ADVERTISEMENT:

 

Kuddebestuurder Joubert Fourie (links) en sy seun AJ van Limpopo Melkery. Foto verskaf.

Limpopo Melkery die beste genetiese melkkudde in die land

 

Limpopo Melkery is so eie aan die Bosveld soos koedoes en kremetartbome. Hierdie bekende familiebesigheid buite Louis Trichardt het onlangs weer opslae gemaak toe hulle beeste tydens die SA Stamboek ELITE 2020 toekennings aangewys is as die beste genetiese melkkudde in die land.

Die melkery spog met net meer as 2 000 Holstein beeste en hulle beesmelkprodukte word oor die hele Limpopo versprei. Vir kuddebestuurder Joubert Fourie is die toekenning voorwaar ‘n pluimpie.

Die “kompetisie” word beoordeel op grond van die data wat boere aan die SA Stamboek Organisasie (SASO) stuur wat as nasionale databasis dien. In Limpopo Melkery se geval trek hulle elke vyf weke melkmonsters by hul koeie. Prestasietoetsing word op die melkmonsters gedoen. Twee keer per jaar kies hulle [SASO] dan die beste resultate in elke streek in die land en wys die beste melkboere in daardie streek aan. Uit hierdie data kies hulle dan weer ‘n klein persentasie van die beste boere landswyd, waaruit die nasionale wenners aangewys word. Die toekennings is geskoei op 2019 se syfers. Beoordeling vind egter nie net plaas ten opsigte van melkkwaliteit nie, maar die hele kuddebestuur, wat talle faktore insluit. Weereens, in Limpopo Melkery se geval, is die Holstein Telersgenootskap se puntegradering vir beeste ook gebruik by die bepaling van die beste genetiese kudde.

“Dit is nie iets waarvoor jy kan inskryf nie. Dit is maar net hulle manier om erkenning terug te gee aan die bedryf elke jaar,” het Fourie gesê.

Om ‘n goeie genetiese kudde op te bou, kom nie oornag nie. “Hierdie goed kom oor ‘n lang tyd. So, ‘n ou wat vandag begin goeie bulle gebruik gaan my nooit vang nie, want ek gaan hom altyd voorbly. As ek 10 jaar gelede begin het om swak bulle te gebruik, sou ons nie nou die toekenning gekry het nie,” het Fourie gesê. Hy het verder verduidelik dat vaste kriteria bestaan waaraan hulle teelproses moet voldoen. “Ons bulsaad voer ons van die beste in die wêreld af in. Dit versterk jou kudde, gee meer melk en maak koeie meer vrugbaar … Wat die genetika betref - dit is maar hoe jy teel. Om die beste bul by die beste koei te sit,” het Fourie gesê.

Opsigself is die toekenning ‘n groot eer vir Fourie. “Dit wys dat jy al vir jare dinge reg doen. Bygesê, ek skryf nie vir ‘n kompetisie in nie. Meeste van die kompetisie waaraan ons deelneem is van ouens wat ons data vat en ons daarvolgens pryse as erkenning gee. Ek hou van sulke kompetisie. Dit is ‘n maatstaaf om te bepaal of ek dinge reg doen of nie,” het Fourie gesê.

Die toekennings word tradisioneel jaarliks gedoen tydens die Bloemfontein Skou, maar weens die Covid-19 pandemie het die skou nie vanjaar plaasgevind nie. ‘n Virtuele prysuitdeling is derhalwe op 25 September gehou. Ander kategorieë waarin toekennings gemaak is, het ingesluit Stoetkudde van die Jaar toekennings vir melkbeeste, vleisbeeste, kleinvee, perde, en ander rasse. Toekennings vir Toetredende Teler van die jaar en 2020 Mentor Teler van die Jaar is ook gemaak.

 

News - Date: 17 October 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: