ADVERTISEMENT:

 

Pétria de Vaal. Foto verskaf.

Wat gemaak as Covid-19 aan jou deur kom klop

 

En so bevind jy jouself in die bed. Mét of sonder ‘n toetsuitslag. Die pestilensie het aan jou deur kom klop. Jou binnekamer geïnfiltreer. Ongeag die hoeveelheid sekondes wat jy telkens hande gewas het, liedjies wat jy gesing het, gesatineer het en maskers getrou gedra het. Jy is dié een wat sosiale afstand by winkels slaafs handhaaf. Jy werk so ver moontlik van die huis af en probeer jou kinders beskerm.

En nou dit. Koerante skryf oor diegene wat die tydelike met die ewige verwissel. Vir ouens wat reeds siek is met die virus is dit sekerlik die mees ontstellende nuus denkbaar. Die oomblik wanneer jy besef jy het die siekte, verander alles eensklaps. ‘n Mens se gemoed gaan deur ‘n reeks emosies.

Eerstens is daar die skok. En almal vra voor die voet: “Nou waar het jy/julle dit opgedoen?” Kan mense nie net ophou om so-iets te vra nie? Altans, dis hoe dit voel. Almal wil aljimmers die oorsaak iewers gaan soek. Meestal weet ons nie. So onlangs as Desembermaand het almal geweet dat iemand by ‘n troue of familiebyeenkoms aangesteek het. Nou word mense siek en jy is uitgelewer aan die stille sluiper.

Tweedens stroom die raad (en selfs rate) in. Elkeen wat hoor jy is siek, weet net nóg ietsie beter. Wat jy moet doen/nie doen nie, drink/nie drink nie, eet/nie eet nie. Elke liewe persoon het seker maar sy of haar eie manier van hulp en ondersteuning aanbied. Gevraagd of ongevraagd. So was daar die dame wat baie pertinent oor ‘n afstand heen ‘n eksotiese sopresep (met uiteraard vreemde, onverkrygbare bestanddele) voorgeskryf het. Dit sou klaarblyklik ‘n tipe penisillien vorm wat genesende effekte het. Die siekte is bekend daarvoor dat jy ‘n aversie teenoor eet in die algemeen ontwikkel. Boonop is die effek daarvan om met kos te werk rampspoedig. En as niemand anders die kos kan voorberei nie, is ek bevrees kan die eksotiese sop nie die tafel haal nie. Die dame se poging om selfs restourante se nommers aan te stuur wat moontlik die sop sou kon voorberei en aflewer, het op dowe ore geval. Want sien, ‘n mens is PAP. Jy is meestal sonder ‘n behoorlike stem. Jy kan skaars opstaan om badkamer toe te sukkel – wat nog te sê rondbel vir sop?

Ander rate sluit in: fyngekapte uie in ‘n sakkie op die bors vir benoudheid; kossoorte met ‘n PH hoër as die virus wat geëet moet word; ‘n verskeidenheid vitamines; ‘n gesittery in die son elke dag, en nog baie meer.

Die onsekerheid slaan derdens toe. Vrae skiet jou gemoed te binne, soos: Is my longe sterk genoeg om hierdie siekte hok te slaan? Het ek enige onderliggende siektetoestande waarvan ek nie bewus is nie? Sal ek uit die hospitaal kan bly? Tel my ouderdom teen my? Hierdie vrae bly onbeantwoord. Nie jou huisdokter of Google of enigiemand anders kan jou die versekering gee dat jy OUKEI sal wees nie. En as iemand dit waag om te sê “jy sal OUKEI wees”, dan voel ‘n mens kwaad. Wat weet só en só nou eintlik van my gesondheid?

Onsekerheid veroorsaak angs en depressie. Niemand kon ‘n mens hierop voorberei nie. Jy wil nie angstig en depressief raak nie – dit gebeur net.

Vierdens tref dit jou soos ‘n bliksemstraal dat almal met wie jy in aanraking was ingelig sal moet word. Hulle sal moet isoleer. En jy voel skuldig en sleg en aaklig as mense hulle besighede moet sluit of in aanraking met bejaardes was.

En dan die vreesagtigheid vir al wat ‘n ding is. Ja, dis goed en wel om raad oor kalmte aan te hoor. Dis wonderlik as mense vir jou bid – ja, dit is werklik gerusstellend. Maar kleinighede ontstel. Soos die doktersinstruksie wat sê dat jy kort-kort jou saturasie moet meet. Dit moet tog net nie onder so en so ‘n lesing gaan nie … weet enigiemand dat daardie klein metertjie wat jou vinger vasknyp naderhand soos ‘n monster begin lyk? Weet enigiemand dat ‘n effens te lae lesing vrees inboesem?

‘n Radiopraatjie en traumatoloog bevestig dat hierdie siekte jou emosies laat wipplank ry. Dat jy moet wegbly van sosiale media en diegene wat paniek saai. En bowenal wegbly van slegte nuus. Makliker gesê as gedaan in hierdie onstuimige tye.

Die goeie nuus is dat, wanneer jy fisies begin beter voel, die gemoed ook ‘n bietjie lig. Soms eers dae later. Maar dit gebeur wel. Hou vas aan dié wat bemoedig, wat vrolik bly, wat engele is en voorrade aflewer. Wat bel om te ondersteun en nie noodwendig voor te skryf nie.

Bly weg van diep, donker nuus oor sosiale media. As iemand ‘n video aanstuur van oproer, hou verby, vee uit. Fokus op geloofwaardige nuus op die regte platforms. Kry jouself eers fisies en emosioneel sterk genoeg. Bekommernis en addisionele ontsteltenis veroorsaak stadiger herstel. Dis nou as ek ‘n stukkie raad mag gee. Jy kan in elk geval nie nou opstaan en die motor vol brandstof gaan maak of voorrade aankoop nie. Rus genoeg en aanvaar dat dit ‘n lang proses is. Verpligtinge, werk en belangrike besluitnemingsprosesse moet nog ‘n paar dae wag. Moet jouself onder geen omstandighede dwing om dinge te doen wat kan wag nie. Vir besige mense is dit moeilik, maar moontlik en noodsaaklik.

 

News - Date: 25 July 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Pétria de Vaal

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: