ADVERTISEMENT:

 

Een van die verdagtes wat gearresteer is ná die gewapende roof (plaasaanval) op Alldays het die gesteelde selfoon gebruik om foto's van homself met die gesteelde 9mm pistool te neem. Foto verskaf.

Boervrou dankbaar vir weldoeners wat aanvallers help vang

 

‘n Boervrou van die Alldays-omgewing het hierdie week haar nagmerrie-ondervinding met die Zoutpansberger gedeel, nadat sy ‘n paar weke gelede in haar plaaswoning oorval is. Haar verhaal is egter een van dankbaarheid, nie net dat sy oorleef het nie, maar dat die skuldige persone vasgetrek kon word danksy weldoeners.

Om ongeveer 22:30 op die aand van Dinsdag, 1 Junie, was Ansie* nog wakker, toe sy ‘n geluid by die voordeur hoor. Dit het vir haar amper geklink soos ‘n diertjie of iets wat teen die deur vasgehardloop het. Sy het haar 9mm-pistool gaan haal en deur toe geloop om te gaan kyk wat die geluid gemaak het.

Die voordeur was op ‘n skrefie oop. Sy het die deur toegedruk en hom weer probeer sluit, maar het gesukkel. Weereens het sy gewonder of ‘n diertjie moontlik seergekry het en by die venster langs die voordeur uitgeloer. Daar het ‘n man voor die deur gestaan. “Ek het op hom begin skree en twee skote in sy rigting afgevuur, en die man het weggehardloop,” het sy vertel.

Ansie het toe haar buurman gebel en hy het onmiddellik die plaaswag geaktiveer, wat binne minute daar was om ondersoek op die plaas in te stel. Die polisie het ook opgedaag, haar verklaring geneem en ‘n saak van huisbraak is geopen.

Drie dae later, so net ná 16:00 die Vrydagmiddag (4 Junie), het Ansie tuisgekom. Sy het afgebuk in haar bakkie in om haar inkopies uit te laai, en toe sy weer regop kom, het iemand haar van agter af aan haar nek gegryp. Ná die vorige insident het sy haar 9mm-pistool heeltyd met haar saamgedra. Die man het dit by haar afgeneem en sy het begin baklei. “In die proses het ek dit op een of ander manier reggekry om die pistool se glystuk terug te druk en die knoppie te druk om die magasyn uit te skop. Toe sê hy vir my om op te hou, of hy maak my dood,” het sy gesê.

Ansie het toe ophou baklei en vir hom gevra wat hy wou hê, en hy het vir haar gesê hy soek geld. Sy het toe vir hom gesê dat sy nie geld by haar het nie, dat dit op ‘n ander, nabygeleë plaas gehou word en dat sy dit vir hom sou gaan haal. Maar die man was nie te vinde daarvoor nie en het haar in die huis ingedwing terwyl hy haar gesig heeltyd weggedruk en vir haar gesê het om nie vir hom te kyk nie.

Hy het haar direk na die kluise gelei en beveel om hulle oop te sluit. Al wat die een kluis vir hom opgelewer het, was R200. By die volgende kluis wou hy weet of sy vuurwapens het, waarop sy “nee” geantwoord het. “Dit was duidelik dat een van die werknemers op die plaas vir hom inligting deurgegee het, want hoe anders het hy geweet presies waar die kluise was?” 

Ná ‘n paar minute van rondkrap het hy haar hande met haar skoenveters voor haar vasgebind. Nóg kaste is oopgemaak en deursoek, maar die man kon niks vind wat vir hom van waarde was nie. Uiteindelik het hy vir haar gevra of sy ‘n selfoon het, en sy het toe besluit dat sy vir hom iets moes gee voordat hy dalk aggressief begin raak. Sy sê toe ja, en gee vir hom haar selfoon.

Uiteindelik kon Ansie daarin slaag om hom te oorreed dat sy vir hom geld op die ander plaas kan gaan haal, en hy het laat haar gaan – maar nie sonder waarskuwings nie. “Ek het rustig na die oorkantste plaas gestap en my hande op ‘n manier losgewikkel gekry. Toe ek daar aankom, het ek natuurlik dadelik alarm gemaak, en enkele minute later kom byna die hele plaasgemeenskap van Alldays daar aangejaag. Dit was net bakkies en Cruisers en voertuie,” het sy vertel, en hierdie dramatiese toneel het hom toe by haar huis afgespeel terwyl daar na die rower gesoek is.

Die man het egter reeds op die vlug geslaan, maar ná ondersoek het hulle twee verskillende spore gekry. Ansie het voorgestel dat, indien hulle net haar selfoon se ligging kon bepaal, hulle die rower moontlik kon vastrek. Die polisie het egter gesê dat hulle eers ‘n hofbevel sou moes kry vir magtiging om dit te kan doen en dat dit onwaarskynlik was dat dit toegestaan sou word, aangesien niemand ernstig beseer of dood is tydens die voorval nie.

Ansie het toe besluit om Bosveld Misdaad Ondersoeke (BMO) op Thabazimbi te kontak en te hoor of hulle kon help. Op Maandag (7 Junie) het Sakkie Louwrens en ‘n mede-ondersoeker van die organisasie by haar opgedaag om die detail rondom die verskillende voorvalle te verkry, en die volgende dag is ‘n hofbevel aan hulle toegestaan om haar selfoon op te spoor.

In die vroeë oggendure van Donderdag (10 Junie) het Ansie ‘n WhatsApp gekry vanaf BMO wat haar in kennis gestel  het dat ‘n gesamentlike optrede deur hulle (BMO), Alldays se speurafdeling en Alldays se misdaadvoorkomingseenheid te Spykerpark in Alldays gehou is, waartydens vier mans, insluitende die verdagte wat verantwoordelik was vir die huisbraak en roof (plaasaanval), in hegtenis geneem is. Haar selfoon en vuurwapen is onder die verdagtes gevind.

“Ek is bitter dankbaar vir die span by BMO. Hulle vinnige en professionele optrede het my verstom, en hulle het my nie ‘n sent gevra nie,” het Ansie gesê. Sy bedank ook graag al die ander wat ook daar was en ingespring en gehelp het tydens hierdie voorvalle.

Bosveld Misdaad Ondersoeke is ‘n nie-winsgewende maatskappy wat slegs op donasies funksioneer. Vir navrae of inligting oor hulle, kontak vir Sakkie Louwrens by tel. 071 798 7954 of besoek hul Facebook blad. Ansie het die publiek gevra om hulle goeie werk te ondersteun.

*Ansie is nie die vrou se regte naam nie. ‘n Skuilnaam is gebruik om haar identiteit te beskerm.

 

News - Date: 24 July 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Denise van Bergen

Denise van Bergen joined the Zoutpansberger/Limpopo Mirror in November 2020. She has previous experience as a journalist working for Die Pos in Modimolle.

Email:

ADVERTISEMENT: