ADVERTISEMENT:

 

Die 27-jarige Trevor Gumbo bly steeds in aanhouding in afwagting op ‘n beslissing in sy borgaansoek. Foto verskaf.

Verdagte in Pauer-moord bly steeds in aanhouding

 

Die Zimbabwiese man wat aangekeer is vir die koelbloedige moord op die 80-jarige me. Marthie Pauer van Louis Trichardt het op Dinsdag, 12 Oktober, weer in die hof op Louis Trichardt verskyn ter afhandeling van sy borgaansoek. Die 27-jarige Trevor Gumbo se saak is egter uitgestel tot Maandag, 18 Oktober, vir ‘n beslissing ten opsigte van sy borgaansoek. Tot dan bly hy steeds in aanhouding.

Pauer, ‘n bekende boer en sakevrou van die Soutpansberg, is laas lewend gesien op Woensdag, 22 September. Haar liggaam is Donderdagaand, 23 September, in ‘n plas bloed in haar huis in Louis Trichardt ontdek. Sy het verskeie diep wonde gehad. In hierdie stadium word vermoed dat sy reeds die vorige aand vermoor is, nadat sy teruggekeer het van ‘n ete-afspraak met ‘n vriendin.

Van die begin af was Gumbo die hoof verdagte in die moordsaak. Hy het vir Pauer in die tuin op die familieplaas in die Waterpoort-omgewing gewerk, asook in die tuin by Pauer se huis in Louis Trichardt. Gumbo se dienste is egter beëindig nadat Pauer-hulle hom blykbaar gevang het dat hy steel. Hiervoor het Pauer hom laat aankla by die polisiestasie op Waterpoort, ‘n klag waarvoor hy gearresteer is en in die hof verskyn het. Hy is tydens sy hofverskyning op R1 000 borg vrygelaat.

Gumbo het daarna klaarblyklik uit woede met ‘n terreurveldtog teen Pauer-hulle begin. Junior, Pauer se seun wat as adjudant-offisier in diens is by die polisie op Waterpoort, het vertel dat, sowat ‘n week nadat Gumbo op borg vrygelaat is, hy en sy ma een aand in die plaashuis gesit het. Skielik was daar ‘n klop aan die deur en toe Junior oopmaak, het Gumbo hom na bewering met ‘n byl oor die kop gekap en gevlug. Wonderbaarlik het Junior oorleef. ‘n Week of wat voor die moord is Gumbo in ‘n buitetoilet betrap waar hy by die 80-jarige Pauer se huis op die dorp weggekruip het. Hy het egter arrestasie ontduik.

Uiteindelik was dit die vermoorde Pauer se Toyota Hilux bakkie wat Gumbo se lot sou verseël. Die bakkie en Pauer se handsak en selfoon was al wat vanaf die moordtoneel vermis was. Op Saterdag, 25 September, is Gumbo in Musina gearresteer nadat inligting ontvang is dat hy blykbaar die bakkie probeer verkoop het. Hy is ná sy arrestasie na die polisieselle op Louis Trichardt gebring, waar hy Dinsdag, 28 September, in die hof verskyn het. Sy saak is uitgestel tot 4 Oktober en toe weer tot 12 Oktober hierdie week.

Intussen worstel Pauer se seun Junior steeds met sy ma se dood. Hy het Maandag gesê dat hy in hierdie stadium nie kans sien om die hofverrigtinge by te woon nie, tensy hy as getuie geroep word.

 

News - Date: 14 October 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: