ADVERTISEMENT:

 

Wyle mnr. Follie van Zyl (54).

Rugbylegende van Soutpansberg sterf

 

News  Date: 17 July 2009

 

Die nuus van die skielike dood van top Musina-sakeman mnr. Follie van Zyl het hierdie week die Soutpansberg-gemeenskap geruk. Hy is Dinsdagaand in die ouderdom van 54 jaar oorlede.

As sakeman het Van Zyl die afgelope 28 jaar Messina Associated Carries (MAC) uitgebou as beide ‘n nasionaal- en internasionaal-bekende vervoermaatskappy. Hy het ook soortgelyke sakebelange in Ellisras en Witbank gehad, met eiendomsbelange in onder meer Musina, Knysna en Pretoria.

Alhoewel Van Zyl ‘n uitsonderlike sakeman was wat respek op alle terreine van sy lewe afgedwing het, was dit egter sy liefde vir rugby wat hom in lewe reeds ‘n legende gemaak het.

“As Limpopo rugby ‘n Danie Craven kon gehad het, sou dit Follie van Zyl gewees het,” het jarelange vriend mnr. Werner Engelbrecht gesê. Ook vir hom was die nuus van sy vriend se dood ‘n skok.

“As vriend en spesiale maat kan ek sy verlies nie beskryf nie,” het En-gelbrecht gesê.

Van Zyl se lewe het getuig van ‘n absolute passie vir rugby. Deur die jare het hy letterlik miljoene rande in tyd en geld in dié sportsoort ingeploeg, vanaf skole tot op provinsiale vlak. Hy het baie kilometers agter rugby aangery en het geen moeite ontsien om ‘n rugbyspeler te help as hy probleme gehad het nie. Van Zyl het selfs jong seuns se skoolgeld betaal, sodat hulle skool kon klaarmaak en hul loopbaan in rugby kon bevorder. Vir jare lank was hy ook hoofborg van die MAC Musina Rugbyklub.

“Hy het baie beteken vir klubrugby, asook provinsiale rugby. Sy teenwoordigheid in rugby en in elke mens se lewe wat hy aangeraak het was iets spesiaal gewees. Hy was ‘n mens met integriteit en ook ‘n vader vir sy rugbyseuns. Ons sal hom altyd onthou vir wie en wat hy was!” Dit was die woorde van MAC Musina Rugbyklub voorsitter mnr. Robbie Human.

Van Zyl het nie net opgetree as borg van die MAC Musina Rugbyklub nie, maar was in die verlede ook borg van die Vhembe sub-unie rugbyspan, die Limpopo provinsiale Amateurspan en Limpopo Provinsiale Plattelandse span. Op bestuursvlak was hy verlede jaar vise-president van die Limpopo Blou Bulle Rugby-unie, en voor dit het Van Zyl die unie se finansiële sake behartig.

“Follie se passie vir rugby was enig in sy soort. Hy het rugby gelewe,” het Engelbrecht gesê. Hy onthou met goeie herinneringe die keer toe die Blou Bulle-rugbyspan op Van Zyl se plaas, Cassel, kom oefen het op ‘n volledig-toegeruste rugbyveld met fasiliteite wat hy spesiaal daar laat bou het vir spelers om op te oefen.

Op ontwikkelingsvlak het Van Zyl ook ‘n geweldige bydrae tot die sport gelewer. Hy was intens betrokke by rugbyontwikkeling by die Universiteit van Venda om dié sportsoort ook in die swart gemeenskap te bevorder.

“Dit was vir hom lekker om verskillende gemeenskappe om ‘n rugbyveld bymekaar te bring en te sien hoe hulle dit geniet,” het Engelbrecht gesê.

“Sy dood is ‘n groot skok vir sy familie en vriende en ‘n geweldige verlies vir die gemeenskap. Hy het in sy leeftyd vir talle mense baie beteken en was ‘n man wat verskriklik lief was vir sy gesin,” het Van Zyl se swaer, mnr. Danie van Ryneveld, Woensdag gesê. Teen druktyd was daar nog geen begrafnisbeson¬derhede bekend nie, behalwe dat hy op sy eie versoek op sy plaas be-grawe word. Van Zyl word oorleef deur sy eggenote Santa (met wie hy 35 jaar getroud was), seun Follie en dogter Karlien.

“Hy was ‘n besonderse mens,” het Van Ryneveld gesê.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines