans is hulle almal in kwarantyn in hul huise, met die Italiaanse regering wat mense se bewegings in die strate streng monitor. “Ons mag net winkel en hospitaal toe gaan. As jy winkel toe gaan, en jy bly saam met iemand, mag net een-een op ‘n slag gaan. Jy moet jou gesigmasker en handskoene aanhê. Jy mag glad nie by ‘n winkel ingaan as jy nie die nodige masker en handskoene aan het nie,” het Danie gesê.

Soortgelyk aan Suid-Afrika tans, het Danie gesê, doen die Italiaanse regering hul bes om seker te maak die winkelrakke bly vol.  “Die enigste probleem is dit is so moeilik om by die winkel in te kom. As jy op enige gegewe tyd by die winkel aankom, dan staan daar honderde mense met hulle trollies in die straat af in rye om in te gaan. Hulle laat net ‘n sekere hoeveelheid mense in die winkel toe op een slag. Sodra een persoon uitkom, dan kan die volgende persoon weer ingaan,” het Danie gesê.

Ten spyte van die streng beperkings op mense se bewegings styg die dodetal in Italië egter steeds. “Gister of eergister, ek is nie seker wanneer dit was nie, het ons weer die rekord gebreek. Dit is asof ons elke dag ‘n rekord breek hier. Eerste rekord wat gebreek is, was 500 mense dood in ‘n dag. Die volgende dag toe was dit sommer 700. Toe, die volgende dag, was dit sommer 900. Gister is meer as 1 000 mense in een dag dood en dit lyk nie of dit beter word as ek na die statistieke kyk nie,” het Danie Sondag gesê en weereens klem geplaas op die erns wat mense met die virus moet maak.

Intussen is die afsondering vir almal moeilik. “Dit is regtig moeilik. Ek sit vas hier. Die kanse dat ek enige tyd binnekort kan terugkeer Suid-Afrika toe is maar baie min. Alle vlugte in en uit Italië is gestop. Intussen doen ons wat ons kan om nie tydens kwarantyn mal te raak nie. Ek het aangesluit by die Rooikruis organisasie hier in Italië, waar ‘n paar van die rugbyspelers gaan help om kospakkies, gesigsmaskers, handskoene en sulke goed op te maak vir die mense wat dit nie kan bekostig om by ‘n winkel uit te kom nie of nie hierdie goed in die hande kan kry nie,” het Danie gesê.

Volgens Danie het die hele pandemie hom weereens laat besef dat die mensdom nie in beheer is van sy eie toekoms nie. “Die mensdom is glad nie in beheer nie. Dit bly ons Heilige Vader wat in beheer is. Ek sien elke dag die ellende en die hartseer met die dinge wat hier aangaan. Maar ons probeer positief bly,” het Danie gesê. In dieselfde asem het hy gesê hy is glad nie bekommerd dat hy die virus sal kry nie. “Ek glo ons Hemelse Vader sal my bewaar teen dit, alhoewel dit nog steeds belangrik is dat ek die nodige doen om myself te beskerm teen die virus,” het Danie gesê. Sy grootste bekommernis is vir sy familie in Suid-Afrika. “Ek is wel bekommerd oor my ouers en ouma by die huis. Ek weet hulle doen hul deel om veilig te bly, maar ek weet ook dat die mense wat nog steeds dink dit is ‘n grap ons almal en ons geliefdes in gevaar stel. Ek is hier in die middel van die gemors en ek beleef elke dag die gevaar van hierdie virus,” het Danie gesê.

 

News - Date: 03 April 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: