ADVERTISEMENT:

 

Hanlie Nagel se oupa Cornelius Johannes Marais se eetstoeltjie lê haar na aan die hart. Sy skat dat die stoeltjie digby 130 jaar oud moet wees. Foto verskaf.

Inperking gee mense tyd om “skatte” uit te snuffel

 

Die grendeltyd het aan baie inwoners die geleentheid gebied om ‘n bietjie huis skoon te maak.  Op hierdie manier is dikwels ou skatte ontdek of net weer opnuut afgestof en bewonder – iets waarvoor bedrywige mense normaalweg nie altyd tyd het nie.

Christo en Elmarie Coetzee was in besit van ou Bybels. Elmarie vertel gretig dat Christo se oom, Piet Engelbrecht, by die drukkery van die Universiteit van Pretoria gewerk het waar hy onder meer boeke gerestoureer het. Hy het hierdie Bybels van iemand gekry om te restoureer. Voordat hy dit egter kon klaar doen, is hy oorlede en het sy vrou in besit daarvan gekom. Sy het dit toe ná die dood van haar tweede man aan Christo se ma oorhandig, want sy het gevoel sy wil dit nie in haar besit hê nie.

“Christo se ma het 'n paar jaar gelede toe ook so daaroor gevoel, en besluit om dit vir hom (Christo) te gee, aangesien ons lief is vir oudhede, en sy geweet het ons sal dit goed bewaar. Ons het dit aanvanklik in die huis gehou, met die idee om die oorspronklike familie aan wie dit behoort het te probeer opspoor,” vertel Elmarie.

Alle pogings om die familie op te spoor was egter tevergeefs en die Coetzees het besluit om dit aan die Oorlogsmuseum in Bloemfontein te skenk. “Toe ons tydens 'n vakansie die museum besoek het, het ons gesien hoeveel moeite daar gedoen word om hierdie tipe goed te bewaar. Ons kon ook aflei uit die geskrifte en geslagsregister daarin dat die Bybels wel dateer uit die Anglo-Boere-oorlogtydperk, en dus goed sou inpas by die res van die Museum se versameling,” sê Elmarie.  

Hanlie Nagel het in hierdie tyd opnuut onder die indruk gekom van die familie-erfstukke wat, sedert die afsterwe van haar ouers toe sy sestien jaar oud was, in haar besit gekom het.

Haar oupa Cornelius Johannes Marais se eetstoeltjie lê vir Hanlie na aan die hart. Sy skat dat die stoeltjie digby 130 jaar oud moet wees. Dit kom van die plaas Schaapkraal in die Bethal omgewing. Sy het ook ‘n melkkannetjie van haar einste oupa. “Die kannetjie moet hier by die 70 jaar oud wees. Kyk na die plaasnaam: ‘Sukkelaar’ by Schaapkraal naby Bethal,” voeg Hanlie by.  Hanlie se ma, Johanna Marais, het daar grootgeword.

“By my ouma Johanna Pietronella Marais (néé Whiteman) het ek ‘n ou Singer naaldwerkmasjien geërf. Die masjien dateer uit die 1950's, skat ek. Ek is haar naamgenoot. Sy is gebore in 1907,” sê Hanlie nostalgies.

“Die waskom was my oumagrootjie Whiteman s’n. Sy was die ma van my ouma Johanna Pietronella Marais.  Die wa-kis waarop die waskom op die foto staan, is ‘n oorspronklike wat met die Groot Trek gebruik is en het nog 'n Hollandse inskripsie binne-in in my oupagrootjie Cornelius Johannes Marais se handskrif.

“Een van die Familiebybels wat aan my man, Innes, behoort, is die De Villiers Bybel. Dit het aan Innes se ouma se pa behoort en dateer uit 1906. Let op na die name: ‘Lourens Johannes Gerdruida Johanna’ – Innes se ouma!”

In die bewaringswêreld vertel elke item ‘n verhaal. Hierdie verhale moet opgeteken word en aan jonger generasies oorgedra word. Waar daar inskripsies is, of geslagsregisters voorin Bybels, maak dit hierdie erfstukke soveel meer waardevol omdat hierdie inligting weer kan lei tot die saamstel van stambome of familiegeskiedenisse.

News - Date: 02 August 2020

Recent Articles

Search for a story:

 

Christo en Elmarie Coetzee was in besit van ou Bybels. Elmarie vertel gretig dat Christo se oom, Piet Engelbrecht, by die drukkery van die Universiteit van Pretoria gewerk het, waar hy onder meer boeke gerestoureer het. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Pétria de Vaal

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: