ADVERTISEMENT:

 

Wyle Marinda Esterhuizen (54). Foto verskaf.

Sterftes duur voort

 

Nog ‘n skok het hierdie week op inwoners van die Soutpansberg gewag met die nuus dat bekende haarkapper Marinda Esterhuizen (54) haar stryd teen Covid-19 verloor het. “Die hemel het ‘n engel ryker geword. Sy was beslis ook ‘n engel op aarde.” So sê Nico (eggenoot), seun Chris en skoondogter Ronél Esterhuizen.

Marinda is in die vroeë oggendure van Maandag, 19 Julie – ‘n halfuur na middernag – in Bloemfontein oorlede. Nadat Marinda in die Zoutpansberg Privaathospitaal opgeneem is en dit duidelik geword het dat sy na ‘n intensiewesorg-eenheid oorgeplaas moes word, het almal begin bel. Volgens Nico het die familie alleen ongeveer 200 hospitale landswyd geskakel op soek na plek vir haar. Teen Sondagmiddag (18de) het dr. Fred Badenhorst laat weet dat daar ‘n opening in Bloemfontein is. ‘n Lug-ambulans van Pretoria (vliegtuig) het haar kom haal. Hulle het plaaslik om 20:40 vertrek en het net ná 22:30 in Bloemfontein geland.

Ongeveer twee weke gelede het Marinda se eerste simptome na vore gekom. Haar stem was hees en later weg. Sy het egter eers met die derde toets positief getoets. Nico sê sy het eers net ‘n loopneus gehad, maar die oomblik toe dit na haar bors gaan, het haar suurstoftelling drasties gedaal. “Ons het selfs vir my ma ‘n suurstofmasjien gekoop,” se Chris.

Marinda Viviers is op 22 Augustus 1966 in Louis Trichardt gebore.  Sy het onderskeidelik in Levubu en Polokwane skoolgegaan. Haar ouers het in Levubu gewoon, waar haar ma ‘n huisvrou was en haar pa het vir SASKO gewerk.

Marinda en Nico het mekaar ontmoet toe Nico, destyds in diens van die Suid-Afrikaanse Polisie, besig was met ‘n ondersoek in Levubu. Hulle is op 25 Mei 1985 getroud. Nٔá hulle huwelik het hulle in Potgietersrus gewoon, waar Marinda reeds ‘n haarsalon gehad het. Chris is in Potgietersrus gebore.  Hy is Nico en Marinda se enigste kind. “My ma het altyd na my verwys as haar ‘goue seun’,” sê ‘n hartseer Chris.

In 1993 het die gesin teruggetrek na Levubu, waar Nico ‘n sekuriteitsbesigheid begin het en Marinda het “Salon Marinda” daar geopen. In 2001 het hulle Louis Trichardt toe verhuis waar Marinda vir 19 jaar die salon van haar huis af bedryf het. Volgens Ronél het Marinda altyd gesê dat sy haar kliënte se “hare geklits” het.

“Vir ‘n beter eggenote, ma vir ons seun en ouma vir ons kleinkinders kon ek nie gevra het nie,” sê Nico. Chris en Ronél is dit eens dat Marinda ‘n baie sprankelende persoon was. “Sy het beslis kliënte en baie ander mense se harte aangeraak. Sy het baie mense gehelp, uitgereik na mense. As sy hoor iemand sukkel, het sy kos bymekaargemaak en vir hulle gestuur,” sê Chris dankbaar oor sy ma. “Ek kan nie onthou dat sy ooit lelik met my was nie, altyd net besorgd en beskermend.” Nico voeg by dat sy vrou gereeld met trots van Chris teenoor kliënte gepraat het.

Ronél en Chris sê dit was vir Marinda die lekkerste as die kleinkinders kom kuier het en sy hulle toegelaat het om te doen wat hulle wil. Sy het ook altyd dadelik gevra wat hulle wil eet of drink. As oupa en ouma vir die kleinkinders gaan kuier het, het sy, sonder uitsondering, altyd vir hulle iets saamgeneem. “Lekkernye, klere, speelgoed – ‘n ware ouma,” sê Chris. 

Marinda was ‘n uitstekende kok en bekend vir haar kookvernuf en lekker kos. “Elke Kersfees het sy beestong met mosterdsous gemaak,” onthou Ronél. “Sy was bekend vir al die souse wat sy kon maak, selfs die ‘Esterhuizensousie’ – ‘n geheime resep!

As haarkapper was Marinda besonder geliefd. Haar kliënte was haar vriendinne. Hulle het nie net ‘n haarsny gekry nie – sy het altyd na hulle geluister, en hulle met raad, koffie en tee bederf.  Kliënte kon nie wag vir die kuier ná die tyd nie. “Baie van haar destydse Levubu-kliënte het haar steeds lojaal ondersteun,” sê Nico. “Wanneer daar van die oumense siek was, het sy ook hulle hare by hulle huise gaan doen. Sy het werklik ‘n groot hart gehad,” sê Chris.  “Sy het ook dikwels van haar kliënte wat dit finansieel nie breed gehad het nie, se hare verniet gedoen,” voeg Nico by.

“Sy het die laaste twee jaar ‘n bietjie gesondheidsprobleme gehad, byvoorbeeld met haar skildklier en het ook ‘n heupvervanging gehad,” sê Chris. Sy het egter moedig voortgegaan met haar werk. “Sy het baie na aan die Here geleef,” sê Chris.

Nico noem dat hulle 36 jaar getroud was. Sy was baie ingestel op detail en het hulle huis baie goed bestuur – nie net met haar vaardighede in die kombuis nie, maar sy was gesteld op ‘n skoon en netjiese huis. Sy was ook lief vir kreatiewe werk en om die tuin mooi te maak. Ronél onthou dat sy byvoorbeeld sou vra of hulle sekere items onthou het as Chris-hulle iewers heen reis. “Sy was voorwaar ‘n steunpilaar vir baie.  Behalwe dat sy altyd ondersteun en aangemoedig het, het sy boonop ‘n baie goeie sin vir humor gehad,” dink Chris bewoë aan sy ma.

Marinda het altyd gesê dat haar kleindogter, Leané (nou slegs 7 jaar oud), die salon by haar ouma sal oorneem. Die familie gaan vir eers net alles wegpak. Hulle opregte dank word uitgespreek teenoor dr. Badenhorst wat uit sy pad gegaan het om reëlings te tref. Al die familie, vriende en kliënte word bedank vir hulle ondersteuning en gebede in hierdie moeilike tyd. Nico wil veral al Salon Marinda se kliënte bedank vir hulle jarelange lojale ondersteuning. “Ma gaan werklik baie gemis word,” sê Chris.

Marinda word oorleef deur Nico, Chris, Ronél en kleinkinders Leané (7), Luan (5) en Rikus (1).

 

News - Date: 23 July 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Pétria de Vaal

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: