ADVERTISEMENT:

 

Generiese foto.

“Mense moet wakker skrik - dit is regtig 'n krisis!”

 

Dr Ida Glover, ‘n veearts verbonde aan die kantoor van die staatsveearts, het Dinsdag gesê dat die voorkoms van hondsdolheid in Louis Trichardt nou drastiese afmetings aanneem met nog gerapporteerde gevalle die afgelope week.

In die Zoutpansberger van 31 Julie is berig van die beseerde en sieklike hondjie wat op die N1 opgetel is en na die Louis Trichardt Dierebeskermingsvereniging (DBV) geneem is vir behandeling. Binne 72 uur is die hond dood aangetref waar sy in isolasie by die DBV was. Haar gedrag het dramaties verander en sy het uiters aggressief begin optree. Voor haar dood het sy ook ‘n lid van die DBV gebyt. Dié lid, Alicia Thomas, was baie, baie dankbaar dat haar inentings teen die siekte op datum was, nadat die hond se brein weggestuur is vir toetse en die teef positief getoets het vir hondsdolheid.

Dieselfde dag wat die koerant op straat verskyn het, is berig ontvang dat nog ‘n hond positief getoets het vir die gevreesde siekte, dié keer by Blouberg Dierekliniek. Paar dae later was daar nog ‘n geval by Blouberg gewees van ‘n hond wat al die simptome van hondsdolheid getoon het. Die hond is van kant gemaak en sy kop is weggestuur vir ontleding. Ook dié toetse het positief teruggekom. Onrusbarend genoeg was die laaste twee honde wat positief getoets het vir dié virus (met ‘n bykans 100% sterftesyfer vir mens en dier) welversorgde troeteldiere van mense in die dorp.

Glover het gesê dat die aantal bevestigde gevalle van hondsdolheid in Louis Trichardt kommerwekkend is. “Dit is ‘n amper onmoontlike taak om te bepaal hoe die virus versprei,” het Glover gesê. Sommige glo dit word deur die Gebande Muishonde wat in die area voorkom, versprei. Ander meen die siekte kan selfs deur rondloperkatte versprei word.

“Mense moet wakker skrik. Dit is regtig ‘n krisis!” het Glover gesê. Sy het troeteldiereienaars vermaan dat hulle volgens wet verplig word om elke jaar hulle diere teen hondsdolheid te laat inent. Met ‘n siekte wat feitlik 100% noodlottig is vir mens en dier wat die virus opdoen en nie behandel word nie, is die regsimplikasies duidelik. “As jou hond hondsdolheid en hy byt iemand kan jy jare se moeilikheid kry,” het Glover gesê.

Vir ‘n familie van Bauhiniastraat is dit presies wat gebeur het. Hulle Great Dane, ‘n hond wat nooit uit die erf gegaan het nie en saam met hulle in hul huis gebly het, het die afgelope week ‘n besoeker gebyt. Die persoon het dadelik gegaan vir behandeling teen hondsdolheid. “Dieselfde dag het ons die hond uitgesit. Die mense het ‘n klein dogtertjie, seker van so twee jaar oud. Sy het skaars begin loop. Sy was lief vir die hond. Die familie het die traliewerk van hulle voordeur toegemaak en deur die hek vir die hond staan en kyk. Die dogtertjie het gegaan en haar fopspeen [deur die traliewerk] vir die hond gehou. Die hond het die fopspeen uit haar hand gegryp en, wonder bo wonder, is sy nie raakgebyt nie! Ek het koud geword toe hulle my dit vertel,” het dr. Freddie Harris van Blouberg Dierekliniek Dinsdag gesê.

Alhoewel Harris nog gewag het op die uitslag van die hond se toetse, is hy seker die hond het ook hondsdolheid gehad. “Dit was ‘n mak hond wat saam met die mense in die huis geslaap het, saam met die kinders, en ewe skielik heeltemal mal geword het. Ek bedoel, toe ons daar was, het hy die palissadeheining gegryp en gebyt. Hy het al die plante op die stoep opgevreet en die stoele stukkend gekou. Hy was heeltemal mal!” het Harris gesê.

Volgens Harris het die hond in daardie stadium al vir ‘n tyd snaaks opgetree. “Toe die familie ons gebel het, was dit al so twee of drie dae wat hy snaaks opgetree het en dit net al erger geword het. Dit is ‘n lelike storie,” het Harris gesê.

Harris het gesê dat alhoewel daar maar elke jaar ‘n paar gevalle van hondsdolheid in die streek voorkom, die getal gevalle vanjaar, veral in die dorp, ongehoord is. “Ons kry baie keer gevalle op plase, Levubu se kant toe en in landelike woongebiede, maar in die dorp self so baie gevalle? Dit is ‘n eerste vir my en ek is al 30 jaar hier by die praktyk,” het Harris gesê.

Harris het Glover asook die plaaslike DBV se pleidooie dat mense hul diere moet laat inent, beaam. “Mense moet asseblief seker maak hulle honde is ingeënt. Hierdie is baie ernstig. Dit is nie speletjies nie. As mense nie seker is hulle honde is ingeënt nie, kan hulle eerder die diere weer laat inent. Dit is nou so goedkoop. Ons vra nou R20 ‘n hond. Dit is niks. Dit is slegs die koste van die spuit en die entstof,” het Harris gesê. Hy het bygevoeg dat mense enige tyd hulle troeteldiere kan bring. “Hier sal altyd iemand wees om te help en hulle hoef nie ‘n afspraak te maak nie,” het Harris gesê.

Die plaaslike DBV bied, in samewerking met Blouberg, ook tot 31 Augustus inentings teen hondsdolheid teen R20 per dier by hul perseel op die Vondeling-pad. Die inentings word gedoen by die DBV se Legacy Vet Shop.

 

News - Date: 14 August 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: