

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 October 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Drie bekendes van die dorp is die afgelope paar dae oorlede.
Die drie gesigte wat deur die gemeenskap gemis sal word, is mnr. Pieter van den Berg (60), mnr. Peet Grobler (79) en me. Estelle Franklin (43). Die eerste twee persone is aan natuurlike oorsake dood.
Mnr. Pieter van den Berg het Woensdag, 13 Oktober, inmekaargesak toe hy saam met ‘n groep van Pretoria Girls High die berg by Schoemansdal uitgestap het. Hy was bekend vir die kursusse wat hy vir skole, die jeug en ander groepe in omgewingsopvoedkunde en leierskap aangebied het.
Die kinders sê dat oom Pieter hulle vertel het van sy liefde vir die natuur, vir kinders en hoeveel nader hy aan God voel as hy in die natuur is. Ongeveer 500 meter van bo het oom Pieter gestop, uitgereik na ‘n boomtakkie en inmekaargesak. Die kinders het dadelik begin met hartmassering en mond-tot-mond asemhaling. Een meisie het kilometers ver gehardloop om hulp te ontbied. Die nooddienste het opgedaag en hy is na die hospitaal geneem, waar hy dood verklaar is.
Mnr. Van den Berg, wat oor ‘n meestersgraad in Ekonomie en Kosteberekening beskik het, was betrokke en het leiding geneem in baie fasette van die samelewing, soos die onderwys, kerk, kultuurorganisasies, landbou en besigheid.
Hy het skoolgehou by Kwevha Handelskool en die Tshilidzini skool vir gestremdes waar hy waarnemende hoof was. Nadat hy afgetree het, was hy betrokke by die Schoemansdal Omgewingsopvoedingsentrum.
Die alombekende Pieter van den Berg was vir meer as 20 jaar betrokke by die Voortrekkers, ook as kommandoleier. Hy het twee spesiale medaljes ontvang van die Voortrekkerbeweging vir uitstaande diens aan sy medemens en volk op provinsiale en nasionale vlak.
By die kerk het hy diens gelewer as ouderling, kategeet en komissievoorsitter. Die familie skryf dat Pieter hulle maar net “vooruitgegaan het uit ‘n aardse wêreld na ‘n ewige heerlikheid...”
Mnr. Van den Berg word oorleef deur sy vrou, Cora, en vier kinders, Frik, PC, Stéhann en Carolien. ‘n Roudiens is op 18 Oktober deur ds. Willem Boshoff waargeneem vanuit die N. G. Kerk Louis Trichardt-gemeente.
Maandag, 18 Oktober, was ook die dag waarop mnr. Petrus Cornelius Grobler, bekend as oom Peet, gesterf het, vermoedelik aan hartversaking. Oom Peet is op 10 Oktober 1925 in Louis Trichardt gebore. Hy het dus pas sy 79ste verjaarsdag gevier. Oom Peet was ook bevoorreg om saam met sy vrou, Marietjie, hulle 55ste huweliksherdenking te vier op 8 Oktober.
Mnr. Grobler was ‘n bekende inwoner van die dorp wat ook hier skoolgegaan het. Nadat hy jarelank in Musina in die myn werksaam was en ook geboer het, het hy die laaste klompie jare weer in Louis Trichardt gewoon.
Sy familie sal oom Peet onthou as ‘n persoon wat onder moeilike omstandighede baie hard gewerk het en soveel opgebou het dat hy selfversorgend kon wees. Hy het as ongeskoolde in die myn homself opgewerk en twee groot plase, Elberveldt en Evelene, opgebou en later verkoop .
Wyle mnr. Grobler word Vrydag, 22 Oktober vanuit die Nederduitsch Hervormde kerk begrawe; ds. Philip Horn sal die diens waarneem.
Mnr. Peet Grobler word oorleef deur sy vrou, Marietjie, vier kinders, Ria, Pieter, Rita en Joekie. Hy laat ook 11 kleinkinders en vier agterkleinkinders na.
‘n Dag voor oom Peet se dood, is die Franklin-familie diep geskok oor die afsterwe van Estelle wat Sondagoggend (17de) dood in haar kamer aangetref is.
Estelle se pa, mnr. Oliver Franklin, het Sondagoggend gewonder waarom Estelle so laat slaap, want dit was glad nie in die hardwerkende Estelle se aard nie. Omstreeks 09:45 het hy in haar kamer ingegaan waar hy Estelle op die vloer agter die deur aangetref het.
“Sy was reeds yskoud,” het ‘n erg geskokte mnr. Franklin Dinsdag (19de) gesê.
“Dit is vir ons ‘n verskriklike skok. Estelle was die ruggraat van ons familie. Sy het met alles gehelp en haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie.”
Estelle het geen nota agtergelaat nie. Mnr. Franklin sê dat sy dogter wel ‘n baie stresvolle tydperk deurgegaan het. Buiten die lang ure wat sy uithuisig was met haar werk op die lugmagbasis as skakelbordoperateur, het sy ook nog die versorging van haar invalide moeder op haar geneem.
Tydens die gesprek kom Boelie, Estelle se lieflinghond in die sitkamer en blaf kwaai. “Hy wil nou gaan speel,” sê mnr. Franklin. Hy vertel dat hy die Saterdagnag ligte blaf- en tjankgeluide vanuit Estelle se kamer gehoor het. Hy het aanvaar dat Boelie en Estelle weer stoei vir ‘n plek op haar bed, soos wat dikwels gebeur het.
Volgens Estelle se broer vermoed hy dat sy tussen 14:00 en 14:30 moes gesterf het. Die presiese oorsaak van haar dood word nog vasgestel.
Estelle Franklin, gebore 22 Oktober 1960, word op 22 Oktober begrawe. Dit sou ook haar 44ste verjaarsdag gewees het. Die begrafnis vind om 11:00 plaas vanuit die Afrikaanse Protestante Kerk en die diens word waargeneem deur ds. Leon du Toit.
Estelle word oorleef deur haar vader, Oliver, haar moeder, Sara en twee broers, Oliver (jnr,) en Josef.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
