ADVERTISEMENT:

 

Die erg verwaarloosde en beseerde hond wat die DBV op die N1 opgetel het en probeer help het. Binne 72 uur het die hond gevrek, maar nie alvorens sy ‘n lid van die plaaslike DBV gebyt het nie. Maandag is bevestig dat die hond hondsdolheid gehad het. Foto verskaf.

Dol hond byt DBV-lid

 

Te midde van die wêreldwye histerie rondom die Covid-19 pandemie blyk dit dat baie mense vergeet het van veel erger siektes, soos die virus wat hondsdolheid veroorsaak en ‘n feitlik 100% sterftesyfer onder mense het.

Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het die afgelope week inwoners van Louis Trichard en omstreke gewaarsku dat ‘n bevestigde geval van hondsdolheid in die streek voorgekom het. Dit nadat besluit is om die brein van ‘n hond te ontleed wat in aanhouding was by die Louis Trichardt Dierebeskermingsvereniging. Die hond is Maandagoggend, 13 Julie, dood in haar hok gekry, maar nie alvorens sy die vorige dag ‘n lid van die plaaslike DBV gebyt het nie. Maandag hierdie week is bevestig dat die hond wel hondsdolheid gehad het.

Vir Alicia Thomas, ‘n bestuurslid van die plaaslike DBV, wat deur die hond gebyt is, was dit ‘n noue ontkoming gewees.  

“Cindy wat hier vir ons werk in die kliniek het die hond Saterdag, 11 Julie, opgetel op die N1. Sy het letterlik doodstil in die pad gestaan. Cindy het gestop, die hond opgetel, en DBV toe gebring. Daar was ‘n verbyganger wat gesê het hy weet wie se hond dit is. Die hond het egter so sleg gelyk. Die een agterbeen was af en Cindy het vir die man gesê dat die eienaar sy hond maar by die DBV moet kom kry. Nodeloos om te sê, die eienaar het nooit gekom nie,” het Alicia hierdie week aan die Zoutpansberger gesê.

Alicia het vertel dat sy Sondag, 12 Julie, spesiaal ingegaan het om onder meer na die hond se toestand te kyk. “Die hond het verskriklik gebewe en ek wou vir haar pyn medisyne ingee. Alhoewel die af been ‘n ou wond was, moes dit seer gewees het. Toe ek die pil in haar keel probeer plaas, het die hond so eenkeer na my gehap. Die tweede keer het ek haar letterlik net opgetel om in ‘n mandjie te sit sodat sy warmer is, toe gryp sy my arm. Sy het bloot gebyt en vasgehou. Gelukkig het ek kalm gebly en nie weggeruk nie. Alhoewel ek groot geskrik het, het ek net gewag dat sy my weer los,” het Alicia gesê. In daardie stadium was die moontlikheid dat die hond dalk hondsdolheid het nie eers ‘n gedagte by Alicia nie. “Ek het gedink sy het my gebyt uit pyn-aggressie weens haar beserings,” het Alicia gesê.

Met die DBV arbeiders se aankoms by die werk Maandagoggend, 13 Julie, het hulle die hond dood gekry in haar hok. “Ons personeel het ons meegedeel dat die hond Sondagmiddag erg begin tekere gaan het. Sy het die hok se drade begin kou en was uiters aggressief gewees. Dit was glad nie die geval gewees toe ek by die hond was Sondag nie. Duidelik het haar gedrag geëskaleer. Toe ek hoor die hond is dood, asook haar gedragsverandering, toe besluit ek ek gaan eerder veilig speel en gaan vir behandeling,” het Alicia gesê.

Gelukkig vir Alicia is haar hondsdolheid inentings op datum. “Maar as jy gebyt word, moet jy steeds gaan vir ‘n booster inspuiting (om die immuunstelsel te help). Twee weke ná dit moet jy weer so ‘n inspuiting kry, wat ek nou gister [Maandag] gekry het. Maar ja, ek is baie, baie dankbaar ek het besluit om eerder te gaan vir behandeling,” het Alicia gesê.

Die hondsdolheid virus word van diere (in meeste gevalle honde) na mense oorgedra in die dier se speeksel wanneer die dier iemand byt. Die virus kan ook deur snye, die mond of oë die mens infekteer. Die eerste simptome van infeksie sluit in hoofpyn, angs, koors, braking en uiterste vrees vir water. Daarna volg verlamming, koma en die dood. Dit neem gewoonlik twee tot 10 weke vir mense en diere om simptome te toon ná infeksie. Wanneer mens of dier die tekens begin toon, is geen behandeling moontlik nie en die persoon of dier sal sterf. Om dadelik ná ‘n byt van ‘n vermoedelik hondsdol dier met behandeling te begin, voordat die simptome begin wys, is dus uiters belangrik. Was die wonde onmiddellik deeglik, verkieslik met ’n ontsmettingsmiddel. Kry so gou moontlik mediese behandeling en onthou dat die behandeling uit ’n reeks inspuitings bestaan en ‘n persoon die volledige reeks moet ontvang.

“Ek dink nie mense besef hoe baie hondsdolheid gevalle daar in ons area is nie. Dit is volop. Dit word net nie aangemeld nie of daardie diere gaan net dood. Die hond wat my gebyt het, is binne 72 uur net dood. Wanneer hulle begin simptome wys, is dit vinnig,” het Alicia gesê. Wat hierdie spesifieke hond betref, is sy uiters bekommerd. “Die probleem is nou, mens weet nie met wie was daardie hond in kontak nie, want dit is speeksel en dit is bloed. Sy kon ander honde gebyt het en sy kon mense gebyt het. Mens sal nie weet nie. Ons weet ook nie wie is die eienaar nie,” het Alicia gesê.

Wat die moontlikheid betref dat ander personeellede by die plaaslike DBV aan die virus blootgestel kon gewees het, het Alicia gesê dat alle personeellede se inentings op datum is teen die virus. “Die protokol verander net ten opsigte van die graad van blootstelling, soos om deur ‘n dier gebyt te word. Net ek is gebyt,” het Alicia gesê. Sy het ook bygevoeg dat geen ander diere aan die besmette hond blootgestel is nie. “Die hond was in isolasie die hele tyd,” het sy gesê.

Alicia het bygevoeg dat inwoners beslis bekommerd moet wees oor die gevaar van hondsdolheid. Goeie nuus is egter dat die Legacy Vet Shop by die plaaslike DBV en die Blouberg Dierekliniek besluit het om saam te werk ten opsigte van ‘n veldtog teen hondsdolheid. Hulle het Woensdag aangekondig dat inwoners vanaf 1 tot 31 Augustus vir slegs R20 per inenting hulle diere kan kom inent teen die virus.

 

News - Date: 01 August 2020

Recent Articles

Search for a story:

 

Alicia Thomas van die plaaslike DBV wys die bytmerk waar die hondsdol hond haar aan die arm gegryp het. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: