

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 March 2010
Een van die grootste slaggate waarin werkgewers in Limpopo se gasvryheidsbedryf trap, is om hul werkers volgens die verkeerde sektorale vasstelling te plaas, sê Arbeidskonsultant Francois Hugo.
Hugo, wat wyd in Limpopo konsulteer, het die Lephalale Gemeenskapstoerisme-assosiasie verlede Donderdag oor arbeidsgeleenthede toegespreek.
Die minimum lone vir plaaswerkers en huisbediendes is aansienlik minder as dié van werkers in die gasvryheidsbedryf en werkgewers moenie die fout maak om hul werkers op landbou of huishoudelike minimum vasstelling te betaal nie – dis onwettig, waarsku hy.
Hugo voeg by dat die wet in dié verband baie duidelik is.
“Wanneer jy ‘n gastehuis bedryf of ‘n herberg (lodge) op jou wildsplaas het, is jou werkers gasvryheidswerkers en moet hulle so betaal word, selfs die persoon wat gras sny of die vrouens wat wasgoed was, maar nooit met gaste te doen kry nie,” het Hugo gesê.
Maar daar is darem bietjie grasie binne in hierdie vasstelling. Die wet maak ruimte vir twee soorte werkgewers, vertel Hugo. Besighede wat minder as 10 werkers in diens het, moet hul werkers net R9,45 per uur betaal terwyl besighede wat meer as 10 werkers het ‘n minimumloon van R10,53 per uur moet betaal.
Die tendens in die akkommodasiebedryf is dat daar op 12-uur skofte gewerk word en ook hier kan die kleiner besighede voordeel trek. Vir oortyd, behalwe op Sondae, betaal die besigheid met minder as 10 werkers net een en ‘n derde maal vir hul oortyd, terwyl die een en ‘n halfmaal betalingsreël vir groter besighede geld.
Hier sê Hugo dit is belangrik om seker te maak werkers wat eerder tyd af neem as geld, ook een en ‘n derde of een en ‘n halfmaal hul tyd af kry.
Oor Sondae sê hy dat werkers wat op ‘n gereelde basis op ‘n Sondag aan diens is, een en ‘n half keer die normale vergoeding kan ontvang soos per gewone oortyd, maar enige ander werker wat nie gereeld op ‘n Sondag moet diens doen nie, moet dubbel vergoed word.
Hugo beveel ook aan dat werkgewers hulle werkers op ‘n uurlikse loonstelsel vergoed.
“As ‘n werker ‘n vasgestelde loon per maand verwag en daar word dan geld afgetrek omdat hy of sy dalk ‘n paar ure te min gewerk het, het dit ‘n negatiewe konnotasie vir werkers,” sê Hugo.
“Maar as ‘n werker per uur beloon word, het dit ‘n positiewe konnotasie omdat die ure gewerk bymekaargetel word en dit iets is om na te streef eerder as iets om te vermy, soos in die geval van ure wat gemis word.
Hugo glo ‘n dienskontrak wat reëlings soos werksure, etenstye, oortyd ensovoorts duidelik stipuleer, is noodsaaklik vir goeie arbeidsverhoudinge. Daarnaas sê hy werkgewers moet konsekwent wees in die toepassing van die arbeidswet en die aanwending van die ooreenkomste binne in ´n wettige dienskontrak.
Hugo het hom ook sterk uitgelaat oor fooitjies wat werkers in die gasvryheidsbedryf kry.
“Moenie daar inmeng nie,” waarsku hy. “Laat dit ‘n saak tussen ‘n werker en die gas wees. Dit is nie deel van jou werker se besoldiging nie en het niks met jou uit te waai nie. Moenie eens buitelandse valuta vir jou werkers wissel nie; laat hulle dit self uitsorteer.”
Hugo het afgesluit deur werkgewers te maan om nie die sogenaamde proeftydperk te gebruik om werkers seer te maak nie.
“Gaan deur ‘n ordentlike keuringsproses met jou aanstelling, dan is daar nie so iets soos ‘n proeftydperk nodig nie.”
Hy wys ook daarop dat ‘n proefbeampte aangestel moet word om ‘n wettige proeftydkontrak te gebruik. Dit kos jou dus dubbel.

ADVERTISEMENT:
